Rametsi Eko Wildsplaas

Woorde & Fotos: Riaan & Anel Riekert

Rametsi Eko Wildsplaas, Swartruggens, Noordwes

Ons het onlangs die voorreg gehad om net buite Swartruggens die Rametsi Eko Wildsplaas te besoek. Die plaas is geleë aan die oewer van die minder bekende Lindsleypoortdam wat talle visspesies huisves maar wat hoofsaaklik gebruik word om die boere van die omgewing te help met besproeiing. Ons het die uitnodiging van Chris Riley, een van die eienaars, aanvaar en sommer stokke ingepak om te sien wat ons aan die lyn kon kry.

Daar aangekom is ons hartlik ontvang deur die mooiste natuurskoon; mens kon sien die reënval was goed want alles was pragtig groen. Ons is aangewys na die dam se kant toe waar ons sou kamp opslaan vir die naweek. Wat dit ekstra spesiaal maak is dat geen geriewe onder by die damis nie so ons was werklik een met moeder natuur. Chris het kort na ons aankoms by ons aangesluit en ons na ons kampstaanplek gewys, hy het ons genooi vir ‘n wildsrit, nie net enige een nie, maar op perde en 4-wiel veldfietse. Hulle is werklik bevoorreg om baie wild op die plaas te huisves en ons het kameelperde, blouwildebeeste, koedoes, rooibokke, blesbokke en zebras op die rit gesien. Die kameelperde was besonders en ek weet nie wie was meer nuuskierig, hulle of die perde nie!



Ons het die aand by Chris-hulle aangesluit vir ‘n lekker skemerkelkie en braai en alles gehoor van die geskiedenis agter Rametsi. Die wildsplaas beskik oor ‘n karavaanpark en daar is ook chalets beskikbaar vir oornagbesoekers wat nie van kamp hou nie. Die plaas behoort aan ‘n paar aandeelhouers wat elk dan ook ‘n huis met die mooiste uitsig op die plaas besit. Hulle is tans in die proses met grootskaalse opknappings om die kuier vir besoekers nog beter te maak.  

Daar is heelwat om te doen op die plaas soos bergfiets roetes, wildsritte, visvang, kanoe ry (motorbote word nie toegelaat nie) en dan het hulle ook ‘n saal vir troues en ander funksies. Die perde was ongelukkig net daar vir die tydperk wat ons daar gekuier het maar hulle beplan om perde aan te skaf vir die toekoms. Daar het baie reën geval die naweek maar ons kon darem alles gedoen kry wat ons wou. Saterdagoggend het ons met die opblaasboot uitgegaan om te hengel en sommer die dam uit ‘n ander oog te ervaar. Ons het al die pad tot by die damwal gery en dit was werklik indrukwekkend gewees, maar soos op die foto gesien word tog ook intimiderend met daai groot beton struktuur langs ons klein opblaasbootjie.

Ons het goed uitgerus, lekker nat gereën en natuurlik baie lekker gehengel (sien Jan Alleman artikel in hierdie uitgawe – Red). Soos elke naweek moet dit ongelukkig tot ‘n einde kom en ons sal verseker weer terugkom vir meer. 

*Vir inligting mbt besprekings, tariewe, verblyf opsies, aktiwiteite ens, besoek gerus: www.Rametsi.co.za



4 2 votes
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x