QUEENS OF THE OCEAN: Op Asterix, die swangerskap sal moet wag tot ‘n volgende keer …
WOORDE: Coriné Opperman FOTO’S: Verskaf
Na ‘n bitter lang gewag het die tyd uiteindelik aangebreek … Queens of The Ocean 2024 by St Lucia, hier kom ons!
Vir baie van ons was dit ‘n eerste, so die opgewondenheid loop hoog, en so effe senuagtig ook.
My vriendin, Madelein Grobler, wat al ‘n hele paar jaar aan die kompetisie deelneem het my reeds in Maart genader om ook aan die geleentheid deel te neem. Met my liefde vir diepsee visvang het ek dadelik ingestem en begin om ‘n span te werf.
Maans Verster, eienaar en charter in St Lucia op die boot Asterix, het aangebied dat hy ons skipper sal wees en ook sy boot beskikbaar gemaak vir ons, en so is Team Asterix gestig, en het die beplanning begin.
Die van julle wat al voorheen aan die kompetisie deelgeneem het, sal weet dat die aankoms-aggressie hoog loop op die eerste dag. Vir my en my jarelange vriendin, Madelein was dit baie spesiaal want ons het lanklaas die geleentheid gehad om saam te kuier.
Vrydagoggend het ons om 04:00 opgestaan en kon nie wag om op die water te kom nie, maar ongelukkig het die weer nie saam gespeel nie. Ons moes dus terugkeer en voortgaan met die aankoms-aggressie.
Met dankbaarheid in almal se harte kon ons die volgende dag, Saterdag, die see aandurf. En wat ‘n belewenis om al die bote op die strand te sien wat gereed maak vir die grootste “girls only” avontuur!
Maans het ons ten alle tye veilig laat voel. En met ‘n perfekte launch is ons die see binne. Ek moet sê hy is verseker ‘n skipper van formaat. Ons het eers in die vlakwater aas gevang en toe is ons dieper in om aas te sleep.
Elke spanlid het om die beurt ‘n geleentheid gekry as daar ‘n byt was om die vangs in te katrol. Vir Mechelle was dit haar eerste keer vir diepsee visvang; sy het so goed gedoen, alhoewel sy die visse gevoer het deur 7 Kwels en naarpille, maar sy het haar man gestaan en so ook haar eerste vis gevang. Dis maar wat ‘n vrou doen as sy en haar man ‘n weddenskap aan het. Ons het lekker gelag daaroor want as ons sou wen, kon hulle weer swanger raak.
Elma se man het mooi gevra vir ‘n snoek en sowaar het sy dit gedoen. Dié ou is geslag en saam in haar tas huis toe.
René het baie goed gevaar en as ‘n “local” kon sy ons ‘n ding of twee wys. Sy het ook gesorg dat ons pense vol bly met ‘n heerlike koelboks.
En toe vat hy . . . Oom Dorrie is aan die hoek en ek moet hom uit die water kry. Wat ‘n geveg! Doodmoeg en met sweet wat tap is die 14,3kg dorado in ons skip. Ek was vrek opgewonde en het my verkyk aan sy kleur wat binne sekondes verander.
Ons almal wou net nog langer op die water gebly het, maar dit was tyd om terug te keer strand toe en te jaag vir die inweeg.
Queens of The Ocean gaan ons verseker weer sien. Dit is vet pret!
The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!