MY TURN | MY BEURT: Stywe Lyne Tight Lines July 2024
WORDS/WOORDE: Eugene C. Kruger, Editor-in-Chief
Hier by Stywe Lyne se nuuskantoor ontvang ons elke jaar die een of ander staaltjie van die jaarlikse “Sardine Run”. Ons Afrikaanse vertaling van die Engelse term ‘sardine’ is ‘sardien’ of “sardientjie”, maar die koerant ‘Beeld’ het in ‘n berig op 13 Junie oor die eerste vangs van hierdie jaar se “Run” wat by Umkomaas uitgetrek was, na hulle verwys as ‘sardyn’. Ons weer reken dat ‘sardyn’ eerder verwys na wat in Engels bekend is as ‘pilchard’. So, is gedebatteer, watter benaming is korrek?
‘n Google besoek het nie eintlik klinkklaar bewyse van die korrekte benaming opgelewer nie. Die spesie Sardina pilchardus se Afrikaanse naam is as ‘sardientjie’ of ‘sardien’ weergee, terwyl die spesienaam Sardina ocellata na ‘pilchard’ verwys.
In die gesaghebbende Smith’s Sea Fishes word die spesie Sardinops ocellatus as die “South African Pilchard’ aangedui, maar in die naslaanindeks word dit as ‘sardine’ aangegee.
Dan, in ‘Coastal Fishes of Southern Africa’ deur Phil en Elaine Hiemstra, is Sardinops sagax die Latynse naam vir ‘Pilchard’.
In elke geval, ‘n paar dae later is berig van nette vol ‘sardientjies’ wat uitgesleep is.
Vir my as hengelaar is dit maar net ‘n klompie wetenskaplike woorde om hierdie klein vissie, wat deur derduisende kushengelaars vir aas gebruik word, te beskryf. Om deur die verwarring te sny is dit vir ons heeltemal okei om ‘sardientjie’ te gebruik, en vir dié wat weet, is dit verseker ook ‘n smaaklike happie op ‘n braai.
My eerste ervaring van vars sardientjies was jare gelede toe ek in Durban was vir een of ander artikel onderhoud. Ek is deur Jimmy Rea, (destyds ‘n bekende in rots- en strandhengel), een weeksoggend na ‘n strand geneem waar hy en van sy pêlle wou sardiens oes, deels vir aas maar ook vir hul braai.
So, vroeg op ‘n koelerige Julie oggend het ons by die strand aangekom en ek was nogal verbaas om soveel toeskouers daar te sien. Mense het in groepies gestaan en wag terwyl ‘n klomp Indiërvissers besig was om ‘n enorme sleepnet vol wriemelende sardientjies in te sleep. Jimmy en sy pelle het nie gewag dat die net tot op die sand getrek word nie, maar met hemp en broek uit en met ‘n paar inkopiesakke in die hande is hulle die water in. So het hulle die een na die ander sardientjies wat bedremmeld in die water gedryf het in die plastieksakke gestop. Nie lank nie of hulle was weer op die sand, sakke neergesit en weer die water in. Toe ek vra nou hoekom so ‘n risiko neem, (talle roofvisse is mos agter die sardientjies aan!), terwyl honderde sardientjies gratis op die strand beskikbaar was, is ek aangekyk so asof ek die dom nefie in die familie is!
Ek kry toe sommerso ‘n wenk uit die binnekring van hoogs ervare rots- en strandhengelaars oor hoe hulle aas maak: soos die sardientjies in die net hardhandig op die sand uitgesleep word, word hul skubbe afgeskaaf, wat hul waarde as aas verminder. Volgens Jimmy-hulle moet die skubbe nog aan wees want in die water flits hulle wat die aas nog meer aanloklik maak.
Wel okei, het ek (stilletjies!) vir myself gesê, maar dit bly ‘n risiko so saam met al die roofvisse in die water; maar nou-ja, wat weet ons binnelanders eintlik van strandhengel?
Die toneel van die hordes toeskouers, oud en jonk, omies en tannies, kinders ook, almal eintlik ook medevissers, en die vissers wat kratte vol sardientjies pak en op bakkies laai wat amper ongesiens so uit die niet op die strand verskyn het, het vir ‘n anderse soort feestelike atmosfeer gesorg! Jimmy en sy pelle het nie oorboord met hul vangste gegaan nie. More kom haal ons weer, was hul woorde, nou’s dit tyd vir ‘n braai!
Die middag ontvang ek nog ‘n “local lesson”: anders as ons binnelanders hou Natallers net mooi niks van die hele vissie op die braai nie, en asseblief, verwyder die kop en oë …!
Jimmy wys my toe hoe hy die vissies een vir een skoonmaak. Die skubbe word versigtig afgekrap, die filette word netjies uitgesny, en die res (met oë) beland in die asblik. Vir my was dit soortgelyk aan ‘n breinoperasie, so fyn het hy met sy messie gewerk. Die filette is toe oor ‘n matige vuur – houtskool – vir nie langer nie as ‘n minuut aan beide kante gebraai. ‘n Natalse speserymengsel is gestrooi en suurlemoensap uitgedruk. Toe die filette van die braairooster op my bord beland, was al die risiko in die water en die fyn voorbereiding werklik die moeite werd!
Hierdie maand behoort die sardientjies steeds by een of ander strand in KZN beskikbaar te wees. So nie, behoort vars vissies by viswinkels beskikbaar te wees, so vakansiegangers uit die binneland hoef nie risiko’s in die water te trotseer om self vars sardien-aas of ‘n lekker sardientjie, (of ander vis!), braai te geniet nie!
En om mee af te sluit, om ‘n ledige uurtjie met iets hoogs interessant te vul, besoek gerus op YouTube: Inconvenient Truth: 32 Climate Predictions Proven False | Facts Matter . Die aarde gaan beslis nie sommerso tot ‘n einde kom nie, maak nie saak wat sekeres kwytraak nie!
Intussen geniet die hengel in die eerste maand van die tweede helfte van die jaar, en soos altyd, Take care.
Iets oor hengel op die hart? Skryf gerus:
Epos / Email: editor@stywelyne.net