fbpx
Bass AnglerColumnsLatest IssueVenues

Ons keer terug na Rust de Winterdam

Ons was jare laas by Rust de Winter en kon dit nie meer langer verduur nie. Woorde: martin Engelke

Die skrywer met ‘n gesonde “keeper”.

Die viskwaliteit het verbeter, maar terselfdertyd is die vrywillige kompetisie moratorium gelig, welke kompetisies die hengelkwaliteit laat afneem het. Visstropers word ook nie van blaam onthef nie.

Ons vors na of daar enige byeenkomste is vir die Saterdag en vind niks. Dit is eintlik die hoofrede hoekom ons daar wegbly oor naweke. Elke liewe georganiseerde baarshengel instansie hou sowat twee kompetisies hier per jaar. Rust de Winter is te klein vir so iets. Een boot kan feitlik die hele dam deurwerk in ‘n dag.

Maar toe ons teen 06:30 die laaste draai van die slegte grondpad voor die lanseerblad vat, sak beide die moed en taalkwaliteit want daar is ‘n klomp bote by beginboeie. “Ons het darem nog ‘n halfuur om hulle voor te spring”. Maar net toe spring hulle almal weg. Ons vind toe uit dat dit ‘n streekstoernooi is, wat nie aangekondig was op die publieke kanale nie. Dit is die helfte soveel bote as ‘n geldkompetisie, maar hierdie ouens is voorbereid op die ideale areas.

Kevin Fisher, voormalige SABAA President vir Juniors.

Saam met my is Kevin Fisher, voormalige SABAA President vir Juniors. Ons het eintlik drie weke vantevore al die uitstappie gereël en hy wou toe al rivier op.

Ons besef dat daar ander bote gaan wees, maar het nie besef hoe min water, met ander woorde spasie, daar sou wees nie omdat dit lekker by ons gereën het. Met diè is daar klaar vier bote. Jy moes as’t ware regoor die area vaar waar die ander ou so pas ‘n vis uitgehaal het, en boonop moes die buiteboord opgekantel word om nie in die gras vas te haak nie en die sleepmotor so hoog gelig word dat dit lekker spat. Ons was gelukkig almal heel ordentlik met mekaar.
Feit van die saak is, ons was op pad na die bome ver in die rivier op, maar dit was onbereikbaar.

Wat tegnieke betref, het ek in hierdie area verby die laaste mededinger, onsuksesvol ‘n vlakloper squarebill, ‘n Swimmin’ Dinger en padda probeer. Kevin het een kleinjie gevang op ‘n mojo grub, terwyl die ander manne almal gereelde vangste geniet het. Een met ‘n padda in die digte plantegroei langs die kante en die res met finesse sagte ase, wat hul lank op een plek stilgehou het in die gras reg in die middel van die kanale.

Ons was toe maar weer na ‘n halfuur gespook daaruit.
Daarna was die beste plek, waar ons konstant en gereeld byte gehad het, by gras en klippe teen ‘n onderwater steilte naby “Croc-Bay”. Die was net op pynlik stadige mojo grubs. Ons was aangenaam verras oor die grootte van die vis wat beslis oor die jare verbeter het. Die “2 kilo sak sindroom” is verby. Trouens het ons albei met ons eerste vyf vis, teoreties gesproke, “sak” gehad.

Teen uitskeityd het ons grootste visse in die 750-800 gram klas geval, met baie min van hulle ondermaat. Daar was wel ‘n krokodil naby, so was die skepnet dan byderhand.

Die enigste ander plek wat onbeset was waar ons ook beter as die sporadiese vissie gedoen het, was teen die diep kranse reg oorkant die lanseerblad. Hulle was egter merkbaar kleiner.

Ter afsluiting

Tot nou toe kon ons nog nie die “tradisie” verbreek, naamlik waar daar met elke liewe hengeluitstappie iets verkeerd moet loop nie! Met hierdie uitstappie het die feit dat ek my selfoon tuis vergeet het nie eens naby daaraan gekom dat die boot se sleepmotor teen sowat eenuur morsdood gegaan het nie. Na ‘n lang gesukkel en uitmekaarhaal teen die kant waar ons kort vantevore ‘n krokodil gesien het, moes ons maar oppak en huiswaarts keer.

Toegangsfooie was ook ‘n tamaletjie – hulle het so pas ‘n verhoging ingestel, om seker aan te sluit by van die ander oorde wat R300 vra.

Tags
Close