O/13 Junior B & C Afdelings by die Junior SA’s

@Die Sloep, Bloemhofdam

WOORDE: Werner Lubbe | FOTO’S: Verskaf

Bloemhofdam Sloep was vir ‘n week lank propvol junior hengelaars, ‘n totaal van 51 spanne met 328 hengelaars, uit sewe afdelings. Die kampioenskappe het plaasgevind oor ‘n tydperk van drie dae, waarna daar ‘n rusdag was, gevolg deur nog twee dae van nasionale proewe, waaruit al die nasionale spanne gekies sou word.

In totaal is daar 32695 vis gevang vir ‘n totaal van bykans 12 ton. Om al hierdie vis geweeg te kry, asook die telkaarte te administreer, is ‘n span van nie minder as 17 gekwalifiseerde beamptes gebruik. Dit is indrukwekkend op sig self, en ‘n gemiddelde vangs van 100 vis vir 36kg is per persoon ingeweeg, oftewel 33 vis en 12kg per hengelaar per dag.

Die grootste vis vir die toernooi, ‘n baber van 11,7kg (gevang deur PZ de Beer – 0/13 B- afdeling) en ‘n graskarp van 9,7kg (gevang deur HJS Alberts – Premier-afdeling) plaas die beduidendheid van die toernooi op ‘n heel ander vlak. Die swaarste sak (111,61kg) oor die drie dae is aangeteken deur J van der Merwe in die Premier A-afdeling, terwyl MJ Mostert die meeste vis (401) ingeweeg het. Hy het ook in die Premier A-afdeling meegeding en die waarde van die deelname aan die Pro Mania die vorige naweek is ook duidelik merkbaar.

‘n Ander baie interessante statistiek, is dat vyf uit die sewe van die grootste spesies, in die 0/13-afdeling ingeweeg is, waarvan vier uit die B en C spanne. Die afleiding hieruit is dat die grootste visse beslis op die nader afstande gevang is.

Onder 13B- & C-afdeling

Die penkoppe, oftewel die jong hengelaartjies wat nog op laerskool is, is natuurlik ons trots en ons toekoms. In hierdie afdeling hengel hulle ook so effens korter – ses ure in plaas van agt en het hulle ook so bietjie meer hulp. Nietemin, as ons na die resultate kyk, staan hulle glad nie terug nie en word daar goeie vangste geweeg. Ten spyte van die korter tydperk, het hulle steeds meer as 60 vis gemiddeld en meer as 20 vis gemiddeld gevang.

Nou, die B- & C-afdelings is werklikwaar die plekkie waar elke jong hengelaartjie begin; hier is letterlik kleintjies van ses en sewe jaar oud. Wanneer ons kyk na die 0/19 hengelaars, is daar ‘n geneigdheid om al verder en verder te gooi op soek na die groter vis – maar is dit werklik nodig?



Kyk na hierdie statistieke uit hierdie afdeling:

Grootste karp: R van Vuuren, Limpopo – 3,57kg (tweede swaarste op die oewer).

Grootste graskarp: H Coetzee, Gauteng Noord C – 4,56kg (tweede swaarste op die oewer).

Grootste goudvis: H Coetzee, Gauteng Noord C – 0,39kg (swaarste op die oewer).

Grootste moddervis: H Coetzee, Gauteng Noord C – 1,25kg (swaarste op die oewer).

Grootste koi: H Coetzee, Gauteng Noord C – 0,37kg (swaarste op die oewer).

Grootste baber: PZ de Beer, Sentraal Noordwes – 11,7kg (swaarste op die oewer).

Grootste kurper: M Klemp, Vrystaat – 11,7kg (swaarste op die oewer).

Hierdie is nou ‘n baie duidelike bewys dat die groot vis hier vlak op ons tone is, en die meeste hengelaars bo-oor hulle hengel. Welgedaan aan hierdie hengelaartjies.

In die spannekompetisie stap die B spanne weg met die medaljes en Vrystaat neem goud met Limpopo en Gauteng Noord met silwer en brons onderskeidelik.

Die kampioenhengelaartjie kom ook uit die Vrystaatspan en M Klemp is ook die enigste hengelaar met volpunte. Hy maak skoonskip en stap ook weg met die goud vir die meeste vis en die swaarste sak – 178 vis vir 52,94kg. OR Trosello (Sentraal Noordwes, 2de plek) en O Foxcroft (Vrystaat) maak die podium vol.






Lees ook /Also read …




The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!

5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x