MY TURN | MY BEURT: Altyd Iets Om Na Uit Te Sien, En So …
WORDS/WOORDE: Eugene C. Kruger, Editor-in-Chief
Vir lesers wat glad nie van die koue oggende en aande van winter hou nie – wat nog van die ryp op die oewers van die Vaalrivier wanneer mens op soek na mooi grootbek-geelvisse is – het Juniemaand darem iets om na uit te sien, so daarmee saam baie welkom aan hierdie uitgawe, mag dit vele lekker leestye voor die kaggel met biltong, koffie en beskuit verskaf!
Nou, watse ‘iets om na uit te sien’ bedoel ek?
Wel, op Donderdag, 20 Junie gebeur die winter sonstilstand, naamlik dis dan wanneer die kortste dag en langste nag ‘n ommekeer begin maak, naamlik dan begin die dae al hoe langer raak en die nagte al hoe korter, die begin van lente en dan die somer!
En in hierdie maand, net twee dae later, op die 22ste, is dit volmaan (om 03:08), wat vir ons soutwaterlesers van uiters belang is, want dan is dit vir die tweede keer in die maand springgety (die eerste spring is op Donderdag, 6 Junie).
Ek kan nie help nie om onwillekeurig te wonder oor hoe naby aanmekaar die sonstilstand en springgety is en of hierdie natuurlike verskynsel iets uitsonderlik gaan baar …? Ons het mos onlangs die wonder van die suidelike ligte gewaar …
En vir ‘die wat weet’ is die warm Indiese oseaan langs die ooskus hopelik vol sardiens met die roofvisse al agter hulle aan – vir die rots en strand ouens ‘n tyd van hewige gevegte met visse met altyd ‘n wakende oog op die branders, want hierdie samekoms van Moeder Natuur se elemente kan vir enige mens soms nogal gevaarlik wees.
HOMMELTUIG-HENGEL
Met die skryf hiervan het die appelhof nog nie sy uitspraak gelewer oor die wetlike gebruik van hommeltuie in hengel nie. Saam met die hommeltuig-hengelaars wag ek ook in spanning daarvoor. Die hoop beskaam nie dat die uitspraak wel in die guns van hommeltuighengel sal wees. Die uitspraak sal blykbaar eers oor ‘n klompie weke bekend gemaak word, en intussen kom en gaan die sardienloop …
Ek lees op sosialemedia dat met die begin van die hof het dit geblyk dat nie een van die appelregters iets van hengel af geweet het nie. Hulle het ook blykbaar laat blyk dat dit jammer was dat die hommeltuig appelante nie darem ‘n hengelaar of twee saamgebring het om die hof oor hengel in te lig nie … Ai tog ..!
VOORBLADFOTO
Lesers wat twee keer ons voorbladfoto moes kyk, want sien, “ek ken mos die ou … hey, dis mos Frik du Preez …! is heeltemal in die kol, of sal ek sê ‘deur die pale’!
Ja, dis die “Rugbyspeler van die 20ste Eeu”, naamlik Frik du Preez, hy wat “gedrop, geplace en gescore“ het! ( https://bullsrugby.co.za/bbru-honour-oom-frik-du-preez).
Nie almal weet dit seker nie, maar Frik, nou 85 jaar jonk, was, en steeds is, ‘n entoesiastiese hengelaar. Saam met Werner Lubbe het hy onlangs baie lekker by die Nyl-dam gekuier. Lekker visgevang en ook talle stories en grappe vertel, terwyl Jessica de Villiers die hele spul met die kamera vasgevang het. Lees gerus die storie elders in hierdie uitgawe.
Ek het ook ‘n herinnering van Frik wat lank met my saambly: met die toer van die Franse in die 1960’s het hulle teen die Blou Bulle voor ‘n volgepakte Loftus op ‘n Saterdag te staan gekom. Ek het ‘n kaartjie van Gerhard de Haas, wat vir die Bulle op losskakel diens gedoen het, se pa gekry. Op die veld was die tweestryd tussen Frik en die groot Franse slot, Benoit Dauga iets om te aanskou. Op ‘n keer met ‘n lynstaan was Frik en Benoit altwee van plan om voor die lynstaan om te storm. Met die ingooi blaas die fluitjie vir ‘n skewe ingooi, maar instede om met hul stormlope op te hou, het die twee skouer teen skouer gebots. Ons almal het die slag tot in die pawiljoen gehoor!
