Black Friday Sale

Save on For Anglers Digital Angling Network Annual membership for the first year.

Don't Miss Out

RIAAN ALLEMAN: Op pad na Lake Balaton

International Balaton Carp Cup 2024

WOORDE: Riaan ‘Alleman’ Riekert | FOTO’S: Verskaf

Deel 1: Die Opbou

Lesers kan gerus vra: wat op dees aarde is die International Balaton Carp Cup, ook bekend as die ‘IBCC’? Wel, moenie alleen voel nie – dit was inderdaad Riaan Alleman se eerste vraag ook gewees!

Die droom het seker so jaar en ‘n half terug begin toe my groot maat, Nico Oosthuizen vir my ‘n sosialemedia-skakel gestuur het van die Balaton Cup, en as ek nou eerlik moet wees, het ek nie eers regtig daarna gekyk nie. My sienswyse was hoekom na iets kyk as jy dit nooit eers gaan bywoon nie – min wetend dat ons oor net ‘n paar weke soontoe vlieg om daaraan deel te neem en sodoende ons droom te bewaarheid!           

 Kom ek deel gou so paar statistieke van Lake Balaton.

  • Dit is geleë in sentraal Hongarye, net suid-wes van Budapest.
  • Dit beslaan 598m2/km.
  • Die meer is 77km lank en op sy wydste punt is 14km breed.

Dit is net om te wys hoe enorm hierdie stuk water is. Dis vir ons ‘n absolute voorreg om die eerste Suid-Afrikaanse span te wees wat aan hierdie gesogte kompetisie deelneem. Altesaam 250 spanne van reg oor die wêreld het hierdie jaar ingeskryf, so jy kyk na 750+ hengelaars wat die water gaan deel. Die wenpen van 2023 het ‘n enorme 1,3-ton karpe geland met visse wat gewissel het van 5kg tot diep in die 20kg. Hierdie jaar egter word net vis van 10kg en meer geweeg.

So bietjie pret by Roodekoppiesdam! Nico, sy seun, Marco (links) en my seun Ruan (regs) spog met drie pragvisse.


Maar die statistieke daar gelaat … ek wil bietjie meer deel oor die opbou, en natuurlik die voorbereiding wat met die soort kompetisie gepaard gaan. Eerstens, voor jy enigsins ooit besluit om so iets aan te pak is dit krities dat jy die regte spanmaats het. Onthou, sewe dae langs die water met dieselfde mense kan bitter lank wees – so kies baie mooi voor jy so iets doen. Ek en Nico stap nou al ‘n lang paadjie saam, en ons eerste en grootste toets was laasjaar met die World Carp Classic Qualifier by Roodekoppiesdam. Daar het ons ses dae saam spandeer en wou mekaar gelukkig nie vermoor nie, inteendeel het dit ons vriendskap net sterker gemaak.

WCCQ 2023, hier spog ek en Nico met twee mooi karpe van vele. Ons het die eerste twee dae voorgeloop maar danksy die vrot water wat ingekom het, het ons maar gesukkel die laaste paar dae.
Nico spog hier met een van ons groter karpe by die WCCQ.

Lesers vertroud met Riaan Alleman se artikels sal ook weet dat ons intussen baie artikels saam gedoen het wat ondermeer insluit Survivor BuffelspoortTorontopan en nog vele meer. So ja, ek en my partner in crime het meer as genoeg watermyle om dié een ook suksesvol te hengel.

‘n Onvergeetlike sessie by Buffelspoort, of moet ek eerder sê Survivor Buffelspoort!
Een van die min vis wat ons geland kon kry by Buffelspoort.
Nico het ook ‘n klompie verloor by Buffelspoort, maar kon darem spog met dié een.
Ons kuiertjie by Torontopan was ook een vir die boeke gewees.
So ‘n laaste foto voor ons in die pad moes val by Torontopan.

