fbpx
Bank AnglerFishing TipsHow To

’n Maklike Tegniek Vir Groter Karp

Hengel met Jummies

Soms wonder ek waarom ek my artikels skryf en of hulle darem iemand daar buite help. Maar na die afgelope maand is ek verseker dat dit ’n verskil maak. Baie dankie aan elkeen wat dankie laat weet het en graag nog meer wou weet – dit maak alles die moeite werd!

Verlede maand se artikel was meer op kompeterende hengel gefokus maar was ook vir die hengelaars daar buite wat graag net ’n vissie in die winter wil vang. Hierdie maand se artikel gaan dalk heeltemal aan die anderkant van die spektrum wees.

Ek het oor die afgelope jaar en ’n bietjie gereeld saam met my vriend Colin by die nou reeds bekende privaat dammetjie naby Delmas gaan hengel. En telke male moes ek toekyk hoe hy gereeld karpe van tussen 3kg en 8kg vang. Meeste van die kere wat ons daar was het ek Feederhengel gedoen en veral die afgelope jaar het ek en Dean Bolton sakke vol vis in die 200gr tot 500gr klas gevang. Meeste van die dae meer as 50 elk. Intussen vang Colin tydens elke uitstappie net ’n paar visse maar nooit enige kleintjies nie. Soos enige hengelaar het ek al hoe meer begin belangstel in wat Colin doen. Dit is darem net te veel van ’n toeval dat hy altyd groot vis vang. Ek moet darem ook verduidelik aan diè wat my nie ken nie – ek is glad nie ’n spesie- of grootkarphengelaar nie en verkies ek eerder om 50 klein vissies te vang as 3 of 4 grotes.

’n Paar maande gelede is ons weer by die dammetjie en soos gewoonlik vang ek en Dean die een klein karpie na die ander. Na so drie ure se hengel dink ek by myself dat ek wil graag ook een van daai mooi karps vang, al vat dit dalk bietjie langer om ’n byt te kry. Ek het ’n haarstrop by Colin gekry wat hy sommer vir my gelaai het met ’n pop up. Na ’n bietjie dinkwerk het ek my Feederstrop verander en die haarstrop saam met my Feeder gegooi op dieselfde plek waar ek alreeds sowat 50 jong karpies gevang het. Ek het by Dean gaan sit en gesels terwyl ek vir ’n byt gewag het. Na sowat 45 minute sien ek daar staan my stok ’n boog soos ’n vis byt. Ek het vasgeslaan en vinnig besef hierdie is nie een van die normale klein karpies nie, en na ’n lekker geveg land ek toe ’n 5kg karp op die haarstrop.

Ek het nog my hele loopbaan lank geweet dat ’n haarstrop werk vir groter vis, maar het nooit besef dit is so effektief nie. Ek was regtig verstom om te besef dat daar wel groot vis op daai selfde kol kom wei het as waar die kleintjies nog die heel dag was.

Na hierdie spesifieke dag het ek baie meer dikwels aan die hengel van groot vis begin dink.Verlede maand se winterhengel artikel was by dieselfde dammetjie en ek het die een na die ander klein vissie gevang. Nadat ek al die materiaal gekry het vir my artikel het ek besluit om sommer te kyk of ek nie hierdie grootvishengel verder kan vat nie. Colin se hulp is weer ingeroep en ek het my Rietvleistrop se hoeklyntjies afgebyt en die haarstrop op die onderste swiveltjie vasgemaak. Ek het weer ’n pop-up aas op gehad wat ek net in skoon “Peach” gedoop het. Die ander stok het ’n kombinasie-aas op die haarstrop gehad, wat ek ook sommer in die “Peach” gedoop het. Ek het ’n gewone voerbal op die gewiggie geplaas. Ek het in die tweede helfte van hierdie sessie 5 karpe van oor die 5kg elk op hierdie metode gevang. Colin en sy twee boeties het ook intussen heerlik onder die groot karpe baljaar. Daar is ’n mooi eilandjie in die dam waar die voëls in die nag in die bome slaap en Colin het met sy laaste paar uitstappies agtergekom die groot vis hou daarvan om teen hierdie eilandjie te voer. Ek vermoed hulle is eerstens agter die voëls se mis aan en tweedens hou alle vis van een of ander vorm van struktuur. Colin het hulle stokke teen die eiland aan die voorkant gegooi terwyl ek my twee stokke teen die regterkant en net verby gegooi het. Dit was baie duidelik aan die byte wat ons gekry het hoe die visse om die eiland rondbeweeg. Wanneer ek byte kry was dit stil by Colin hulle en anders om. Hou maar altyd in gedagte dat enige struktuur in die water potensieel ’n plek sal wees waar vis gemaklik is. Soos julle seker al agter gekom het sê ek maar ’n ding soos hy is, en hierdie twee geleenthede het net weereens bevestig dat baie hengelaars die sport heeltemal te ingewikkeld maak. Ons sien elke dag hoeveel gerei en ase en setups daar is vir grootkarphengel, maar as dit nie binne jou finansiële vermoë is om al die voorgestelde duur gerei ensovoorts aan te skaf nie, is dit nogtans geen rede om nie groot karpe te kan vang nie. Op die bygaande fotos sal julle sien dat ’n baie eenvoudige verandering aan jou normale strop ’n nuwe wêreld vir jou sal laat oopgaan. Colin gebruik ’n eenvoudige strop waar hy of ’n gewig of ’n spring gebruik om die voerbal te dra. Ek glo nie hy sal omgee nie so ek noem dat gewone haas pellets saam met sy voer meng. Aangesien hierdie pellets hard en droog is, begin hulle los te breek en veroorsaak drywende dele rondom die voerbal. Sommige van hulle gaan selfs tot op die oppervlak wat dan ’n voerlyn maak tussen die bal en die oppervlak. Die heel beste deel van hierdie opset is dat jy dit kan gebruik met jou gewone oewergerei. Die haarstoppe is te koop in pakkies van 4 reeds gebind en reg vir gebruik. Net vir kennisname het Colin op geen van hierdie bogenoemde geleenthede enige Tiger Nut, Hemp, Maples of Mielies gebruik om die vis te lok nie. Ook geen duur PVA sakkies nie. Wanneer jy dus jou volgende hengeluitstappie beplan gaan kry maar net vir jou die volgende: klaar gebinde haarstroppe, een of twee houers Wafters en pop-ups, ’n boilienaald en ’n pakkie stoppers. Ek gaan verseker die paar ekstra goedjies meer gereeld saamvat as ek gaan Feederhengel. Mens weet nooit wanneer jy dalk lus raak om ’n groter karp te vang, en op hierdie eenvoudige manier is dit baie maklik. Die Wafters en pop-ups het ’n lang rak lewe so daar is ook geen lang voorbereiding nodig nie. Dis ’n baie eenvoudige en lekker manier om jouself te geniet, en moontlik sommer daai droom persoonlike beste karp te vang. Lekker hengel!

Pragvis kan gevang word deur net effe aan jou Rietvlei strop veranderinge aan te bring.
Tags
Close