RAMCAT FISHING – Hengeldag vir Gestremdes
AANGEBIED DEUR IRENE COUNTRY LODGE
WOORDE: Armandt du Preez | FOTO’S: Lorna Botha
Die afgelope klompie jare bied die Ramcat Fishing for Disabled-organisasie, onder leiding van Gerard ‘Yster’ Smal ‘n hengeldag en -kompetisie vir gestremdes aan. Hierdie jaar was dit weer by die Irene Country Lodge aangebied, en ek was bevoorreg om die dag saam met die hengelaars te kon spandeer.
Met my aankoms by die Lodge was almal besig om hul hengelgoedjies uit te pak en reg te maak vir die dag se hengel. Ek besluit toe ek gaan maar solank begin deurstap en kyk wat almal doen om reg te maak om te probeer om die grootste vis vir die dag te vang. Met my deurstap sien ek dat die dag vir die gestremde hengelaars ‘n bietjie van ‘n uitdagende dag gaan wees weens die riet- en blombosse op die oewer wat dit baie moeilik sou maak om naby aan die water te kom. Die hengelaars moes dus agter die bosse bly en oor die bosse probeer werp en hengel.
Ons gestremde henglaars het egter nie toegelaat dat dit hulle onderkry nie en net 10 minute in die kompetisie in word die eerste vis gevang en geland. Met dié dat die eerste vis al gevang is word almal se moed net beter en die visse word so een na die ander gevang. Die skepwerk was toe die uitdagendste proses gewees, maar hulle het steeds die een vis na die ander ingekatrol. Babers was die meeste vis wat gevang was, en net een karp was op die dag gevang. Volgens Yster was dit die eerste karp wat in twee jaar by dié dam gevang was.
Met die son wat net al hoe warmer in Pretoria geword het, het die visse se byttempo ook minder geraak, maar ongeveer 30 visse is egter vir die dag gevang en is die dag weereens as ‘n suksesvolle hengeldag gereken.
Ek kan van For Anglers en Die Oewerhengelaar se kant af vir Yster Smal gelukwens met ‘n goed-georganiseerde hengeldag. Elke gestremde hengelaar waarmee ek gesels het, het die dag geniet. Met dié dat Yster ook toegelaat het dat kinders hierdie jaar saam met hul families kon hengel, het die dag net ‘n nog groter sukses gemaak. Die kinders het dit so baie geniet om vir oupa of pappa te kon help om daardie vis te kon land! Die Ramcat-organisasie gaan uit hulle pad om gestremde hengelaars te ondersteun, en ek kan nie wag om te hoor waar en hoe volgende jaar se kompetisie net groter gaan word nie.
Hengelgroete.