fbpx
Argiewe | ArchiveBank AnglerVenues

WITBANKDAM, MAANLIG-OORD, MPUMALANGA

IN DIE LENTE BY WITBANK

Soos gepubliseer in Die Oewerhengelaar | Oktober uitgawe 120

Met die aankoms van die lente het dinge so effens begin verander in die visse se eetlus. Meeste van julle sal met my saamstem dat die warmer weer en temperature nou baie beter geskik is om vir ‘n dag die bakkie te pak, die stokke te laai en die koelboks vol ys te maak, of miskien eerder ‘n dag of twee! Ja, die weer is die nommer een faktor wat bepaal of hengelaars kans sien om water toe te gaan of nie, maar as jy ‘n kompeterende hengelaar is weet jy dat jy soms ouma se warm appeltert en room moet eet!

Die weer het my egter nie gekeer om vir hierdie maand  se aflewering na Witbankdam te reis vir my maandelikse oewerhengel sessie nie – en ek het die figuurlike appeltert verslind, met room!

Wisselweer!

Met die sekondes skerp voor 07:00 een Woensdagoggend breek die son die nag-koue oor ‘n droë, wind-bewaaide winter koppie op die rand van die Witbankdam. Die spesifieke oewer waar ek myself bevind is die welbekende Maanlig-oord. Die vorige dag het die wind skielik begin waai soos wat hy normaalweg in die Kaap doen, en dit het my laat wonder of dit nou is omdat ek water toe gaan dat Moeder Natuur haar bui verander? Nietemin het ek al talle kere my les met die skoner geslag geleer en daarom het dit my min gepla, inteendeel glad nie want mens kan niks daaraan doen nie. Tot my verbasing het die dag uitgedraai in pragtige warm weer – regte lente!

Planne…

Ek moes egter ‘n paar nuwe planne beraam om te kyk of ek nie die visse wat heel winter dormant moes lê en krepeer van koue kon vang nie. My eerste plan was om terug te gaan in die argief, die ouer garde doen dinge net anders en dis raadsaam om soms, let wel, hulle raad in diepte te gaan bestudeer. My gevolgtrekking was dat ek ‘n mieliepit wat sag en geurig is sal moet hê, asook iets in die vorm van ‘n kappie, wat ek dan agter die mieliepit of enige iets “for that matter” kon sit as hoekaas. 

Heuning Anys pitte!

  • ‘n Hand vol geblikte mieliepitte is genoeg vir ‘n dag se hengel.
  • 1 Proppie anys konsentraat word bygevoeg.
  • 1 Proppie heuning bring die anys en mielies bymekaar.
  • Die heuning dien ook as preserveer middel.
  • Hengel het nie reëls nie, so as jy ‘n kleur poeier wil bysit maak gerus so.

Roos Fluoro Backing!

  • ‘n Groot hand vol bruinbrood se binneste… (sjoe, dit klink asof mens ‘n bruinbrood moet slag) word in klein deeltjies opgebreek in ‘n mengbakkie.
  • ‘n Proppie Roosgeur word by die deeltjies bruinbrood gevoeg.
  • Gevolg deur ongeveer 2 proppies heuning.
  • Brei die geursel en die heuning nou in die brood in totdat dit ‘n mooi stywe hand vol vorm, amper soos ‘n bol deeg.
  • Verplat die gebreide brood en strooi groen fluoro poeier bo-oor.
  • Brei die brood totdat dit die kleursel ten volle absorbeer.
  • NB – moet dit nie in jou vrou se kombuis doen nie!
Die finale backing kan vir 3 tot 4 maande nog gebruik word.

Die eerste uur…

Die eerste uur het ietwat stadig verloop, stadiger as wat enige hengelaar dit sal wil hê en ek moes vrede maak met die feit dat dit nog nie heeltemal somer is nie en my feederhengel binneste keer om nie elke 7 minute te gooi nie! Ek het die eerste uur nie ‘n byt gekry nie en niks verander nie omrede ek weet dat die koue nie  Moeder Natuur se gunsteling parfuum is nie en dit beter is om nie te veel te steur nie.