Op ‘n keer het die Franse se een senter, Claude Dourthe, vir Gerhard de Haas (tot groot onsteltenis van sy pa), met ‘n stywearm-têkkel bygekom, en toe ook ‘n Bulspeler (ek vergeet sy naam) wat met ‘n af sleutelbeen van die veld moes af. Nie lank daarna nie kry die einste Dourthe die bal en is deur ‘n gaping en was op pad doellyn toe, maar Frik, so groot soos hy was, het hom wraggies ingehaal en van agter af bo-oor hom geseil en grond toe gebring. In die proses is Dourthe se sleutelbeen ook af!
Frik was lief om op Loskopdam te hengel, (dit was voor die wal gelig is), en ‘n storie het die rondte gedoen dat sy boot op ‘n dag onklaar geraak het en toe in die dam gesink het. Ek kon nooit dié storie bevestig nie, so as enige leser meer oor die storie kan vertel, laat weet asb.
KARPE WORD KOS
‘n Stukkie ekonuus, as mens dit so kan noem, oor wat by Groenvlei op die Tuinroete aan die gang is, is seker vir toegewyde, passievolle karphengelaars slegte nuus, maar vir baarshengelaars goeie nuus. Die vlei, ook bekend as ‘Lake Pleasant’, is ‘n varswater meer so ‘n paar kilometer binnelands. Swartbaars is wie-weet-wanneer ingeplaas met bluegill as kosvoorraad en die meer was nogal ‘n bekende swartbaars bestemming. Gedurende die 1990’s egter is karp ingeplaas, met die gevolg dat die meer se water soos Vaaldam begin lyk het en heeltemal ongunstig vir die baars geraak het.
CapeNature het toe hierdie eeu volgens die regulasies van biologiese diversiteit begin om die karp uit te haal. Karp wat toe gevang was moes uitgehaal word, en is eers as gemors van ontslae geraak, maar gedurende die 2020 Covid inperking is die tonne karp as kos aan gemeenskappe in die Suid-Kaap en Karoo verskaf. Hiervoor het die vissery en kosproseseseringsmaatskappy, die Oceana Groep, met samewerking van CapeNature en die Gift of the Givers, ‘n boot en ‘n koeltrok beskikbaar gestel om die vars vis te versprei. Die karp is toe al hoe meer as ‘n waardevolle kossoort gesien.
Wel, die karp het met die oes daarvan, wat eintlik ‘n vorm van bestuur om oorbevolking te voorkom is, so gedy dat onlangs is ‘n opregte vissersboot deur die Oceana Groep geskenk om die vissers te help om die visse meer doeltreffend te oes. So dis dan nuus wat nie so lekker op die oor van karphengelaars val nie. Wat my interesseer is wat gaan gebeur as al die karpe wel uitgehaal word? Al die gratis kos is dan daarmee heen, of gaan CapeNature ‘n doeltreffende bestuursprogram instel om ‘n voorraad karp aanhoudend te produseer? Kosproduksie vs biodiversiteit vs hengeltoersime = ?
Wat die swartbaars betref: met die karpe wat so geoes word het die water begin om weer mooi skoon te word wat dan vir die swartbaars voordelig is. Seker goeie nuus vir swartbaarshengelaars.
Weereens ‘n geval van die een se dood is die ander se brood? Inderdaad ‘n interessante gesprek vir ‘n wintersaand voor die kaggel!
Intussen geniet die hengel in die winter, wees versigtig op die witgerypte oewers en op die boot, en soos altyd, Take Care.
Iets oor hengel op die hart? Skryf gerus:
Epos / Email: editor@stywelyne.net