Bank Angler

Moet Voer Altyd Vinnig Blus?

OF IS DAAR TYE WAT JY ‘N TAAI BOL VERKIES?

Ek hou van ’n voerbal wat sy vorm hou en nie blus nie, volgens my as daar te veel voer geblus het, is dit moeiliker vir die vis om jou aas op te spoor. Die idee is om ’n sagte voerbal te hengel; die voer hou sy vorm onder op die bodem, en sodra die vis die hoek in sy bek kry swaai die vis so kop heen en weer en die bal val na die bodem. Die oomblik wat die hengelaar sy vis aanslaan kan die voer ook dan afkom en op die bodem gaan lê.

In die somer sal my voerbal baie sag wees, maar in die winter sal ek selfs ’n bietjie harder gaan want dit gee vir my die gemoedsrus dat die voerbal nog nie geblus het na ’n uur of twee nie.

Barend Breedt

Ek verkies meestal sagte voer, veral in die sommer wanneer die vis aktief wei, en sal ook in die winter net sagte voer hengel by venues waar ek weet baie vis is, soos byvoorbeeld by Jack Leonard, maar sal in die winter my voer harder en taaier maak as ek weet dit is ‘n venue met minder vis, soos byvoorbeeld Kruger en Biermans, want op so ‘n dag wil jy hê die vis moet dadelik jou aas gryp en nie nog van jou voer nie.

Andre Potgieter

Ek verkies dat my voer meeste van die tyd vinnig blus, veral wanneer die vis traag byt sodat jy ‘n kol kan bou en die vis vinniger trek. As daar baie vis is en jou byt tempo baie hoog is en elke 5-10min ‘n vis vang, sal ek my voer styf maak sodat ek hul daar kan hou. Ek sal nie te veel voer nie en ook my voerbolle kleiner maak, veral vir die moddervisse.

Bertie de Meyer

Ek verkies dat dit altyd vinnig blus – hoe meer voer agter bly hoe beter. Ek hou niks daarvan as ek ‘n vis speel en die bol kom saam nie. As ek P5 of P7 hengel met ‘n boerstrop – dit is as jy nou ver hengel en jou sinker wil gooi laat hy rek merke kry (ha -ha), dan sal ek ‘n harder bol hengel.

Robert Breedt

Oor die algemeen moet voer altyd baie vinnig blus in die water sodat jy ‘n voerkol kan bou om dan sodoende die vis kan trek tot op jou kol, hulle daar te kan hou, en dat jy dan deur die loop van die dag ‘n lekker sak vis bymekaar kan maak. Kol-hengel is hier dan van kardinale belang.  Daar is verskeie redes hoekom ek partykeer met ‘n harder voerbal sal hengel: (1) Wanneer ek regtig vêr wil hengel en half die vis wil dwing om die aas op te tel en nie te veel aan die bol te eet nie. By baie diep hengel is kol-hengel byna onmoontlik.  (2) As die wind baie sterk waai sal ek met ‘n harder voerbal hengel veral op ‘n ligter sinker, want as die voerbal baie sag is en te vinnig blus, sal die sinker en aas maklik skuif as gevolg van die sterk wind, en dan lê die hoekaas nie naby die voer nie. (3) Veral by moddervishengel sal ek baie maklik met harder maar kleiner voerballe hengel, veral as die moddervis reeds op die kol is en gulsig is. As die byt-tempo afbreek sal ek weer so drie groot sagte balle gooi en dan weer verder met die harder voerballe hengel. (4) Wanneer dit moeilik gaan in die winter om ‘n vis aan die lyn te kry, sal ek maklik met een sagte en een harde voerbal hengel; die harde voerbal dwing die vis om die hoek-aas op te tel en dit kan ook jou die enigste byt gee vir die dag wat ook dalk die verskil kan wees tussen wen of verloor.

Philip van Wyk

Om eerlik te wees verkies ek 100% van die tyd dat my voerbol so gou moontlik blus. Die rede is dood eenvoudig: daar moet ‘n voer area gebou word deur die dag. Indien jy elke keer jou voer uitbring as jy inkatrol  gaan jy beslis nie in jou doelwit slaag nie. Indien jy baie goed op ‘n kol hengel en jou voer blus goed, wel dan sal jou area beslis tot jou voordeel wees later in die dag.

Morné Saayman

Ek glo dat die voer moet vinnig blus. Die voordeel hiervan is dat die vis vinniger sal reageer op jou voer en sodoende sal jou byt tempo vinniger wees as wat jy ‘n taai bol sou gooi. Natuurlik sal jy ook ‘n beter voerkol kry omrede jou voer sal agter bly en nie saam uit kom as jy wil ” re-bait” of ‘n vis uitbring nie.

Riaan Joubert

Voer is een van jou belangrikste – indien nie diè belangrikste – deel van jou hengel voorbereiding. Vir my is dit kardinaal dat voer moet blus om ‘n voer kol te laat wat dan as ‘n aantrekking vir ander vis sal dien. Meer vis sal na die kol beweeg en jou byt tempo sal vermeerder.Waar die voer harder is dien dit geen doel en word geen voer agtergelaat nie, wat kan veroorsaak dat jy minder vis in jou sone sal kry en daar ‘n groot moontlikheid sal bestaan van ‘n stadige byt tempo.

Tom Ebersohn

Ek hou daarvan om in die somer, wanneer die vis aktief is, om met ‘n bol te hengel wat vinnig blus. Die vis is dan vinnig op die kol en tel gewoonlik vinnig die aas op en die kleiner vir is ook baie meer aktief. In die winter is die kleiner vis minder aktief en is dit noodsaaklik dat die bol nie te vinnig moet blus nie aangesien daar dan geen voer meer in jou direkte omgewing sal wees na verloop van langer tye nie, sodoende bly jou aas en bol ook langer bymekaar om die vis wat wel in die omgewing beweeg dit kan optel.

Jonathan Carlson

Ek verkies dat my voerbal altyd vinnig moet blus veral in Bloemhof en Vaaldam. Hoe meer voer jy agter los op jou voerkol hoe meer vis sal jy lok en vang, veral as die vis aktief is en die dag byt. Ek hengel wel by Hartbeespoortdam ‘n taai verbal – dis maar min dat die vis op ‘n goeie tempo byt, so ‘n taai voerbal veral in die winter is ideaal vir my daar.

Related Articles

Back to top button