RIAAN ALLEMAN: My jaar langs die varswaterdamme

Riaan Alleman se jaar onder die vergrootglas

WOORDE: Riaan ‘Alleman’ Riekert | FOTO’S: Verskaf

Wat ‘n jaar was dit nie gewees nie en ek dank die Here vir sy genade in 2024! Dit was seer sekerlik een van my beste jare ooit en beslis een wat ek nooit sal vergeet nie.

Daar was vele hoogtepunte en bittermin laagtepunte, en die hoogtepunt wat beslis bo almal uitstaan is die IBCC, beter bekend as die International Balaton Carp Classic wat in Hongarye aangebied was. Nie net was ons die eerste Suid-Afrikaanse span ooit wat deelgeneem het nie, maar het ek ook die absolute voorreg gehad om die eerste Suid-Afrikaner te wees wat ‘n mooi Balaton-karp kon land. Dit was ‘n bitter moeilike kompetisie met die weer wat glad nie wou saamspeel nie en ons het ‘n baie moeilike hengelarea gehad om mee te werk. Die hoogtepunt was egter ons bure en nuwe vriende wat ons gemaak het, en mense, hét ons nie lekker saam met hulle geëet en gekuier nie! Balaton sal Alleman sekerlik weer sien, maar nie op kompeterende vlak nie. Hoe sê die Engelse, “Been there, got the T-shirt”?

Riaan Alleman, Nico en Benedek by IBCC in Hongarye.
Alleman bars van trots, nie net was ons die eerste Suid-Afrikaanse span nie, maar ek was ook die eerste Suid-Afrikaner wat ‘n karp by die IBCC geland het.

Ek het hierdie jaar probeer fokus om meer tyd saam met familie en hengelvriende deur te bring, en om ook myself beter te leer ken. As ek vat waar ek drie jaar terug was tot nou is dit twee wêrelde uitmekaar. My seisoen het begin saam met my mooi vroutjie, Anel by die immergewilde Klub Amigos naby Ventersdorp. Alhoewel die hengel nie waffers was nie, was die tyd saam met haar baie spesiaal gewees. Die een oomblik wat ek nooit sal vergeet nie is toe ons vir bykans twee ure aan die gazebo en tent moes hang soos vinke om te keer dat die wind dit nie wegwaai nie, maar deur die storm was daar tyd vir lekker lag, en natuurlik lekker seer arms. As julle soek na ‘n oord met puik geriewe, vriendelike mense en wat veilig is, is Klub Amigos net die plek vir jou en jou gesin.

In Januarie was dit tyd vir nuwe waters. Ek het die voorreg gehad om Charl te ontmoet en sedertdien is ons as vriende onafskeidbaar. Hy het my gaan voorstel aan ‘n dam naby Kriel-kragstasie in Mpumalanga en weereens was dit ‘n naweek vir die boeke gewees. Daar was geen geriewe nie maar gelukkig is Alleman voorbereid vir alle omstandighede en het dit my nie afgeskrik nie. Ons was vergesel deur Charl se boesemvriend, Wessel en ons het lekker hengelstories gedeel om die Bosveld-televisie. Die twee manne het baljaar onder die vis en Alleman kon darem ook so ‘n paar land. Eskom se kabels hang laag oor die water en met tye was Alleman so bietjie gekielie deur die ladings aangesien my hengelplek aan die anderkant van die kabels was, maar ek het darem oorleef om die storie te kan vertel.



Nico se mooi waterfoto met een van Roodekoppies se mooi spogkarpe.
Chrisjan, Riaan Alleman en Frans glimlag breed van trots oor dié drie Roodekoppies-karpe.

Aangesien my seisoen eintlik in die winter is, was die volgende paar maande stil wat hengel aanbetref, maar in Junie was dit weer tyd vir Alleman om die stokke af te stof. Ek het ek ‘n naweek by die immer gewilde Roodekoppiesdam gaan geniet saam met die Rooispan – wat baie bekend is onder die spesiehengelaars – en my nefie, Chrisjan Stander. Dit was weereens ‘n naweek vol pret, baie lag en ek het ook baie geleer by die manne. Die naweek het gesorg vir baie mooi vis en ons het saam ‘n paar mooi karpe geland wat soms die skaal laat kreun het tot 17kg. Wat egter opvallend van dié sessie was, asook meeste van my sessies die jaar, is dat meeste van die damme se vis vlakker water gaan soek het – hier het ons meeste van ons vis opgetel in 2-3m water.

