Bank Angler

“Pellet Perfect”

Een van die meer moderne uitvindsels wat al hoe meer in moderner karphengel gebruik word is “pellets”.

Wat is pellets?

Kortom is “pellets” niks meer of minder nie as grondvoer in ‘n vaste vorm. “Pellets” lyk presies dieselfde soos normale grondvoer nadat dit geblus het, maar dit het baie meer voordele bo normale grondvoer…

Doel

Die doel van hierdie aas is bloot om ‘n alternatiewe benadering tot die gebruik van grondvoer te volg. Verder bied die aas vele aanwendingsmetodes vir verskillende omstandighede en toepassings.

Soorte

Ons onderskei basies tussen twee soorte “pellets”: diè wat as, of saam, met grondvoer gebruik kan word, en diè wat as ‘n hoekaas gebruik kan word. Die grondvoer tipe is ‘n ‘sagter’ produk wat vinnig blus, terwyl die hoekaas-tipe ‘n baie harder produk is wat baie langer neem om te blus. Gewoonlik het die harde “pellet” reeds ‘n gat reg deur die middel sodat dit maklik op die haarstrop geryg kan word.  Forel “pellets” het ‘n hoë olie inhoud en word effektief gebruik om groot karp te teiken. Wees versigtig om nie te veel van hierdie “pellets” te gebruik nie aangesien die olie inhoud daarvan te hoog vir die karp se verteringstelsel is. Klein hoeveelhede is egter heeltemal onskadelik vir die karp.

Eienskappe

Buiten vir die vermoë om vinniger of stadiger te blus, is ‘n ander baie belangrike en nuttige eienskap dat “pellets” vloeibare geurmiddels maklik absorbeer. Wees versigtig om nie te veel geurmiddel te gebruik nie, aangesien dit kan veroorsaak dat die “pellets” bros raak of selfs begin blus. Baie hengelaars verkies om byvoorbeeld lewertraanolie (cod liver oil) te gebruik om hulle “pellets” vir winterhengel te geur.

“Pellets” is sekerlik een van die mees gerieflikste karphengelase wat beskikbaar is. Daar is geen gemeng of aanmaak van die aas nie – dit kan net so uit die pakkie gebruik word. Verder kan hierdie aas op ‘n verskeidenheid metodes of maniere en in ‘n groot verskeidenheid situasies aangewend word om karp te teiken. 

Hierdie aas is ook ‘n baie effektiewe wapen in die karphengelaar se aas arsenaal en karp is eenvoudig mal daaroor. Die wonder van “pellets” is dat nadat dit geblus het, daar feitlik geen vaste partikels oorbly wat die vis kan vreet en gevolglik versadig kan raak nie. Hierdie aas lok dus die karp na die voer area en al wat beskikbaar is om te vreet is die hoekaas, en daarom is die hengelaar feitlik gewaarborg om ‘n vis aan die lyn te kry.  

“Pellets” kan gebreek word en selfs fyn gemaak word om as ‘n pap/pasta gebruik te word.

“Pellets” kom feitlik in enige grootte: vanaf 1mm tot so groot as 40mm wat bydra tot die aas se veelsydigheid.  

Uit die bogenoemde eienskappe kan ons sien dat “pellets” die karphengelaar ‘n hele paar voordele bied en is dit amper onmoontlik om daarsonder groot karp te jag.

Alhoewel hierdie aas meer met spesiekarphengel geassosieer word, kan dit egter in enige varswater faset gebruik word, naamlik oewerhengel (sosiaal of kompeterend), match-hengel of feeder-hengel.

Hoe dien ons dit toe?

Grondvoer “pellets”: Hierdie soort word, net soos die naam aandui, as grondvoer gebruik en daarom kan jy:

  •  Dit in jou normale grondvoer inmeng nadat jy die voer aangemaak het; of
  • Dit net so uit die pak gebruik en dit op een van vele maniere in die water op die spesifieke voerarea toedien.
  • Laasgenoemde metode van toediening kan weer op een van die volgende metodes toegepas word:
  • 2.1 ‘n Aasboot of kano kan gebruik word tydens sosiale uitstappies en die “pellets” kan eenvoudig in die water gegooi word.
  • 2.2 Die “pellets” kan met ‘n “bait rocket” toegedien word.
  • 2.3 Dit kan met ‘n PVA sakkie of kous (“mesh”) toegedien word en hierdie metode word in baie gevalle verkies.
  • 2.4 Indien die afstand waarop daar gehengel word nie te groot is nie, kan die “pellets” ook met ‘n aaskettie tot op die voerarea geskiet word. Hierdie metode is veral effektief in die match-hengel faset, maar dit kan met dieselfde sukses ook in ander fasette gebruik word.

Saam met watter ander aas?

“Pellets” kan met enige van die volgende hoekase suksesvol gebruik word:

  1. Boilies of “pop-ups”
  2. Pitmielies/kaboemmielies
  3. “Tigernuts”
  4. Enige sade soos byvoorbeeld grondboontjies, “maples” ens.

Die “pellets” kan ook met enige van die bogenoemde ase gemeng word en dan as grondvoer mengsel gebruik word. Soos ek vroeër genoem het is “pellets” waarlik ‘n veelsydige aas met veeldoelige aanwendingsmetodes.

Related Articles

Back to top button