fbpx
AaskliniekBank AnglerFishing TipsHow To

‘n Degie Wat Dryf? Maak Jou Eie So…

Deur: Johan Marx

Soms kan dit handig te pas kom as jy weet hoe om ‘n degie te maak wat kan dryf, soos by baie sagte silt bodems waarin aas maklik kan wegsink. Verder kom hierdie degie ook handig te pas wanneer jy ‘n neutraal-drywende hoekaas wil bewerkstellig.

Benodighede:
Koekmeel, bakpoeier, water, suiker, twee mengbakkies, ‘n teelepel en ‘n deegsakkie.

Voeg ongeveer 25ml water in een van die mengbakkies en los ‘n halwe teelepel suiker in die water op.
In die ander mengbakkie meng 5 hoogvol teelepels koekmeel en 1 teelepel bakpoeier met mekaar.
Nou word die koekmeel en bakpoeier mengsel bietjie vir bietjie by die water gevoeg en geroer totdat ‘n stywe deeg beslag begin vorm. Hou aan om klein hoeveelhede meel by die beslag te voeg totdat dit later te moeilik is om behoorlik met die teelepel te meng.
Die degie behoort nou styf genoeg te wees om met die hand te hanteer. Rol dit tussen die handpalms en werk meer van die meelmengsel in die degie in totdat dit nie meer aan die vingers of hande vassit nie.
Die degie kan nou sorgvuldig in die deegsakkie geplaas word – gereed vir gebruik. Indien die degie gekleur of gegeur moet word, kan die geur-of kleurmiddel met die water en suiker in Stap 1 gemeng word.

Wenwenke:

1. Indien jy die degie die aand voor die wedstryd maak kan dit in die yskas geplaas word om dit so vars as moontlik te hou tot die volgende dag.

2. Maak altyd genoeg deeg vir 2 deegsakkies. Gebruik die een degie tot so 12:00 en haal dan die tweede vars degie uit die koeler vir gebruik vir die res van die wedstryd.


Tags
Close