Bank AnglerCarp

Wanneer die land weer oop is vir hengel… Lochvaal Se Vlotboot Karpe

‘n Pragtige Vlotboot geborg deur Delta Marine in Vereeniging was aan ons beskikbaar gestel om vanaf te hengel – die “Watermark 5000 SF” vlotboot met sy 50 perdekrag Yamaha buiteboord enjin is ‘n gemaklike en veilige platvorm om die Vaalrivier se prag-karpe vanaf te teiken…

LANSEERPLEK

Voordat enige hengel kan plaasvind is dit natuurlik nodig om eers ‘n lanseerblad te vind om die pragtige vlot op die water te kry. In die omgewing van Vanderbijlpark is daar gelukkig baie sulke plekke en ons was met ope arms ontvang by die pragtige Loch Vaal Bootklub. Hulle lanseerblad waar ons die boot kon lanseer is baie mooi en netjies en het lansering van die boot in ‘n japtrap verseker.

PERDEKRAG

Die 50 perdekrag Yamaha buiteboord motor waarmee die boot toegerus word klink dalk na ‘n vulletjie in terme van spoed en krag, maar ek kan julle verseker dat die Yamaha motor meer as genoeg spoed verskaf om met gemak op enige rivier te reis! Die middag met die terugkom slag het die wind behoorlik gewaai en die water soos ‘n klitser geskommel, maar die 50 perdekrag was meer as genoeg om selfs in die sterk wind die boot met al die gerei maklik te vervoer.

HENGELSPASIE…

Die boot is toegerus met 4 gemaklike stoele wat ook maklik verwyder kan word indien meer spasie benodig word; ‘n stoel aan die voorkant van die beheer-konsool asook ‘n bestuurderstoel dien as addisionele sitplek. Daar is genoegsame “tafels” met ‘n groot blad aan die agterkant van die vlot met toegang tot ‘n waterpomp met ‘n sterk spuit om die nodige te was. (Dit is veral van pas vir hengelaars om hul hande te was.)

Die boot beskik oor meer as genoeg spasie om gemaklik vanaf te hengel en steeds die luuksheid van die boot ten volle te geniet.

TEGNOLOGIE

Sonder tegnologie sou ons seker vandag nog met slingervelle, skerp stene en hout pyle ons alledaagse brood moes oes, maar gelukkig het die mensdom gevorder en vir hengelaars wat van bote af hengel is ‘n visvinder nie ‘n onbekende gesig nie. Ons was bevoorreg om een op die boot te installeer sodat ons met gemak die dieptes, kontoere en beste hengelareas kon identifiseer. Die Lowrance HDS Gen 2 het optimaal funksioneer en vir ons presies gewys wat onder die water skuil.

ANKER

Nadat ons die beste hengelarea geïdentifiseer het met behulp van die visvinder, was dit tyd om die boot vas te anker. Nie minder nie as 4 ankers word gebruik om die vlot behoorlik te anker, en dit sal verkeerd wees van my om nie vir Werner Lubbe te bedank vir die manier waarop hy die ankerproses deurdink het nie – dankie Werner! Plat ankers word op elke hoek van die boot uitgesit om sodoende dit stabiel te hou ongeag die weersomstandighede. Goeie anker metodes is van kardinale belang om jou hengelsessie te vergemaklik en sukses te verseker.

LOCHVAAL KARPE

Vir diè wat nie weet nie, Lochvaal is ‘n gedeelte van die Vaalrivier wat opgedam word deur ‘n wal in die rivier wat die water terug hou en sorg vir ‘n opvanggebied wat soos ‘n dam beheer word. Dit is dan natuurlik ‘n baie goeie plek vir vis om in te floreer en die opdamming skep as te ware eintlik die perfekte habitat vir ons visspesies, veral karp. Met baie plantegroei en riete wat in die water staan is die natuurlike voedselbronne ook volop en dus ‘n refleksie op die vis se goeie kondisie. Met die sessie was die karpe hard besig om kuit te skiet (“spawn”) en daarom het die visse wat ek geland het baie skaafplekke en merke aan hul lywe getoon, maar die algemene kondisie was goed en die visse spekvet. 

