Laaste FK Specimen-spesiekompetisie in huidige formaat

SPESIEKOMPETISIENUUS

WOORDE: Riaan ‘Alleman’ Riekert | FOTO’S: Verskaf deur FK Specimen

Vroeg November en die dag het aangebreek vir die laaste FK Specimen-spesiekompetisie van 2022. Dit is en was ook die laaste een in sy huidige formaat aangesien die kompetisie volgende jaar ‘n splinternuwe baadjie gaan aantrek, maar daarvan vertel ek julle later bietjie meer.

Ek en my span van Die Oewerhengelaar het besluit om ‘n dag voor die tyd te gaan om bietjie swartbaars te teiken en om die gejaag van die dag van die kompetisie te vermy. Aangesien die hoofoewer by Waterwese gesluit was vir die FK Specimen-spesiekompetisie het ons die baars agter die wal in die rivier gaan teiken. Ek en my een spanmaat, Hugo du Plessis het die baars een na die ander geland en dit het die tyd lekker vinnig laat verbygaan. Met ‘n dag se lekker hengel agter die rug het ons gaan rustig raak by die kamp en lekker gekuier saam met medehengelaars en natuurlik Freddie Koch, hooforganiseerder van die kompetisie. Freddie het ‘n groot passie vir hengel en dit wat hy terugploeg vir die sport kan mens nie in woorde beskryf nie.

Agter die skerms werk Freddie se vrou Tilla kliphard om seker te maak die tafels en die kos is reg. Heelwat van die spanne het dieselfde idee as ons gehad om ‘n dag vroeër te kom en ons almal het lekker saam gebraai en gekuier. Ons het egter vroeg gaan inkruip met die wete dat ons die volgende twee aande nie veel slaap gaan inkry nie.



Vroeg Vrydagoggend en daar is ‘n feestelike gevoel in die lig soos al die ander spanne arriveer, stories word gedeel en nuwe vriendskappe word gevorm. Half nege het aangebreek en ons almal het gaan sitplek inneem in die saal om die pentrekking en verwelkoming te doen. Die pentrekking werk as volg, eers trek elke span ‘n nommer om te sien in watter volgorde hulle trek vir ‘n pen. Baie spanne was opgewonde oor die penne wat hulle getrek het en ander nie so opgewonde nie, maar ja, soos die Engelsman sê, “The luck of the draw”. Met die pentrekking agter die rug is ons bederf met heerlike boereworsrolle en geborgde braaihout en het almal hulle weg gevind na hulle onderskeie penne.

Die opslaanproses was egter so bietjie van ‘n uitdaging aangesien die weer nie so lekker saamgespeel het nie, ons het maar gewag vir die reën om verby te gaan alvorens ons die kamp staangemaak het. Met die reën agter die rug en die kamp opgeslaan was dit tyd om voor te berei vir die naweek se hengel. Die kompetisie begin amptelik Vrydagmiddag om 13:00 en lyne-op is Sondagoggend stiptelik om 10:00. Die hengelaars mag slegs van die spesiemetode gebruikmaak. FK Specimen-spesiekompetisie se reëls is streng maar duidelik, en elke span se boot word noukeurig nagegaan om seker te maak hulle voldoen aan die vereistes. Op die einde van die dag is ‘n mens se lewe belangriker as om net groot visse te vang. 


Elfuur het aangebreek en die bote is toegelaat om op die water te gaan om te gaan verken. In Roodekoppies is dit ideaal om rotsplate te soek waar die karpe lief is om te wei. Ongelukkig het die deel van die oewer waar ons gehengel het nie veel sulke struktuur gehad nie, maar ons het darem baie dele met harde bodem gehad. Eenuur het aangebreek en Freddie het die sirene gelui, die bote het weggespring met ‘n gejuig om lyne in die water te kry, die kompetisie was amptelik aan die gang en nou begin die wag vir daardie groot karp. Danksy al die borge was daar verskeie pryse op die spel. Grootste karp algeheel, grootste karp by die dames, grootste spieëlkarp en dan natuurlik die swaarste sak waarvan net drie visse tel. Geen vis onder 8kg word geweeg nie, so dit maak dit bietjie meer uitdagend. 