Toe ek en Nico Balaton begin beplan het, het ons ook geweet dat ons eintlik niks van die meer af weet nie en dat ons beslis hulp gaan benodig, en nee, Google is goed maar dit leer jou nie alles nie. Gelukkig het my skoonpa, Werner Lubbe goeie kontakte in daardie deel van die wêreld en het hy ons op die spoor gesit van ‘n ywerige jong man van Hongarye, Benedek Szojak. Nie net ken Benedek elke hoek en draai van die meer nie, maar hy reël ook alles wat ons gaan benodig om die week ‘n sukses te maak. Ons kan letterlik net op die vliegtuig klim en arriveer, alles is reeds in plek. En as ek sê alles is dit tente, voer, aas, vervoer, verblyf en so kan ek aangaan, maar wees versigtig, alles kom teen ‘n prys.



Die kompetisie vind vanjaar vanaf 21-27 April plaas. Dit is in hul lente, maar moenie dat dit jou flous nie. In die lente kan die temperatuur val tot 3°C en skielik weer opskiet na 27°C, so ja, die regte klere vir al die seisoene is ‘n uitdaging op sy eie. Hierdie is ook ‘n mylpaal vir die Balaton Cup want dit is die viering van sy 10de verjaardag! Wat ook opvallend is, is die feit dat die kompetisie elke jaar gewen is deur hengelaars op die noordelike oewer, so raai wat, ons hou styf duime vas vir ‘n noordelike pen!

2023 was ook die jaar vir Riaan Alleman se PB van 18,250kg.
Nico het die prag vis geland met ons artikel oor die nuwe Island Syndicate.
Nico spog met Roodekoppies se nuwe spieëlkarprekord van 18,750kg – wat ‘n oomblik was dit nie gewees nie!


Riaan Alleman met sy karp by die onlangse FK Specimen-kompetisie.

Ek en Nico het nou al tientalle video’s gekyk en wat vir seker uitstaan is dat die aas en voer in Europa heelwat verskil van dit waaraan ons hier gewoond is. Byvoorbeeld, in Suid-Afrika bestaan ons standaard voer uit sade soos hempsaad, mielies ensomeer. In Europa egter voer en hengel jy meestal met boilies, en in die kompetisie gebruik mens maklik tot 100kg boilies net om te voer, en dit alleen kom teen ‘n enorme prys.

Ek kan nog vir ure aanhou want glo my ons is super opgewonde, maar ek gaan die res los vir deel twee en hopelik keer ons terug as Balaton Kampioene 2024. Hier volg so paar tips & tricks wat ons geleer het met die opbou tot Balaton.

  • Maak seker jy kies jou spanmaats reg, want dis ‘n lang tyd in ‘n baie klein spasie.
  • Doen vroegtydig aansoek vir jou visa, glo my ons was amper te laat omdat ons die proses verkeerd verstaan het.
  • Jy het ‘n keuse om al jou toerusting per skip oor te stuur, of natuurlik soos ons, alles daardie kant te huur. Per skip gaan jy heelwat spaar maar wil mens nou regtig daardie kans vat dat dit dalk laat, of glad nie, gaan opdaag nie?
  • Dit is ontsaglik duur, net jou peninskrywing beloop R45 000. So begin vroegtydig met fondsinsamelingsprojekte om die finansiële las ligter te maak.
  • Bespreek vir jou huisvesting ten minste drie dae voor die tyd want daar is nog baie voorbereiding wat aan daardie kant gedoen moet word.
  • As jy jou etes mooi beplan kan jy goed eet vir nie te duur nie, maar jy moet ongelukkig jou rooivleistande by die huis los. Gelukkig eet hulle baie soos ons Suid-Afrikaners en dit maak dit soveel makliker.

Ons gaan baie video’s skiet sodat lesers die paadjie saam met ons kan stap.

Soos Riaan Alleman altyd sê: Waar is dit lekker? Hier is dit lekker!

Riaan Alleman en Nico stap weg as sonewenners by die onlangse FK Specimen-kompetisie.


5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
1 Comment
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments

[…] RIAAN ALLEMAN: Op pad na Lake Balaton […]

Back to top button
1
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x