BENADERING…

Om vanaf ‘n vlotboot te hengel is ietwat anders as om vanaf die oewer te hengel, en uit die aard van die saak is dit nie nodig om baie ver te gooi nie, daarom is lang stokke, groot katrolle en dun lyn ook nie nodig nie en kan ‘n 8vt stok, 2500 grootte katrol en 10lb of 0.25mm lyn gebruik word. Ek het my gewone stroppe soos wat ek vir oewerhengel gebruik saam geneem, maar na hierdie ondervinding sal ek in die toekoms eerder slegs met 1-hoekstroppe met heelwat dikker hoeklyne as die normale 0.21mm of 7lb sal hengel omrede die visse baie harde vegters is en vinnig struktuur soek nadat hulle die aas opgeraap het.

MIELIES & VOER

Buiten die gewone aas soos deeg en floaties, is dit belangrik om te dink oor die voer en die voermetode wat gebruik gaan word om die rivier karpe te lok. Ek gebruik gewone popcornvoer waarby ek dan harde geelmielies voeg om vir die vis iets te gee wat hulle nie maklik kan vreet nie maar steeds geïnteresseerd bly. Dit is egter baie belangrik om die harde mielies in water te lê vir 24 uur sodat dit nie kan ontkiem in die vis se maag nie. Geelmielies is van die beste voer om te gebruik wanneer vanaf ‘n boot gehengel word, en is een van die maklikste ase om te gebruik – soos reeds genoem meng ek dit met sagte popcornvoer en dan gooi ek 10 bolle op elke kol waar ek wil hengel. Dit vorm dan ‘n baie mooi voerbed waarop die karpe kan “in zoom” en hopelik jou aas optel!

HOEKAAS & GEURE

Dit is raadsaam om rond te speel met hoekase maar die gewone aanbieding van ‘n wit floatie met ‘n klein wit degie daaragter is voldoende om die karpe te vang. Mieliepitte kan ook tot groot sukses lei en veral die groter vis uit die lot aan die lyn kry. Ek het baie min geursels gebruik maar geure soos Amandel, Piesang en Karamel werk baie goed vir die rivierkarpe. Wees egter bedag daarop dat jou voermetode baie belangriker is as enige geursel, en dat jou sukses grotendeels afhang van hoe jy voer, hoe akkuraat jy voer, en hoe gereeld jy voer. ‘n Sagte voerbal op die kol elke 25 minute is belangrik en mens moet onthou om die voerbal water-nat te maak met die aansit proses – dit versprei die reuk van die voer baie beter en vinniger en maak ‘n baie aanloklike wolk wat die visse aanmoedig om te voer.

ONTHOU

Dit is partymaal vir my so onbeskryflik hoe maklik ‘n mens iets kan vergeet sodra jy buite jou gemaksone beweeg, en met die vlotboot sessie het ek ‘n hele klompie goed op die kant vergeet en eers agtergekom nadat ons ge-anker het. Leer uit my foute en onthou al die volgende items wanneer jy vanaf ‘n boot gaan hengel…

  • 2 stokke, katrolle met genoeg voorslag lyn
  • Clip-on swivels
  • Stroppe
  • Deeg, mieliepitte, floaties en wurms
  • Voer
  • Poliesmanne
  • Emmers vir handewas en voer
  • Lang skepnet
  • Tou vir die hounet
  • Hounet
  • Sonroom, sonbril, en hoed
  • Tangetjie/disgorger
  • Handoek vir jou hande
  • Koelboks met ys en genoeg drink water
  • Selfoon

In hierdie tyd van die Korona-uitbraak gee ons elke dag ‘n wenk om jou te vermaak en op hoogte te hou. Die heel beste manier om ons 10-man redaksiespan te ondersteun is om ‘n premierlid te word – so sal lede ons top gehalte inhoud soos wat ons vir etlike jare dit reeds produseer kan volhou.

Premium-Lidmaatskap

+ Kry ‘n digitale weergawe van die nuutste Die Oewerhengelaar, Stywe Lyne en The Carp Angler tydskrifte.
+ Onbeperkte toegang tot 1300+ Top gehalte Artikels en Video.
+ Toegang tot ons Digitale Biblioteek.
+ Aaskliniek Handboek 1, 2 & 3.


R49.00 per Maand of R499.00 Jaarliks

Teken nou in

Related Articles

Back to top button