Bank AnglerTight Lines

OPE HENGELKOMPETISIE: Loskop Kurper en Bass Bonanza 2025

’n Kwarteeu later – 2025 se Bonanza oorheers met rekordskare!

Tydens die tweede naweek in Maart het die Loskop Kurper en Bass Bonanza sy 25ste bestaansjaar by die gewilde Forever Resort Loskopdam-oord in Mpumalanga gevier. Vir die laaste drie jaar was dit die grootste kompetisie op die oord. Die dam was ongeveer 102% vol met die watertemperatuur ‘n warm 29.7°C. ‘n Liggroen alge laag was te sien op die water sonder dat dit probleme vir ons hengel veroorsaak het.

968 deelnemers met ongeveer 280 bote en heelwat oewerhengelaars het ingeskryf. ‘n Prys ter waarde van R50 000 vir die swaarste kurper en R20 000 vir die grootste grootbek-swartbaars het die kompetisie aangevuur. Spesiale erkenning was ook vir vroue asook vir kinders jonger as 16 jaar wat opmerklike vangste ingeweeg het.

Witbank Rod&Reel vier hul 40ste bestaansjaar die jaar.


By die skippersvergadering op Vrydagaand om 19H00 kon alle reëls duidelik oorgedra word.

MPTA (Mpumalanga Tourism and Parks Agency)

Alle dam en provinsiale reëls moes ten alle tye nagekom word; daarvoor het die ‘WeWild/MPTA-span’ gesorg. Hulle het gehelp met deursoek van bote vir vuurwapens en visse, gekyk of skippers se sertifikate byderhand was, so ook die nodige dokumente en toerusting vereiste om ‘n boot op die water te gebruik, veral ook die nodige navigasie ligte voor dagbreek op die water. Joop Smit en Johannes het baie gehelp met oorhoofse reëlings om die dam en omgewing gereed te kry en skoon te hou, veral wat hiasinte betref. Die lanseer van die bote het ook baie goed verloop met behulp van die span se vaardigheid.



Hengelreëls

Alleenlik twee visstokke per hengelaar volgens varswater hengelreëls was ‘n vereiste. Slegs twee kurpers per hengelaar was toelaatbaar, indien jy met meer in besit was, kon jy onmiddellik gediskwalifiseer en gerapporteer word. Die minimum kurperlengte is 150mm.


Saterdag vroegoggend op 8 Maart om 04:00 is toegang tot die dam verkry toe die ketting by die bote se lanseerblad oopgemaak is, en met eerste lig kon die boothengelaars in volle gang begin met hul soektog na kurpers, ek en my man, Jaco inkluis op ons Stywe Lyne-boot.



Ons het na die kabel se rigting gevaar saam met ‘n hele klomp ander bote, en naby Fontein Zonder End ge-anker. Die eerste kurper was voor sewe-uur op die boot, maar nie die 2 kilogram-grootte nie, en dis weer vrygelaat, nes al die ander wat ons die hele oggend besig gehou het, soveel so dat daar nie veel tyd vir eet was nie! Dit was ‘n warm dag met sambrele oral te sien, tog het ‘n ligte wind die hitte meer draaglik gemaak, daarna het ons vir baars gaan soek, sonder enige sukses!

Elke hengelaar mag net twee kurpers in besit hê, so as die polisie of organiseerders ‘n draai sou maak, moet die hounet gelig en gewys word. Net die grootstes word gehou, en alle kurpers van 150cm en kleiner moes onmiddellik vrygelaat word.



Inweeg was van een- tot vieruur; dit was ‘n lang dag met genoeg tyd om kurpers en baars te soek. Vir dié wat nie deelgeneem het nie was daar kosstalletjies met lekker musiek en speletjies om die swembad asook heelwat uitstallers. Onder andere was Boat Buddy al van Vrydag af met ‘n ware klein bootwinkel langs die verhoog beskikbaar vir boot- en noodtoerusting. Selfs ons het van hul dienste gebruik om ‘n nuwe ‘kill switch’ aan te skaf.

Tydens die inweeg het groot kurpers vinnig begin instroom, met verskeie wat meer as twee kilogram op die skaal getrek het. Altesaam het 279 hengelaars visse ingeweeg – ’n duidelike aanduiding dat die talle deelnemers reëls noukeurig nagekom het deur nie meer as twee kurpers op ’n slag in besit te hê nie. Ook, die Whatsapp-groep het vanaf die inweeg die visse se gewigte geplaas sodat daar nie onnodige vis skaal toe gebring word nie. Alle vis wat nie vrygelaat of deur deelnemers gehou was nie, was aan die twee gemeenskappe om die dam geskenk.  



