fbpx
AdventureBank AnglerLatest NewsNewsTournament News

Streek 5 Dag 2, Nautedam

Fotos: Hengelaars en spanbestuurders

Die Tweede Toetswedstryd toets die hengelaars se temperament en die Namibiese Juniors stof die Proteas uit.

Die koue weer duur voort en die water is by aankoms sommer nog ‘n paar grade kouer. Dis letterlik asof jy in ‘n ysbad instap en binne minute is jou voete morsdood. Die wind het ook effens meer suid gedraai en die lyne lê met ‘n groter bak, wat beteken dat vashaak ‘n baie groter realiteit geword het.

Soms kom die boompies uit sonder die vis en ander keer nie. Hoog staan en katrol en afstandhengel was aan die orde van die dag.


In die Junior-afdeling klop die SASACC span die juniors van die Namibiese Federasiespan weereens oortuigend met 7 punte teen 13. Lance Sherrin van SA weeg vir die tweede dag in ‘n ry die swaarste sak asook die meeste vis (27,82 kg / 25 vis).

Die span van SA met hulle trotse vangste. Lance Sherrin heel links.

Die nasionale junior span van Namibië hengel met ‘n plan en dwing gelyke punte van 10 af, maar het twee meer vis as die Proteas en wen die toets.  Die derde dag (Donderdag) is dus maak of breek vir die spanne. Rikus van Staden laat sy tuiswater voordeel tel en weeg die swaarste sak en die meeste vis (44,04/34) wat ook die meeste vis op die oewer is. Op die pen langs hom jaag SA se Ryno Annandale hom, maar kort 5 vis en 8kg. Ryno weeg egter ‘n bul van ‘n moddervis (1,94kg).

Rikus van Staden weeg die swaarste sak en die meeste vis
Ryno Annandale met ‘n mooi sak vis en ‘n muddie van 1,94kg

By die Dames Presidentspanne stap SA weereens weg met die louere (8-12).

Lizel J van Vuuren (links) weeg die meeste vis en Wilma MacDonald die swaarste karp (5,72kg)
Hierdie pen bly wen en hier is Marita Momberg (links), gister se swaarste sak wenner saam met haar penmaat Alicia Appelcryn wat die titel oorgeneem het vir die dag met 21,88kg.
Nadine Pienaar weeg die swaarste kurper vir die dag.

Die Protea-dames herstel goed van die vorige dag se naelskraap oorwinning en wen oortuigend met 7-13. ‘n Totaal van 106 vis vir 219kg word deur hierdie twee spanne geweeg.

Ella-Marie Prinsloo weeg vir die tweede dag die swaarste sak van 44,26kg
Mandy Breedt stap weg met die meeste vis – 27
Monique Venter gaan haal die karpe daar diep en weeg ‘n bielie van 5,65kg
Leilani Meyer weeg die grootste baber van 15,02kg; hier word sy bygestaan deur haar spankaptein Corné Bergh.

Die Senior Federasiespanne vang in totaal 157 vis vir 288kg en SA wen met 11 teenoor 19 punte. ‘n Paar pragsakke word hier ingeweeg.

Hendrik Louw maak skoonskip en weeg die swaarste sak (47,36) asook die swaarste karp (5,74)
Kaptein Sean MacHattie staan trots by sy manne. Links op die foto is Morné Saayman wat die meeste vis (22) weeg en regs is Jaco Beyneveldt.
Charles de Klerk weeg die swaarste kurper.

Die Konfederasie senior spanne weeg vandag 247kg se vis (137) waarvan Chad Dalby se bydrae 44,42 kg/22 vis beloop. SA wen vandag meer oortuigend met 12-18.

Chad Dalby weeg die swaarste sak.
Dian von Solms (Nam) gradeer sy karp van 6,08kg van gister op na ‘n bielie van 6,36kg. 

Die Nasionale Seniorspanne het die eerste dag bykans 300 kg se vis ingeweeg en verbeter dit met 56kg. ‘n Totaal van 134 karp en 24 muddies word geweeg. Die Proteas vat die wen met 11-19 en Francois Spyer weeg die swaarste sak vir die afdeling, asook die oewer (50,44kg), met Ronnie Meyer en WG Thomas wat albei 19 vis weeg.

Francois Spyer weeg algeheel die swaarste sak op die oewer.
Morne Prenn met sy bielie van ‘n karp (6,02kg).
Dawid Oberholzer weeg die swaarste muddy.

Die Meesters laat ook nie op hulle wag nie, en die manne van SA behaal vir ‘n tweede dag in ‘n ry volpunte deur slegs 9 punte af te staan, teenoor Namibië se 21.

Hier is Johan Booysen, James Reid (grootste kurper) en Jeff Eekhout wat die swaarste sak(45,48) meeste vis (24) en swaarste baber (16,18) inweeg.
Amanda Bothma, die enigste dame in die afdeling, staan glad nie terug nie en weeg die swaarste karp (4,44) asook die swaarste muddie (1,10)

Daar is slegs een dag oor en alle oë is gerig op die Namibiese Juniors wat hulle enigste kans is op ‘n reeks oorwinning. In die wedloop om kampioenhengelaar  te word is daar nog baie wat kan gebeur en niemand wil ‘n voorspelling waag nie. In totaal is daar 9 hengelaars wat die perfekte 2 punte verdien het, maar dag 3 sal die laaste sê uiter!

Related Articles

Close