fbpx
AdventureHier Gaan Ons Al WeerTight Lines

Meobbaai – Waar die visse baklei om aan jou hoek te byt!

Deur Petri de Wet

Na 17 onvergeetlike reekse op DSTV se kanaal 144 kykNET, het Petri de Wet en sy gashengelaars begin om reeks 18 te verfilm. Om die 18de reeks te vier, word ‘n opedag en hengelnaweek aangebied. Baie bekende gaste kom kuier en die manne pak ook ‘n avontuurlustige toer aan, op soek na plekke waar die visse baklei om aan hulle hoeke te byt.

Vir die eerste gedeelte van die verjaarsdagtoer het Petri en die manne van Conqueror SA deel gevorm van ‘n vang en vrylaat toergroep na Meobbaai in Namibië. Hengel word eintlik nie in diè spergebied toegelaat nie, maar jy kan wel deel vorm van ‘n vang en vrylaat toer wat deur die konsessie houer, NAMAB gelei word. Die manne is deel van ‘n toergroep wat met ‘n konvooi woonwaens na Meobbaai toe ry. Net om tot by die hengelplek te kom is ongeveer 230km deur die wêreld se hoogste duine en met ‘n woonwa aangehaak, moet jy regtig jou storie ken. Gelukkig is dit waarvoor Conqueror woonwaens gemaak word en die konvooi is sonder ernstige probleme tot by die Meobbaaikamp.

DAG 1

Na die adrenalien-gevulde duinerit tot by die kamp is die span nou 110 persent gefokus op die hengel. Ons hengel met ligtegerei, 11,6vt Daiwa Saltist visstok met die nuwe Daiwa BG Magsealed 4000 katrol met 30-pond Daiwa Jbraid. Stroplyn is 0.70mm met ‘n 4/0 dun draad Mustad sirkelhoek.

Opsoek na witmossels onder die voete.

Ons het vinnig ‘n paar witmossels uitgehaal om dit as aas te gebruik, maar sardien werk net so goed. Ons het strandlangs gery en gesoek vir ‘n area waar die strand ‘n kleinbaai maak, wat gewoonlik in die area ook ‘n lekker platplaat oplewer.

Die manne het gou aas aangesit en ingegooi en net soos in die ou dae het ons die steenbrasse gooi vir gooi gevang. Die suid-weste wind het die dag voordat ons begin hengel gewaai, wat die water ‘n ligte bruin kleur gegee het. Alhoewel Julie nie regtig kabeljou tyd is in die area nie, het ons wel ‘n klomp kabeljou tussen die steenbras gevang. Aan die einde van dag 1 was almal byna keelvol vir al die visse wat gevang is, voorwaar ‘n goeie klagte om te hê!

Alhoewel Julie nie regtig kabeljou tyd is in die area nie, het ons wel ‘n klomp kabeljou tussen die steenbras gevang.

DAG 2

Na ‘n uitsonderlike lekker nagrus by die NAMAB kamp in ons Conqueror woonwaens is ons weer by die see, vol nuwe ywer vir die tweede hengeldag. Op dag een het die toergroep meer as 100 eetvisse gevang, maar kon niks groter as 6kg land nie. Ons plan op dag 2, ons laaste dag, was dus om die grotes te teiken.

Sandkrap as aas vir ʼn groter steenbras.

Ek het begin om met ‘n sandkrap te hengel, ‘n aas wat gewoonlik groot steenbras oplewer, veral in Namibië, maar die gemiddelde grootte steenbrasse het geen respek getoon vir my krappe nie en 5 krappe later was ek maar terug op witmossel en sardien vir aas. Om hier te hengel is ongelooflik, want die visse baklei om aan jou hoek te byt! Jy hoef ook nie ver te gooi nie, hier byt die steenbras so vlak dat jy partykeer hulle sterte kan sien, soos hulle op die plaat wei. Ons het ook die area in die winter besoek en dit naby dooie gety, wat gewoonlik nie baie goeie hengel oplewer nie, maar ten spyte daarvan weer meer as 100 eetvisse geland, en so het die son op ons baie intense genotvolle hengel gesak.

Die gemiddelde grootte steenbras.
Petri en kameraman Riaan Wagener kry ook ʼn kans.

As jy daar wil gaan hengel saam met die manne van NAMAB kan ek dit hoogs aanbeveel. Ons sal self weer in die somer daar wil gaan hengel.

In Reeks 18 gaan daar baie onvergeetlike oomblikke en episodes wees, met ‘n paar reuse verrassings ook in!

*Volg die hele reeks op Maandae om 17:30 op kykNET, DSTV Kanaal 144.

Related Articles

Close