Morné Viljoen het die wenvisse ontleed, net om seker te maak dit was in Loskopdam op dieselfde dag gevang.

Die Bonanza het afgesluit met die prysuitdeling tot half-agt die aand, en daarna ‘n gesellige braai en geselskap om die vure, waar herinneringe gedeel is en toekomstige hengelavonture beplan is.

Sermoniemeester (MC)

Tydens Saterdag terwyl alle deelnemers op die dam na hul groot visse gesoek het, het die energieke en gevatte seremoniemeester, die bekende Werner Coetser die skare behoorlik aan die lag én aan die luister gehou. Met sy passie en ’n aanvoeling vir mense, het hy die dag se verloop moeiteloos aanmekaar gehou – van die vroeë middaggroet tot die opwindende prysuitdeling teen sononder.

Hy het elke prys met entoesiasme aangekondig, en kinders én grootmense aan die praat gekry met sy vinnige kwinkslae en vriendelike houding. Werner het by die Bonanza nie net gepraat nie – hy het dit laat leef!

Die hooforganiseerders, Eppie du Plessis, (Amelia) en Johan Snyman tesame met Hennie van Wyk, Martin van Deventer en ‘n vlytige span agter hulle, inkluis vier fotograwe wat deur die hele oord en dam was, het hulle goed van hul taak gekwyt.

Maak solank die datum vas vir volgende jaar se Loskop Kurper en Bass Bonanza op 7 Maart 2026.



‘n Groot waardering aan al die waardevolle borge vir elke prys.

Zack Duvenhage het met sy 2,465kg kurper R50 000 gewen.

BAIE GELUK AAN AL DIE WENNERS!

KURPER INDIVIDUEEL

  • Eerste: Zack Duvenhage – 2,465kg.
  • Tweede: DP Bierman – 2,339kg.
  • Derde: M Basson – 2,264kg.

KURPERSPANNE

  • Eerste: Lucky Luke – 2,103kg.
  • Tweede: Kwaggas – 2,098kg.

KURPER: VROUE

  • Thea Jonker – 2,232kg.

KURPER: JUNIORS

Die vorige jaar se juniorwenner, die 11-jarige MJ Brits, het R5000 geskenk. Hy kon hierdie jaar nie die Bonanza bywoon nie, maar het wel op ‘n stemboodskap gesê hy sien ons volgende jaar!

  • Eerste: Zania Wilkon – 2,135kg.
  • Tweede: Abrie Steyn – 2,089kg.

GROOTBEK-SWARTBAARS

  • Eerste: Gideon Hattingh – 3,437kg.
  • Tweede: Leonard Bakkes – 3,265kg.

GROOTBEK-SWARTBAARS: VROUE

  • Desiree Pieterse – 1,186kg.

GROOTBEK-SWARTBAARS: JUNIORS

  • Eerste: Logan Stoltz – 0,893kg.
  • Tweede: Taylor du Plessis – 0,712kg.


Verblyf vir die Stywe Lyne-span en ander:

Forever Resort Loskopdam het weereens gewys hoekom dit as een van Mpumalanga se top hengel- en vakansiebestemmings beskou word. Die oord is pragtig netjies en uiters goed versorg, met elke hoekie en draaitjie skoon en in stand gehou. Van die gerieflike behuising en ablusiemiddele vir kampeerders, tot die netjiese staanplekke, skoon wandelpaaie en swembaddens – alles getuig van ’n bestuurspan wat trots op hulle werk is. Hanno Coetzee en sy span is vriendelik, professioneel en altyd bereid om te help, wat ons as gaste onmiddellik tuis laat voel. Dit is duidelik dat daar met trots en toewyding gewerk word om die oord in top toestand te hou – ’n plek waar jy kan ontspan, en weet jy’s in goeie hande.

Fotograwe

Groot dank aan die vier fotograwe wat oral op die oord en dam te sien was, insluitend Wiki van ‘Mosquito Media, Environment & Wildlife conservation expertise’.

Hier is baie foto’s om te sien hoe heerlik hierdie kompetisie was; hou die blad dop, daar word steeds foto’s gelaai.: https://www.facebook.com/loskopkurper.bonanza



The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!

0 0 votes
Article Rating

Related Articles

Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x