PRODUKOORSIG: Suzuki 6hp 4-slag buiteboordmotor

RIAAN ALLEMAN GESELS SUZUKI

WOORDE & FOTO’S: Riaan ‘Alleman’ Riekert

Riaan Alleman het onlangs die absolute voorreg gehad om, danksy die manne en dames van All Out Angling en Suzuki Marine Pretoria, Suzuki se nuwe 6hp 4-slag motor deur die toets te sit. En om dit selfs nog bietjie soeter te maak kon Riaan Alleman hom toets by die World Carp Classic Qualifier Suid-Afrika. Gelukkig strek die kompetisie oor ses dae want die motor was nog nie eens ingeloop nie en ek moes nog agt rustige ure voltooi voor ek sy ‘oor’ behoorlik kon oopdraai.

Met die intrapslag by Suzuki Marine was dit ‘love at first sight – ek sien sommer klaar hoe die wit motor en my Aqua Strike-opblaasboot mekaar gaan komplementeer. Met ‘n paar handdrukke en instruksies later het ek in die pad geval Roodekoppiesdam toe net buitekant Brits. Riaan Alleman was soos ‘n stout kind met ‘n nuwe speelding, ek moes egter eers wag tot die volgende dag alvorens ek hom kon uittoets.

Die Suzuki se kleur en styl pas perfek by die Aqua Strike-opblaasboot.

Dit was Saterdagoggend en uiteindelik kon ek hom loslaat op die water. My eerste opmerking is die gewig van die motor, dit is baie maklik om te dra van punt A na punt B sonder om jou rug te breek. Die verstelboute om dit op die boot te monteer was nog bietjie stram, maar dit is verstaanbaar omrede die motor nog nuut is. Jy het ook twee opsies as dit by brandstof kom, jy kan hom of gebruik met sy eie ingeboude tenk of jy kan gebruik maak van ‘n groter, eksterne tenk. Persoonlik verkies ek die eksterne tenk want jy vul hom eenkeer vir die hele naweek se hengel, dan loop jy geen gevaar dat jou hande na brandstof gaan ruik nie. Maak net seker dat jy die knoppie langs die motor op die regte verstelling draai vir die keuse van brandstofbron wat jy gaan gebruik.

Jy kan kies tussen ‘n eksterne brandstoftenk of die motor se een-liter tenk.

Die motor is ook toegerus met ‘n ‘killer switch’, en mense, ek weet niemand doen dit nie, maar sit daai toutjie om jou arm, al ry jy stadig kan enige iets gebeur. Wanneer jy naby die kant kom en jy wil die motor afsit, druk jy net die rooi knoppie op die ‘killer switch’ en hy stop onmiddellik. Dit help baie, want baie van die ouer modelle moes jy letterlik die ‘killer switch’ aftrek om hom af te skakel. Ek was uit my sokkies uit verras toe ons die motor vir die eerste keer aansit en hoor hoe stil die motor loop, tegnologie het darem maar baie verander. ‘n Paar van die bote se motors het soos grassnyers geklink in vergeleke met ons Suzuki. Die Suzuki is ook toegerus met ‘n keuse van vorentoe of agtertoe, dit maak dit baie makliker vir ons as spesiehengelaars om daardie aas presies op die regte plek neer te sit.

Behalwe vir die mooi sonsopkoms is die hefboom wat die boot laat vorentoe en agtertoe gaan duidelik sigbaar. Ek moet sê die funksie werk perfek om seker te maak ons plaas die aas perfek op die regte plek.


Die versnellerhefboom het ook ‘n verstelskroef, so wanneer jy ver ry draai jy die hefboom tot op die verlangde spoed en draai dan die verstelskroef vas, werk net soos ‘n spoedkontrole in ‘n kar. Die motor word deur die water verkoel wat ingetrek word van onder af. Net ‘n wenk, ons waters is baie vuil so maak gereeld seker dat die gaatjie waar die water ingesuig word skoon is, anders kan dit duur nagevolge hê as die motor oorverhit. As jy soek na spoed, soek jy by die verkeerde plek, maar as jy soek na sterk, stil en betroubaar en baie sag op die oog is jy definitief by die regte plek.

Moenie dat die klein proppeller jou flous nie, hy het genoeg krag. Op die foto is die uitlaatpyp en ook die water-inlaatpyp duidelik sigbaar. Onthou om altyd seker te maak dat die waterinlaat nie verstop is nie.

Van die motor self kan ek julle nie veel meer vertel nie, behalwe dat ek my Suzuki nie maklik sal verruil nie. As jy ook appels met appels vergelyk, is daar min motors in sy klas vir daardie prys, die motor is werklik baie goed geprys.

Hier is so paar tegniese punte vir daardie manne wat in meer diepte na die prentjie kyk:

  • Prys R21 700,00
  • Gewig 23,50kg
  • 4-slag
  • Nie elektriese op en af nie, doen alles met die hand.
  • Sluit motor aan met die hand deur middel van ‘n tou.

Vir meer tegniese inligting, besoek gerus Suzuki Marine se webblad by www.suzukimarine.co.za

Laaste maar nie die minste nie, gaan skaf NOU een aan, jy sal nie spyt wees nie!

Die Suzuki en die sonsopkoms gesels lekker saam, dis prentjiemooi.


The latest print edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR  is now available in retail and selected angling stores!

5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x