O. OORDFOKUS: LOCK NEST, PRETORIA-NOORD

WOORDE en FOTO’S: Charmagne Grimbeek

Naas die noorde kant van die besige stad Pretoria, lê ‘n pragtige, skoon dammetjie genaamd “Lock Nest” met ongelooflike struktuur en dekking om in te hengel. Verskillende spesies wei hoogs tevrede in dié ongerepte ekosisteem aan verskillende natuurlike aassoorte – mossels, slakke, garnale, bloedwurms en krappe.  

Volskubkarp en unieke spieëlkarp, kurper, baars, baber en selfs modderbek word hier in die onbesoedelde water gevang. Baie belangrik en wat alle hengelaars in gemeen het by die dam, is beslis vang en vrylaat sowel as versigtige vissorg.

Die dam is ideaal vir spesiehengelaars om die groter as 15kg-plus karpe te teiken, maar met al die natuurlike kos kan dit egter ‘n uitdagende dam wees – beslis nie een van die tempohengeldamme nie, maar beslis ‘n dam vol lewe. Met net agt staanplekke beskikbaar, is lyndruk minimaal, en wanneer jy ‘n vis aan het, wees verseker dat dié gesonde visse jou gaan verras met ‘n lekker stewige baklei!

Vir dié wat graag meer as een spesie wil vang, kan jy ‘n opblaasbootjie weg van die oewerhengelgebied op die dam sit en tussen die riete na baars, kurpers of babers gaan soek. Kunsaas werk goed oral in die dam, selfs van die oewer af, maar wees baie versigtig as jy in die dam wil loop want na net die derde tree raak dit vinnig diep, so bly liewers op die oewer. Daar is waterlelies waar baars met kunspaddas gevang kan word, en plekke sonder plante om sleepase soos  crankbaits en spinnerbaits te gooi.

Hierdie hengelaar het met sy kickboat mooi baars met crankbaits en rubber paddas tussen die waterlelies en riete gevang.

Jou geduld en vaardigheid word by Lock Nest getoets, tog vind jy hier rus van die stad se gejaag. Dis bekostigbaar, familievriendelik met skoon badkamergeriewe, en dan het elke staanplek boonop sy eie geboude braai.

Bespreking is noodsaaklik! Geen troeteldiere word toegelaat nie; plaasdiere loop rond op die perseel en deur die nag pas twee groot honde kampeerders op.



ONS WAS DAAR

Dis altyd ‘n uitdaging om nuwe water te besoek. Ons was egter gelaai met geduld, genoeg vleis om te braai en ‘n gazebo om moontlike reën en die son weg te hou, en natuurlik ons hengelgerei!

Skaars ‘n lyn in die water, toe herinner buurman Pieter ons dis nie ‘n tempohengeldam nie! Met my en my man Jaco op een staanplek, Niël Grimbeek en Andries van der Walt reg langs ons op hulle staanplek, het ons van die lyne lekker ver met ‘n bootjie ongeveer 170 meter van die oewer af na die oorkant van die dam ingevat, en die aas net voor die riete laat val. Ons almal het met floaties en mieliebom ons kans gevat, en soos ons gehoor het, werk vrugtegeure!

Buurman Pieter Bezuidenhout is aan met ‘n baber. Hy besoek die dam gereeld.
Mpho Bernard Tnokotsi was saam met buurman Pieter by die dam, met sy eerste vis uit dié dam gevang, nogal ‘n besonderse loodvis met ‘n floatie geflous.
Die dam is breed genoeg om met ‘n klein boot aan die oorkantste wal te gaan dobber op soek na vis. Jaco het van ons lyne ver in gevat sodat ons op verskillende plekke vis kon kry.
Een van die eienaar se honde wat hengelaars langs die dam oppas.

Skaars ‘n halfuur later en die eerste vis byt aan Andries se aas, nogal die lyn wat self ingegooi is op ongeveer 70 meter. Die karp word mooi uitgebring, foto geneem, en weer vrygelaat. My beurt, en ek is aan met ‘n baber, nou nie my gunsteling vis om vas te hou nie, hy byt mos (!) en so wrintie, knyp-byt hy my toe ek hom laat gaan!

Andries van der Walt het die meeste karp vir die dag gevang, almal min of meer hierdie grootte. Dié karp het 2.870kg geweeg.


Ons was aangenaam verbaas dat die vis dan so gou byt, en teen die einde van die dag het elkeen van ons ‘n hele paar vis deur die dag gevang. Die vis is regtig in ‘n goeie toestand. Jaco het die allermooiste karp gevang, en soos verstaan, is daar nog baie van dié unieke spieëlkarpe.

Jaco met die mooiste karp wat ek nog ooit gesien het, ‘n unieke two-tone spieëlkarp!
Skrywer glimlag breed met haar derde vangs, uiteindelik ‘n karp! Sy het ook twee babers gevang, alles op Banlick Oozers en MacPac se heuning floaties.
Die karpe het ons almal lekker breed laat glimlag! Niël Grimbeek het sy eerste vangs heel laaste tussen die vier van ons gevang; sy aas was ‘n Banlic floatie.
Hierdie grootte babers het gereeld uitgekom, hulle gee ‘n groot geveg.

Op ‘n stadium het die lyne gekruis en moes Jaco sy stok in die bootjie laai om die vis te gaan haal. Sy lyn raak toe verstrengel in ‘n ander, los lyn in die water wat sowaar nog ‘n karp aan gehad het. Hy haal toe die karp uit, kry die hoek uit en sny die lang lengte braid af en plaas die gelukkige vis terug. Nadat die karp gered is van die elle lange braided lyn wat dit vir wie weet hoe lank al moes saam sleep, kon dit gemakliker swem en wei sonder om ekstra energie in te span. Maar terwyl almal se aandag aan die arme karp toegespits is, dryf die bootjie weg en Niël moes so ‘n paar hale swem om dit terug te bring oewer toe! Nog opwinding met ‘n gelukkige einde.

Dié gelukkige karp het 4,475kg geweeg. Vir sy lengte kon hy maar baie meer geweeg het. Ons vermoed die braided lyn waarmee hy vir wie weet hoe lank geswem het, het sy groei beïnvloed. Jaco het met sy boot die dam ingeroei om sy eie lyn te red en so het hierdie karp tussen sy lyne vasgehaak. Min wetend dat die boot wegdryf en Jaco poseer vir die foto, moes Niël vir ‘n swem gegaan om die boot te red!

Ons sal weer hierdie klein dam besoek, en beslis ‘n oornagsessie daar wil deurbring.

*Besprekings: Skakel Hester by 083 511 0344.


5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x