OORGRENS TIERVISAVONTUUR: SALMO Ekspedisie Na Massingirdam In Mosambiek
WOORDE: Bernard Venter FOTO’S: Almal wat saam gehengel het.
Dit was my voorreg om onlangs saam met medelede van die Salmo Kunsaashengelklub by die Massingirdam in Mosambiek te gaan tiervis vang.
Die dam en sy diere
Die Massingirdam is in die Olifantsrivier wat deur Loskopdam, Arabiedam en die Kruger Nasionale Park vloei en dan in Mosambiek by die Limpoporivier aansluit om in die Indiese Oseaan uit te mond. Massingirdam is ongeveer 30 kilometer anderkant die Suid-Afrika/Mosambiek grens. Dit is die tweede grootste dam in Mosambiek en is vir besproeiings doeleindes van die laer Limpopo-vallei gebou. Die damwal is 47 meter hoog en het ‘n baie lang wal van 4500 meter lank.
‘n Deel van die dam grens aan die trans-nasionale Kruger Nasionale Park. Ons het olifante en ander wild langs die oewers van die dam gesien. Die dam was tydens ons besoek net meer as 50% vol wat sekere van die oewers baie modderig gemaak het. Ons het o.a. drie buffels gekry wat in die modder vasgeval het en tot by hulle horings in die modder weggesak het wat tot hulle wrede dood gely het. Daar is ontsettend baie krokodille en seekoeie in die dam en kon ons sien dat een van die buffels was halfpad deur krokodille opgevreet. Die voëllewe is ook besonders en ek het nog nooit so baie visarende gesien nie.
Roete en verblyf
Ons het vanaf Pretoria gery en die roete oor Polokwane na die Phalaborwa hek van die Kruger Nasionale Park gevolg, dan oor Letaba ruskamp na die Giriyondo grenspos en vandaar na die dorpie Massingir, so 15 km van die dam. Die rit neem ongeveer 12 ure vanaf Pretoria en dit is belangrik om vroeg genoeg weg te spring om voor 15:00 by die grenspos te arriveer. Ons het nie probleme ondervind om deur die grenspos te gaan nie. Ons het by Covane Lodge langs die dam tuisgegaan. Dit is baie gerieflik ingerig en ons het baie lekker tuisgegaan en die gasvryheid van Andre en Marina Scholtz wat dit bestuur, geniet.
*Besoek gerus: http://www.covanecommunitylodge.com/
Massingir – jou ma se tier!
Ons hoofdoel was om tiervis in die Massingirdam te gaan vang. Ons het Uncharted Fishing Company gekontak wat dikwels by Massingirdam vis vang. Die gidse, Arno Morton en Eugene Potgieter, is baie ervare en knap hengelgidse. Ons het nie nodig gehad om bote na Massingirdam te sleep nie, want Uncharted Fishing Company het doelgemaakte bote wat met gemak drie hengelaars en ‘n skipper kan hanteer. Kontak hul gerus by +27 83 320 6972 of +27 78 893 2117.
Ons het besluit om laat herfs, voor die reën kom, na Massingir te gaan omdat dit dikwels ‘n goeie hengeltyd vir tiervis is. Die weer kan egter nooit gereël word nie. Ons beplanning was om vier dae te hengel. Die tweede dag het die wind so sterk gewaai (30 knope) dat mens nie met ‘n boot op die dam kon gaan nie. Die wind het ‘n ongekende kouefront vir einde Augustus saamgebring en die volgende dag was dit nat en koud op die dam. Glad nie goeie weer vir tiervis nie. Ons het twee hengeldae wat hengelbaar gehad, en het onder omstandighede steeds goeie vangste opgelewer.
Daar is genoeg tiervis, maar in dié groot dam is dit belangrik om te weet waar om vir die tiere te gaan soek. Arno en Eugene se kennis van tiervis en die dam was in die opsig baie waardevol. Die dam het ongelukkig, soos baie ander damme in Afrika, ontsettend baie kiefnette wat vir seker ‘n negatiewe impak op die vispopulasie het. Ons het talle tiervis gevang wat in ‘n stadium uit ‘n kiefnet losgebreek het, maar steeds oorblyfsel van die net om die lyf gehad het.
Ons beste vangste was by eilande en bome in die dam. Die tiervis jag op die kurpers tussen die bome in die water om die eilande. Die tiervis jag in skole en as jy een tiervis vang, is die kans goed om onmiddellik meer tiervis te vang, totdat die tiervis agterkom hulle is die teiken. Dit wou voorkom asof die tiervis op vasgestelde roetes jag en ‘n uur later weer op dieselfde plekke gevang kan word. Dit is beter om nie na ‘n boom te gooi nie want jou kans om ‘n kiefnet te haak is uitstekend. Gooi eerder in die omgewing van die boom want dis waar die visse jag.
Ons het ook groot tiervis op die sleepmetode (trolling) gevang, maar die baie kiefnette maak hierdie metode baie moeiliker.
Hengelgerei
Om suksesvol vir tiervis te hengel, is die regte hengelgerei van kardinale belang. Tiervis is die vinnigste varswatervis en sy kragtige geveg word nie met ligte gerei gestuit nie!
Ek het met ‘n Savage Gear 7’3” MH visstok en ‘n Lews Superduty baitcaster, gelaai met 40-pond JDB DNA 8X braid, gehengel. Dit is ‘n puik kombinasie.
Ons het almal met 17gram DAM Effzett Predator #4 spinners gevang. Ons het die agterste drie-angel hoek met ‘n Mustad Kendal Round 5/0 hoek vervang.
Die 22 gram Effzett Double Copper lepel met ‘n enkel BKK hoek is ook ‘n baie goeie kombinasie vir tiervis.
Die gewilde Salmo Executor 9cm SR was die beste kunsvissie om te gebruik. Ons het die drie-angelhoeke met #2 enkelhoeke vervang.
Natuurlik moet ‘n staal trens gebruik word. Ons het hiervoor die volgende strop gebruik, 40-pond Rio Bite Wire, BKK #8 ‘power swivel’ en ‘n #2 Mustad ‘fastlatch clip’. Met dié strop kan jy talle tiervis vang sonder dat jou staalstrop op gefrommel word.
Goliat se Moses
Ons hengelavontuur is afgesluit met die gebruiklike prysuitdeling. Drie trofees was op die spel, naamlik vir die grootste tiervis, die grootste tiervis wat weggekom het, en die ‘Plank’-trofee. Laasgenoemde twee wil mens nie graag wen nie, maar as dit jou beurt is, is dit jou beurt!
Die ‘Goliat se Moses’- trofee is deur Paul du Plessis met ‘n baie mooi tiervis van 5kg gewen! Daar was ook goeie kompetisie tussen Rudolph Venter en Johan Potgieter vir die grote wat weggekom het. Beide het monster tiervisse verloor. Dié eer het egter Johan Potgieter te beurt geval met ‘n groot tiervis wat ons almal gesien het voordat dit losgekom het. Die ‘Plank’-trofee is deur skrywer, Bernard Venter gewen.
* Bernard het sy duur Stanley koffiefles verloor en toe dit teruggekry is, het dit ‘n groot duik in gehad. Lede van die groep het beweer dat een van hul voertuie oor die fles gery het, maar Bernard het egter volgehou dat dit ‘n seekoei is wat op die fles getrap het. Die fles is blykbaar langs een van die geparkeerde voertuie opgetel, maar presies hoe die fles beskadig is, kan maar net oor gespekuleer word. Maar laat ons nie dat feite ‘n goeie storie opfoeter nie!
Flippen lekker hengeltrip gewees!