OORDFOKUS | Umgede River Lodge, Bloemhofdam

WOORDE & FOTOS: Riaan “Jan Alleman” Riekert

Direk vertaal uit Zoeloe beteken “umgede” grot, en wanneer jy Umgede River Lodge binnestap kry jy dadelik daai “klip-grot” gevoel. My eerste opinie met die instapslag was dat die klipwerk van die beste is wat ek nog gesien het. Om met klip te bou is nie maklik nie – hierdie werk is die handewerk van wyle Braam Stoltz Snr, een van die groot legendes in die hengelbedryf wat Suid-Afrika op meer as een geleentheid tuis en oorsee verteenwoordig het en vir sy Springbok reeks bekend was.

Hier is van die pragtige klipwerk van nader te sien, die Lodge het werklik daai grot gevoel.

Na sy afsterwe het sy twee seuns, Braam Stoltz Jnr en Willie, die huis hier en daar aangepas en dit staan vandag bekend as Umgede River Lodge

Die Lodge is op die Vaal Rivier aan die onderkant van Bloemhofdam. Destyds was Braam Snr baie slim om twee erwe te koop – dit is een van die min plekke langs die oewer wat twee erwe het, wat ten minste 50m se lekker hengeloewer verskaf.

Vroegoggend op die pragtige oewer.

Wat die area ook so uniek maak is die voëllewe en die aangrensende natuurreservaat wat dit vir voelkykers ‘n paradys maak. Willie is ‘n kranige fotograaf en die voëltjie op die Lodge se verwelkomingsbord is juis een van sy puik foto’s wat hy self geneem het. Lodge bestuur is vir Willie nie iets nuuts nie en hy kwyt hom baie goed van sy taak. Umgede River Lodge  is nie net ‘n plek vir die hengelaar nie – dit is perfek vir Jan Alleman en sy gesin om net lekker van die stad se geraas weg te breek en te ontspan.

Ingangs bord na Umgede River Lodge met een van Willie se prag natuurfotos

Die Lodge bestaan uit 4 ruim kamers – 2 met dubbelbeddens het, een met 2 enkelbeddens en die hoofkamer met ‘n koningingsgrootte bed. Die hoofkamer het die mooiste uitsig oor die rivier en die badkamer met ‘n massiewe stort voel letterlik of jy ‘n grot binnestap. Die ander badkamer is sentraal tussen die ander kamers en is met ‘n bad en ‘n stort toegerus. Elke kamer het ook sy eie televisiestel en danksy die WiFi kan jy kies tussen Netflix en DSTV.

 Van die kamers af volg jy ‘n lang klip trap af na die ontspannings area waar die lekker kaggelvuur en groot kombuis op jou wag. Vanuit hierdie vertrek het jy weereens die mooiste uitsig oor die rivier. Die kombuis is ten volle toegerus met alles wat jy benodig en het ook twee groot yskaste vir jou gebruik.



Soos jy by die agterdeur uitstap rivier toe is daar ‘n lekker borrelbad om daai “sundowner” in te geniet, en ‘n lekker groot dek beskut met ‘n grasdak om net af te saal en lekker te ontspan. Die boma is 10m van die oewer af en perfek vir lekker groot vuur maak en natuurlik lekker vleisie op die kole gooi. Vir die avontuurlustige gaste is ‘n trap-boot vir twee persone en binnekort ook twee kajakke beskikbaar. Die damwal is net 1km rivier-op – perfek om met die boot en kajakke ‘n besoek by die wal af te lê. Die vislewe by die wal is indrukwekkend – ek dink dis as gevolg van al die suurstof met die vallende water dat die visse daar so wemel en baljaar.

Borrel bad en pragtige uitsig van die huis, die borrel bad kyk uit op die rivier en is perfek vir daai lekker Sundowners
Die Boma is perfek geleë om sommer die stokke ook dop te hou as daai vettie byt!

As dit alles nog nie genoeg is nie, is die Bloemhof Natuurreservaat net ‘n klipgooi af in die pad – dit is werklik die moeite werd om te besoek. Soos vroeër genoem is dit ook baie bekend onder voelkykers, en ek het my verkyk aan al die verskillende spesies in die omgewing.

Daar was darem met die besoek ook tyd om lyne nat te maak en ‘n paar vetties is geland. Massiewe babers word gereeld gevang en die mooi karpe is ook nie te versmaai nie. Met die koueweer het ons meer op die karpe gefokus maar sal verseker in Desember terug wees om daardie groot snorre te teiken.

 Die kuier was werklik lekker en Riaan Alleman was omtrent soos ‘n koning behandel; ongelukkig egter kom alles tot ‘n einde maar ek sal verseker terug wees. Moenie op julle laat wag nie – maak julle besprekings want glo my dis die moeite en elke sent werd. Waar is dit lekker? Hier is dit lekker!

*Vir alle navrae: Willie Stoltz – 072 049 7115; Braam Stoltz – 083 560 4159.



4 2 votes
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x