Dag een het bietjie stadiger begin as die vorige kompetisie wat in Augustus by dieselfde oewer plaasgevind het. Ons almal is op ‘n groep gelaai en daar kan ons elke keer sien as daar ‘n weegvis geland word. Freddie-hulle het die keer regtig baie moeite gedoen en daar was ook ‘n lewendige telkaart-toepassing gewees wat ons almal mooi op hoogte gehou het van die voorlopers. Een van die gereelde gesigte by Freddie se kompetisies, Moe Jala en sy span, het vroeg uit die blokke gekom en die voortou geneem. Hulle het die busse op reëlmaat geland en was vir seker die span om te klop. Die groep het begin gons en oral het die vis stadig begin uitkom. Aand een het aangebreek en ons gedeelte van die oewer was baie stil teenoor die ander, maar dit het ons egter nie van stryk af gebring nie en ons het hard bly werk. Saterdagoggend het aangebreek en met meeste spanne wat min slaap ingekry het gaan dit ‘n harde dag wees, maar die gees is egter steeds goed en almal is reg vir die dag.



Daar het heelwat vis deur die loop van die aand ingekom, maar span Moe Jala was steeds die voorlopers. Ons het egter nog met ‘n mombakkie gesit wat gelukkig binnekort vir ons sou verander. Hugo du Plessis het vasgemaak met ‘n pragtige karp van 11,90kg en ons het nuwe moed geskep in moeilike omstandighede. Die weer sou egter weer sy verskyning maak en kort nadat ons eerste vis geland is, was die kompetisie vir twee ure gestop weens weerlig. Dit was egter die beste besluit aangesien ons lewens meer werd is. Laataand is die kompetisie weer hervat, die visse was aanvanklik bietjie stil na die storm maar het later weer aktief begin raak. Laaste lyne is twaalfuur ingevat en ons het bietjie gaan skuinslê in afwagting vir daai bus om die alarm te laat skree. 

Sondagoggend het aangebreek en van opgee was daar geen teken nie. Ons het al die lyne weer vars ingevat met die hoop op daai monster so in beseringstyd. Die geluk was ongelukkig nie aan ons kant nie, maar ten minste gaan ons nie met ‘n mombakkie huis toe nie. Tienuur het aangebreek en Freddie het die sirene laat skree wat die einde van nog ‘n suksesvolle FK Specimen-spesiekompetisie aangedui het. Ons het egter al vroegoggend die kamp begin opslaan, so ten minste was dit nou net boot en stokke wat gepak moet word. Met alles gepak het die spanne hulle weg gevind na die saal by Waterwese vir die afsluiting en prysuitdeling.


Weereens was Freddie en sy span vol verrassings en ons het weggelê aan heerlike pregorolletjies voor die formaliteite begin. Die seremoniemeester was niemand anders nie as Johan Hopley, ‘n alombekende naam in die karpfaset. Daar was ook ‘n baie goeie rede hoekom hy daar was. Johan het die nuus met ons kom deel dat ons, as spesieboothengelaars, van 2023 af Proteakleure kan verwerf in die faset. Al die finale reëlings sal nog deurgegee word in die maande wat kom, maar ek kan solank vir julle sê dat die FK Specimen-spesiekompetisiereeks gebruik sal word as ‘n liga om die spankeuse te maak. Die saal het gegons en almal is opgewonde oor die feit dat ons uiteindelik ook erkenning gaan kry in die faset.

Met die goeie nuus agter die rug was dit tyd vir besigheid en al die wenners is aangekondig. Ek wil namens Freddie en sy span vir al die borge en hengelaars baie dankie sê, sonder julle is so naweek nie moontlik nie. En dan glo ek ek praat namens elke span en hengelaar, dankie Freddie vir dit wat jy en jou span vir spesiehengel in Suid-Afrika beteken, ons almal sien uit na 2023! Soos ek altyd sê: “Waar is dit lekker? Hier is dit lekker!”



Pryse

GROOTSTE KARP

  1. Moe Jala – 16,15kg.
  2. Louis Brits – 14,22kg.
  3. Wayne Malan – 13,73kg.

DAMES GROOTSTE KARP

  • Shavaun – 13,12kg.

GROOTSTE SPIEËLKARP

  • Danny Pretorius – 11,20kg.

SWAARSTE SAK

  • Team Specimen Tackle – 36,59kg.




The latest print edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR  is now available in retail and selected angling stores!

0 0 votes
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x