
RATEL DAMES DIEPSEEKOMPETISIE: Montego – Visvangdrome Word Waar
WOORDE: Natasha Herbst FOTO’S: Verskaf
As klein dogtertjie het ek gereeld saam met my pa van die strand af gaan hengel; ons lag steeds oor die stories wat hy vertel van hoe hy nooit op ’n naweek skelm 4-uur in die oggend kon gaan visvang nie! As hy sy oë uitvee het ek reg gestaan. My liefde vir see hengel is beslis deur hom gekweek en so is dit ook aan my kinders oorgedra. My kinders, Ryan 20, Justin 18 en Denise 15 het maar altyd saam met mamma gaan visvang; my man is nie mal oor visvang nie so ek moes hard werk om hulle “hooked” te kry.
Ons het ’n hele paar jaar terug ’n diepseeboot saam met my swaer gehad. Die manne het die boot geniet, maar met klein kindertjies in die huis het ek nie gereeld die geleentheid gekry om saam te gaan visvang nie. ’n Jaar of wat later is ons boot ongelukkig in ‘n ongeluk afgeskryf.
Soos wat die kinders groot geword het, het ons baie in St Lucia vakansie gehou. My skoonsus en haar man het ’n gastehuis daar, so ons kon altyd ’n diepsee charter bespreek.
So het ek gehoor van ’n dames visvang kompetisie (Pioneer competition); dit was die heel eerste girls comp wat aangebied was in St Lucia, ons het vinnig ’n paar girls bymekaar gemaak en ingeskryf. Nodeloos om te sê, ek het nog nie weer ’n dames kompetisie by St Lucia gemis nie, verskillende bote, verskillende spanmaats, maar ek was daar!

So het ek en die kinders aanhou vra vir ons eie boot aangesien ek reeds my skipperlisensie in 2001 gedoen het, maar dit het op dowe ore geval. In 2023 het ons ’n vakansiehuis op die Suidkus gekoop en kon ons dit as ’n goeie verskoning vir ’n boot gebruik, maar pappa wou nog steeds niks weet nie!
Ons het Junie 2023 ’n charter bespreek van Shelley af, maar dit was ’n disaster! My man het toe gesê as die seuns hulle skippers het, sal hy ’n boot koop.
Desember 2023 het beide seuns, Justin en Ryan vir hul skippers gegaan (dit was hul Kersgeskenke), en so het ons in April 2024 ons eie boot gekoop! Dit was so lekker om vir die eerste keer op ons eie boot met ons eie hengelgerei uit te gaan. Ons het nog nie veel van als geweet nie aangesien ons maar altyd met die charters bederf was, hulle doen mos als!

Elke launch het beter gegaan en die boeties maak beurte om die boot te skip. In die begin was daar baie kraaineste en argumente maar vinnig was dit ook iets van die verlede.
Die dag het aangebreek om in te skryf vir die Ratel kompetisie in 2025, en ons het besluit om dit as ’n gesin te doen. Vir eers was die inskrywings vol en het ons nie plek gehad nie. Eers na die sluitingsdatum het ’n plekkie vir ons oopgegaan en kon ons begin beplan, ons het knope geoefen en Youtube video’s gekyk dat ek later van dit gedroom het.

Met nog net omtrent 8/9 solo launches agter sy naam het ek besluit om Justin ons skipper vir die kompetisie te maak. Hy is baie rustiger as Ryan as dit by “vinnig dink” kom en ons almal weet St Lucia se launch is nie jou maat nie.
Die boeties het my besluit gerespekteer. Justin het vir weke Oom Petrus en Oom Jeff se video’s dop gehou en hy was reg! Ons het die eerste oggend van die kompetisie op die strand aangekom, my senuwees was gedaan maar die klein yster was so rustig. Robin die organiseerder, Oom Jan van NSRI en Dirk ook op die komitee, het om die beurt met hom gaan gesels. Dit was vir my so gerusstellend om te weet dat almal wil seker maak hy is reg om die surf te face.

Hy wou die dag laaste launch, (dink nie hy wou al die oë op hom hê nie), ons het so ’n mooi rustige launch gehad. Ek het so ewe my reënjas aangetrek omdat ek gedink het ons gaan nat word, hy het mooi gewag en seker gemaak ons bly veilig. Dit het afbetaal en ons kon lekker gaan fish!

Ons het op die eerste dag water in baie van die local bote se oë gespuit met ons twee dorado’s en een geelvin-tuna wat ons ingeweeg het. Ons het ook nog ’n geelvin-tuna en skipjack gevang wat nie die skaal gemaak het nie. Die tweededag was die surf ook maar deurmekaar en weer het die mannetjie my verbaas. Die katrolle was maar stil vir meerderheid van die oggend en so teen 10:00 toe is dit chaos op ons boot, ’n marlyn het besluit om op ons klein cutastok te byt, hy het letterlik die kleinste katrol met die dunste lyn gekies. Ons kon hom ongelukkig nie land nie. Ons is glad nie ingerig vir enige snawelvis nie, maar ’n paar minute later toe kap nog ’n marlyn vanaf ons Japan kunsaas, maar die hoek het nie gehaak nie. Ons het bietjie die “gameplan” bespreek en besluit om op ’n ander plek te gaan soek vir iets om te weeg. Ai, en hoe ongelukkig was ons toe die boodskap kom dat ons 11:00 moet lyne intrek en terug strand toe beweeg – die suidewind was op pad. Ons het die dag niks vis geweeg nie. Justin is die aand aangewys as beste skipper en my hart het gebars van trots!


‘Montego’ het algeheel elfde uit sewentien spanne geëindig. Hierdie mamma kan nie vir iemand verduidelik wat se ongelooflike groot voorreg en eer dit is om saam met my kinders my droom te leef nie. Ek dank ons Vader elke dag vir al die voorregte wat ons “Herbsies” het en dat ons gesond is en kan visvang en elke keer op die see Sy ongelooflike skepping te kan waardeer en geniet!

Van ons vangste oor ‘n tydperk:



































[…] Van die opvallende deelnemers was die Herbst gesin vanaf hul boot Montego, waarvan die bemanning ’n hegte gesin gevorm het — ’n ma, haar dogter en twee seuns. Beide die ma en haar seuns is gekwalifiseerde skippers, en dit was die jongste seun wat met selfvertroue die boot veilig oor die branders gelei het. Sy ma, duidelik oorweldig met trots, het met bewondering toegekyk hoe haar kinders hul vaardighede in aksie bring. Lees in haar eie woorde die ervaring. […]