En dan was daar Roodeplaatdam se Cast & Catch waar Alleman se spesiehengel ‘n paar jaar terug afgeskop het. Ek het baie geleer oor die laaste paar jaar, maar Cast & Catch sal altyd ‘n spesiale plek in my hart hê. Alleman is die keer weer deur sy pragtige vrou, Anel vergesel, en mense, was dit nou ‘n koue naweek gewees! Dit was darem ook ‘n naweek van rus, lekker lag en sommer net lekker man en vrou tyd. Anel het Alleman ore aangesit en die een vis na die ander geland, of moet ek sê ek het haar laat goed lyk om die vrede te bewaar.

Anel het my omtrent ore aangesit by Roodeplaatdam se Cast & Catch.

Augustus-maand is tyd vir daardie groot busse en daar is geen beter plek nie as Roodekoppiesdam om daardie groot vis te gaan teiken. Vir hierdie ekskursie was ek vergesel deur my Balaton penmaat, Nico Oosthuizen en neef Chrisjan Stander. Soos my artikel gelui het was dit ‘n naweek van soet en suur (Die SOET en die SUUR). Die soet gedeelte was die feit dat ons regtige mooi vis geland het en Chrisjan het ook sy persoonlike beste geland. Die suur was die feit dat Chrisjan minus een visstok huis toe is na ‘n gestoei met ‘n boom, en dan natuurlik die feit dat sy monsterkarp uit die hounet ontsnap het. Maar dis die lewe en ons het weereens ‘n paar lesse geleer.

September was beslis ook een vir die boeke gewees. Ek het al vele kere Rietspruit Heron naby Kriel besoek en het vantevore geen sukses gehad nie. Die spesifieke besoek sou egter nie net beteken dat ek my eerste Rietspruit-karp ooit sou land nie, maar ook Alleman se nuwe persoonlike beste spieëlkarp. Alleman het omtrent gemaai onder die vis, soveel so dat ek heeltemal gat-oor-kop verlief geraak het op Rietspruit Heron. Ek kan met ‘n oop gemoed sê dat daar in ons land min hengelplekke is met sulke puik geriewe en dan nog boonop kwaliteit vis. Rietspruit Heron gaan Alleman beslis in 2025 meer sien!

Rietspruit, jou doring! Alleman se nuwe persoonlike beste spieëlkarp.
Rietspruit Heron lewer altyd mooi vis – ‘n mens moet net weet waar om hulle te kry.


Oktober het ek besluit om iets heeltemal anders as Alleman se gewone te doen. Ek het Klipdrifdam naby Potchefstroom besoek wat oor die algemeen meer gewild is vir papgooi. Wat die besoek moeilik gemaak het, is die feit dat dit reg in die middel van kuitskiettyd, oftewel spawn, was en dan weet ons ander dinge is belangriker vir die vis as om te eet. Ek het egter al die doemprofete verkeerd bewys en moes later my stokke uithou net om bietjie asem te skep. Alleman het in vyf ure op die Saterdag nie minder nie as 20 karp geland tussen 3kg en 6kg, en dit vir Klipdrif is nie te versmaai nie.

Enige pa se droom, ‘n pragfoto van my en die seuns, Ruan (regs) en Wian – Pa se trots!

Die jaar het einde se kant toe gestaan en daar was darem tyd vir nog een sessie. Ek en my twee boesemvriende, Charl en Jonathan het besluit om ‘n pa-en-seun-naweek te reël by my nuwe gunsteling dam, Rietspruit Heron. Dit was ‘n naweek van lekker kuier, baie lag en oom Carel het gesorg dat niemand honger lei nie. Ons Riekert-gesin het egter bitter min slaap ingekry want die stokke wou net nie ophou hardloop nie. Dit was ook weer ‘n naweek wat aan Wian, my jongste, sy persoonlike beste besorg het en amper-amper Ruan, my oudste s’n ook. Dit was weereens voorwaar ‘n naweek vir die boeke gewees en ek sal daardie naweek vir altyd onthou. Tussen die karp deur het die seuns gemaai onder die baars en hulle uit die kwaad uit gehou. (Lees Jonathan Adams se artikel hier.)

Geseënde Kersfees aan almal en stywe lyne vir 2025.

2024 is amper verby, maar gaan beslis nie vergete gaan nie. Soms moet mens die groter prentjie sien as net kompeterende hengel. Dit was een van my beste jare ooit en ek weet 2025 gaan nog beter wees. Aan elke hengelaar daar buite wil Alleman sê “Geseënde Kersfees, veilig reis en stywe lyne vir 2025!”

En soos ek altyd sê: “Waar is dit lekker? Hier is dit vrek lekker!”



The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!

5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x