Sagtevoer, akkuraat

Diè twee woorde is die “geheim” in hengel. Hou die voer sag en lekker nat, en werp elke keer akkuraat en jy sal die vrugte pluk. Na die eerste uur en sowat 4 voerballe wat ukkuraat op die “line clip”  en op die oorkantste merker gewerp was het die visse begin byt. My stokke was ingehaak op 105m en 65m omrede die water diep was naby aan die kant en die vis al vroeg more baie naby gedraai het. Die 65m stok het eerste aksie getoon maar na die 2e vis wat kort voor die skepnet die hoek uitgespoeg het, het ek besluit om die stok se afstand te verander.

105m & 115m…

Die 105m stok het stelselmatig begin aksie toon met ‘n 400-800g karp wat elke nou en dan belang gestel het in my buitengewone hoekase. My gevolgtrekking oor die afstand is dat dit ‘n baie veilige afstand is om te hengel omrede jy stadig maar seker op byna elke gooi ‘n vis kan vang. Die ander stok wat ek verskuif het na 115m toe is verseker ‘n baie goeie besluit omrede die karpe veral later in die dag baie gemaklik voel om die aas op te tel. Die enigste nadeel is dat die wind in die vroegmiddag begin optel en mens se akkuraatheid op diè afstand kan beinvloed. Gelukkkig omdat die vis gemaklik op die afstand is maak dit nie so vreeslik saak nie, maar onthou, in kompetisie omstandighede is dit belangrik om akkuraat te bly omrede daar baie hengelaars is wat min of meer in dieselfde lyn sal hengel.

Gebruik ‘n M1

Die afstande van 105m en 115m is vir meeste hengelaars heel binne hulle bereik en val dus in die kategorie van “gemaklike hengel” maar vir sommige hengelaars kan dit uitdagend wees, veral vir die dames. Dis beter om met ‘n M1 op die afstande te hengel al is dit vir sommige hengelaars maklik om die afstande met ‘n M0 te gooi. Onthou dat mens nie altyd bewus is van ‘n ligte wind wat voormiddag opsteek nie; die effens swaarder gewig sal jou akkuraatheid behou asook jou lyn beheer baie beter sal handaaf. Die M1 is nie te swaar dat dit sensitiwiteit sal beinvloed nie en daarom is dit ‘n beter keuse wanneer die medium afstande gehengel word.

Swaarder vs ligter hoekase!

‘n Klein floatie met ‘n degie agter of selfs net die floatie alleen is verseker ‘n baie fyner en ligter aanbieding en in meeste omstandighede ook ‘n beter aanbieding. Ek het egter gevind dat ‘n pit en backing of ‘n degie met ‘n backing in die lente omstandighede ‘n beter hoekset gee. Ek het rondgespeel met die hoekase en elke keer wanneer ek met ‘n fyner hoek aas gehengel het, het ek die vis verloor. Verseker is dit beter om die tyd van die jaar met ‘n klein maar swaarder hoekasie te hengel in die vorm van ‘n degie met ‘n backing of ‘n sagte pit met ‘n backing.

Top geur kombinasie!

My top kombinasie vir die Witbanksessie was ‘n baie ou tradisionele mengsel van karamel en piesang, maar met ‘n bietjie byt in die vorm van anys – buitengewoon maar verseker ‘n wenner by Witbankdam. Die druppel anys is sterk aanvanklik, maar na ‘n paar sekondes rond hy mooi af na ‘n sagte liquorice geur wat baie lekker in meng saam die piesang en karamel. Op die 105m stok het ek die kombinasie met groot sukses gebruik. Die 115m stok het ek met karamel en skoon roos gehengel wat ook baie goed gewerk het.

NB – Wees versigtig om nie te veel geursel op die bol te plaas nie – diè tyd van die jaar is dit belangriker as ooit.   

Slotsom

Die lentehengel is van korte duur want omrede somer amper op die voorstoep rus en binnekort word die komberse verruil vir lugverkoeling. Dit is ‘n opwindende tyd wat voorlê omrede die lang winter uiteindelik besig is om te verdwyn. Maak seker om noukeurig oor jou hengel in die lente tyd te dink en nie te veel te vinnig te doen nie; die visse skakel nou oor vanuit hul dormante winter bui na ‘n aktiewe somer bui en dit meen net een ding – goeie vangste!

NB – Wees versigtig om nie te veel geursel op die bol te plaas nie – diè tyd van die jaar is dit belangriker as ooit.

Close