‘n Terugblik op 2023 se QUEENS OF THE OCEAN by St Lucia, want … dis weer sulke tyd!
Hierdie jaar, dis nou 2024, se deelname waar net dames mag deelneem aan die gesogte diepsee hengelkompetisie, vind plaas vanaf 29 Augustus om 17:00, waar hul begin met deelnemers se registrasie by St Lucia se Skibootklub. Indien die weer dit toelaat, sal Vrydag en Saterdag die twee hengeldae wees, en die prysuitdeling Saterdagaand die 31ste Augustus. Ons is daar, hou Facebook dop, so ook die volgende digitale tydskrif vir die volle verhaal! – Nuusredakteur Charmagne Grimbeek.
WOORDE: Charmagne Grimbeek FOTO’S: Jaco en Charmagne Grimbeek & Verskaf
105 deelnemers op 35 bote!
Die jaarlikse Queens of the Ocean, ’n dames diepseekompetisie in St Lucia, het geen bekendstelling vir ons gereelde lesers nodig nie. Op 1 en 2 September was diepseevisvang vir ’n hele klompie nuwe bywoners ’n eerste keer wat hul dit gewaag het. Hul noem dat dit een van die lekkerste en opwindendste paar dae was. Terwyl hul die walvisse en nuwe ervaring geniet, kon van hul ook nog verras word met groot vangste! Organiseerder Velia Tonkin het die dames behoorlik bederf met eksklusiewe ‘goodie bags’ waarvan daar ook ’n egteleer rugsak in was, so ook was daar heerlike aandetes aan elkeen bedien!
’n Indrukwekkende 105 dames het vanaf 35 bote, waarvan drie jetskis was, die soutwater aangedurf. Vir sommiges was dit ’n eerste keer ooit uit op die see, en vir ander was die strandlansering ’n uitdaging wat adrenalien tot in die hoogste spoed deur die are laat vloei het.
Uit die twee-dag kompetisie kon net een dag gehengel word. Daar was net te veel bote vir die onvoorspelbare weer om een-vir-een te lanseer, van die eerstes kon nog veilig deur die ‘surf’ gaan, maar beslis nie van die laaste bote nie, daarom dat regverdigheid en veiligheid belangrik was vir geen onaangename insidente nie.
Wilde Weste
Nes ons dames is, word daar ’n tema by elkeen van die eksklusiewe samekomste gekoppel, so was hierdie jaar se tema die ‘Wilde Weste’ waar hul saam met hul spanne, skippers en ghielies geklee by die funksie arriveer het, van soos Indiane geklee, tot met opblaas-perde en joligheid het onder mekaar gevier. Daar was selfs ’n speel-speel stoetbul wat menige so lank as hulle kon probeer op bly het, en met die afgooi daarvan in ’n akrobatiese bollemakiesie bo-op ’n opblaasmatras geval het!
Met net een dag oor om al die groot pryse op te raap, het die bote die volgende dag al voor twee-uur die oggend voor die valhek by die Ingwestrand begin toustaan. Met elkeen wat ’n nommer kry vir wie eerste die see ingaan en dan dadelik kon gaan visvang, was dit ’n ‘first come, first serve’-basis, daarom die vroegoggend paraatheid.
Alhoewel die dames hard moes werk om hul visse gevang te kry, en hoe meer spesies, hoe beter, het van hul uitgeblink met eerstes! Vanaf die boot Jehovah Ropheka het Elma Dos Reis, op haar heel eerste diepseerit, met ’n 29,66kg cuda vasgemaak en na 15 minute was die vreeslike vis met sy raspertande op die boot se dek.
Lienkie Lübbe en Elanie Boshoff vanuit die Vrystaat wat nog nooit in die see vis gevang het nie, het die boot, Lega Sea bespreek. Met nog twee wildvreemde dames om hul groep vol te maak, kon hul gou nuwe vriende maak en het hul, hul harte uitgehengel met weegbare vangste, ’n 8,20kg geelvin-tuna en ’n 5,33kg Natalse snoek. Ongelukkig het hul die berigte ‘The one that got away’-ervaring met eie oë aanskou toe ’n seilvis aan was, maar daarna verloor is.
Een van die jetski skippers, bekende Kevin Tait, aka Slayer Tait van Ballito se vrou, Coreen, was vir die eerstekeer ooit uit op die see! Sy het dit so geniet dat sy net nie wou opgee om vis te soek nie. Sy het ’n hele paar visse gevang, onder andere ’n 5,74kg Natal snoek. Ongelukkig het haar leervis en ander snoek nie die 5kg-merk gehaal wat dit moes weeg nie.
Met ’n see wat redelik stil begin en later die dag opgetel het, was daar ’n paar snawelvisse tot by die boot gebring, onder andere ’n swartmarlyn vanaf die boot Captain Fine. Met hengelaar Sella Schönfeldt agter die stok, nie haar eerstekeer nie, maar om ’n marlyn ‘standup’ en in ’n uiters lewendige see te moes baklei, het nogal uithouvermoë gevat, maar na ’n uur en 10 minute was die marlyn tot by die boot en kon hul dit aanteken en vrylaat. Sella wen die prys vir die swaarste vis, en haar boot verower eersteplek!
Vier dames was gelukkig met seilvisse: Rika Meintjies vang haar seilvis net na nege-uur vanaf hul boot, C-Angel en wen ’n prys vir eerste seilvis vir die dag gevang; net daarna vang Kaylee Bartho vanaf Valhalla II haar seilie; en Elizca Smith vang haar heel eerste vis in die see, en dit nogal ’n seilvis, vanaf die boot, Stella; op die boot Vyfster, het Madelein Grobler, ook haar heel eerste seilvis gevang!
Eleanor Roode was die enigste vrou op die boot Fintastic met net ’n skipper en geen ghielie, en het hard gewerk vir haar visse. Een van haar mooi vangste was ’n 16,56kg kobia, met ’n tweede spesie, ’n leervis van 7,66kg! Sy verower tweedeplek onder die Top 10 damehengelaars, met hul boot vierde tussen die 35 spanne.
’n Totaal van 26 visse was geweeg uit 19 bote, met agt verskillende spesies geweeg en vrygelaat. Net een boot, John Deere Junior, kon drie spesies vang waarmee hul tweedeplek geëindig het. ’n Pragtige geelvin-tuna van 19,22kg was vanaf die boot Valhalla II gevang deur Danica Bartho! Dit was die tweede grootste weegbare vis van die kompetisie en hul span wen derdeplek!
Na afloop van die groot prysuitdeling, het almal by St Lucia se skibootklub vanuit die groot markiestent, wat soos ’n ‘Billfish 15000’ vertoon het, vir ’n laaste keer lekker saamgekuier en alreeds planne gemaak vir die volgende samekoms.
*Vir ’n opwindende dames wegbreek volgende jaar op 30 en 31 Augustus, bespreek jou plek by Velia Tonkin, veliatonkin@gmail.com.
Verblyf aan Stywe Lyne-span
Hippo Lodge in St Lucia het vir die Stywe Lyne-span gerieflike verblyf met ontbyt, wat na ’n middagete toe verander het, verskaf by hul Meet & Eat St Lucia, restaurant. Besoek hul gerus met jou volgende besoek. Daar is heerlike ontbytkeuses, pizza’s, tot en met laataand disse en verskeidenheid eksotiese drankies om van te kies en keur in hul lekker kuierarea!