MY TURN | MY BEURT: Stywe Lyne Tight Lines November 2024
Nuwe Minister, Water en Lood in Gerei
WORDS/WOORDE: Eugene C. Kruger, Editor-in-Chief
Om sommer so met die deur in die huis te val, November is, nes Oktober, in menige hengelaar se opinie ook ‘n “mooiste, mooiste maand” soos C. Louis Leipoldt dit in sy beroemde gedig beskryf het. Hoekom so? Wel, ‘n goeie hengelvriend, nou ontslape, het elke November as ons op Loskop na kurpers gesoek het, opgemerk dat November ook ‘n baie mooi maand is, want sien, “dis tyd om reg te maak vir die Desembervakansie wat nou net om die draai is!”
Verseker so, die afwagting na Desember se hengel is tasbaar. Afhangend van waar dit gaan plaasvind, moet spesifieke gerei of nagegaan word, of as mens gelukkig genoeg is, nuut aangeskaf word. Ek reken geen leser sal nie ‘n nuwe stok, katrol of wat ook al in sy hengelarsenaal verwelkom nie!
Vir dié van ons gewaardeerde lesers wat hierdie Desember op reis na ‘n vakansiebestemming gaan wees, net hierdie een versoek: laat die voertuig sommer hierdie maand nagegaan word!
Op ‘n heel ander noot, ons ministers in die RNE het onlangs hulle eerste 100 dae in hul verskillende ministeriële poste in oënskou geneem. Uit ‘n hengelaar se oogpunt was onse nuwe minister van bosbou, visserye en omgewing, dr Dion George se sieninge van belang, synde ons geliefde sport ‘n skoon, gesonde omgewing benodig wat op sy beurt dieselfde gehalte waterbronne besit waar visse kan floreer vir ons om te teiken (en vang!).
Ek gaan nie nóg kommentaar lewer oor die land se water gehalte nie; die gehalte daarvan (eintlik die gebrek daarvan!) word omtrent elke dag in die algemene media weerspieël. Die geagte minister het toe ook ses prioriteite uitgestippel wat vir hom belangrik is, o.a. een wat die rompslomp met die uitreik van lisensies vir kommersiële vissersgemeenskappe uit te skakel en hulle nader aan hul markte te bring onder die projeknaam “Fishing for Freedom”. As hengelaar sou ek “Freedom for Fishing” verkies.
“Reset” is sy projek om die land se omgewingswetgewing te vereenvoudig. Hmmm … sal maar moet wag om te sien watse omgewingswette “vereenvoudig” word.
Hy wil ook hê dat “klimaatstudies” deel word van die skoolleerplan. Oukei, nie ‘n probleem daarmee nie, maar dan voeg hy die “klimaatsverandering-bestaanskrisis” by. Verseker verander die klimaat, dit maak so vanaf die aarde se bestaan, maar “krisis”?
Die ergste omgewings -“krisis” wat ons as hengelaars bedreig is al die rou of onderbehandelde riool wat in ons riviere van onderpresterende munisipaliteite vloei. . . Meneer die minister, gebruik jou departement se bestaande wetgewing om die skuldiges hiervan hard te slaan, en ek bedoel ‘hard’!
Van water gepraat – as hengelaars kan ons nie verby hierdie noodsaaklike onderwerp beweeg sonder om ons stem hieroor te laat hoor nie – dis nou herhaaldelik in die media gerapporteer dat tot amper die helfte van die water wat deur Rand Water aan metropole gelewer word verloor word – as gevolg van lekkasies! Dis skokkend verby!
Neem kennis:
- Die Vaaldam was ten tyde van die skryf van hierdie rubriek net 35% vol in teenstelling met 76% dieselfde tyd verlede jaar.
- Ons sal eers in Maart volgende jaar water vanaf Lesotho via die Tugelaskema ontvang.
- Water beperking is reeds in Gauteng van krag, naamlik tussen 06:00 en 18:00.
- En dié versoek moet in alle erns opgeneem word: Gebruik water spaarsamig!
LOOD IN GEREI
Lesers kan onthou dat in vorige uitgawes heelwat geskryf is oor die gebruik van lood in hengelgerei en die verbanning daarvan in Brittanje en Europa, en dat dit ook hier te plaatse en in die V.S.A. oor die gebruik daarvan bespiegel word wat op ‘n moontlike verbanning kan uitloop.
Nou het leiers in die Amerikaanse hengelbedryf ‘n sterk boodskap aan die Wit Huis gestuur om die regering wat hierdie maand ingestem word te maan om nie lood in hengelgerei te verban nie. Onder leiding van die American Sportfishing Association (ASA) het ‘n koalisie van al die land se hengelverenigings ‘n lang lys van aanbevelings aan die Amerikaanse Kongres voorgelê om die toekoms van sporthemgel in die land te verseker.
Volgens ASA vise-president van regering sake, Mike Leonard genereer hengel jaarliks $148 miljard vir die Amerikaanse ekonomie, “so dit is belangrik vir ons verkose amptenare om te verstaan oor watter kwessies ons kiesafdeling omgee,” sê hy. “Ons aanbevelings gee hulle ‘n padkaart vir hoe hulle ons die beste kan ondersteun,” verklaar hy. 17 organisasies wat meer as 3 000 besighede en die land se 57,7 miljoen hengelaars verteenwoordig het die aanbevelings gemaak.
Dink nou net hoe voordelig dit vir ons eie hengelbedryf kan wees as alle belanghebbendes in ons hengelbedryf so ‘n lys voorstelle aan ons nuwe minister sou voorlê!
Intussen geniet Novembermaand se hengelgeleenthede, maak reg vir die Desembervakansie en soos altyd, Take care.
Enigiets oor hengel op die hart? Something about angling on your mind?
Epos / Email: editor@stywelyne.net
The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!