RIAAN ALLEMAN: Van Zero tot Hero by Rietspruit Heron-oord

WOORDE: Riaan ‘Alleman’ Riekert | FOTO’S & VIDEO’S: Verskaf

Hoe sê die slim mense? Aanhouer wen! Dit is inderdaad wat laat September met Alleman gebeur het. Rietspruitdam se Rietspruit Heron-oord naby Ogies het geen bekendstelling nodig nie. Maar wat ek wel kan sê is dat dit ‘n bitter moeilike water is om te hengel. So moenie verbaas wees as jy met so ‘n paar mombakkies wegstap nie. Alleman het immers met sy eerste drie besoeke met ‘n rooi gesig huis toe gegaan.

Dit was laat September en die visse het begin gereed maak vir kuitskiet toe Alleman besluit het dis tyd om Rietspruitdam te troef. Dit was ‘n bitter snaakse seisoen sover met meeste van die vis by talle damme wat nader aan die kante beweeg. Alleman se vis vanaf Junie vanjaar is in water gevang wat wissel van 4,2m diep tot so vlak as 700mm. Die dae van 10m water is vir eers taboe! Maar nietemin, die bakkie was gepak en Alleman het sy weg gevind na Rietspruit Heron-oord. Die naweek was gekenmerk deur uiters sterk wind en kamp opslaan was een groot sirkus gewees, maar na ‘n lekker gespartel was die tent staande en kon Alleman in alle erns lyne in die water kry.

Met dié dat ek maar bietjie raad gevra het en my ore uitgeleen het, het ek die aand besluit om die middel van die dam te teiken in die 7m tot 9m diep water. Aand een was toe een groot mislukking en Alleman het nie eers een navraag op een van die lyne gehad nie. Maar natuurlik het die bosveldtelevisie en rustigheid langs die water opgemaak vir die tekort aan vis. Na die gespartel met die opslaanslag was Alleman in elke geval lekker flou en het sommer vroeg my kop gaan neerlê.

Soos oudergewoonte was ek vroeg uit die vere en dag twee het aangebreek. Ek het rustig aan my koffie gesuig en my oë was stip op die water voor my. Dit was weereens opvallend dat al die vis aan die oorkant in die vlak water was so sonder om te skroom het ek al drie lyne vinnig ingebring om nuwe weiveld te gaan soek.

Alleman hou mos maar van so natuurlik as moontlik en my aaskeuse was oudergewoonte twee mielies uit die voer en dan twee fake maize bo en onder net om die asie te balanseer. En dan, natuurlik, het ek hulle so rukkie laat mediteer in my gunsteling dip van Fish, naamlik Sonskyn. Met die lyne sorgvuldig geplaas in die vlakker water van 5m tot so vlak as 2m het die wag begin.



Die wag was egter van korte duur toe my een Fox-alarm met ‘n rasse skrede weggetrek het. Die vis was aan en Alleman se hart het vinnig geklop. Ek hengel baie damme en glo my as ek sê daar is nie ‘n karp wat baklei soos ‘n Rietspruit-karp nie! Die vis het sy alles gegee en eers sowat 20 minute later het ek my eerste Rietspruit-karp geland wat die skaal aan die verkeerde kant van 13kg laat kreun het – die ys was gebreek en my naweek was reeds gemaak.

Alleman se gunsteling aasaanbieding, een fake maize bo, twee pitte uit die voer en een fake maize onder, en dis natuurlik gedoop in Fish se sonskyndoepa.
Alleman spog met sy eerste vangs – en dit was die eerste een van vele.
Nog ‘n pragfoto van my eerste vangs.

Die tweede dag was goed vir my en ek het ‘n verdere twee vis geland waarvan die een ‘n pragtige spieëlkarp van oor die 10kg was. Rietspruitdam is bekend vir sy mooi spieëlkarpe en dit is eintlik hoekom Alleman op dié dam besluit het. Die aand was weer baie winderig en ek is genoodsaak om vroeg bed toe te gaan. Die res van die aand het niks opgelewer nie en dit het darem gesorg vir ‘n goeie nagrus.

My vriend Charl, van wie lesers nog baie in die toekoms gaan hoor en sien, het besluit om Saterdagoggend te kom kuier – hy bly darem net ‘n klipgooi weg. Hy is ook ‘n kranige spesiehengelaar, en glo my as ek sê niks is ooit vir hom te veel moeite nie – hy help altyd waar hy kan. Dag drie sou ‘n dag wees wat ek dalk vir sekere redes nie wil onthou nie, maar wel ook ‘n dag wat ek nuwe vriende ontmoet het, maar daarvan vertel ek later verder.

Ek en Charl het die baarsstokke uitgeruk en besluit om besig te bly terwyl ek vir daardie vetties wag om te byt. Ons het skaars elkeen drie gooie vir baars gemaak toe my een karp stok, wat aan die oorkant teen die graslyn gelê het, wegtrek. Omdat daar so baie watergras in Rietspruit is het ons elke vis maar met die boot gaan uithaal. Charl was in ‘n japtrap saam op die boot om te help met die skepslag. Dit was weereens ‘n geveg uit die boeke en ons het die vis drie keer gesien – dit was ‘n spieëlkarp en as ek mag skat, maklik so 19kg. Ongelukkig het my lood nie afgeval nie en toe die karp die derde keer afduik het hy die hoek losgeruk en Alleman het ongelukkig sy droomvis verloor. Wat sou volg was ‘n paar trane en tien minute se stilte op die boot. Alleman het egter sy kop opgetel en besluit om nie op te gee nie, hulle sê mos aanhouer wen!

Wat is ‘n Alleman-sessie nou sonder ‘n mooi bosveldtelevisie.
Die visse is mooi en gesond en elke vis baklei hard – tot in die net.


Die res van die dag het so ‘n paar mooi vis opgelewer om die gemoed bietjie te sus. Die wind het weer baie opgetel en Alleman het besluit om so ‘n bietjie te gaan slaap voor die aand se hengel aanbreek. Die slaap was egter van korte duur toe ek ‘n diep stem by my tent se deur hoor: “Riaan, is jy hier?” Die stem het behoort aan Marc Hills wat ook alombekend is in spesiekringe. Hulle het die Stywe Lyne-bakkie gesien en hulle is groot aanhangers van Die Oewerhengelaar en Stywe Lyne-tydskrifte. Dit was gawe mense en kort voor lank was ek genooi om vinnig hulle huisie te besoek vir ‘n foto of twee.

Met my aankoms by hulle vakansiehuisie was ek verras met al die geraamde tydskrifte teen die mure en hulle het al telkemale in die tydskrifte verskyn. ‘n Paar foto’s het toe ontaard in ‘n aand se lekker kuier en vleisbraai en natuurlik het die Springbokke ook die rugbykampioenskapbeker teen Argentinië verower wat die aand ‘n nog groter sukses gemaak het. Alleman het in die vroeë oggendure sy weg teruggevind na sy tent toe en rustig gaan slaap voor die volgende dag se oppak en pad terug huis toe.

En daar is hy, my persoonlike beste! My jaar is gemaak.
Alleman se persoonlike beste vir ‘n spieëlkarp. Dankie Shiraz van SnZ Tackle vir my Fox-skaal – beste op die mark.
Sommer net nog ‘n lekker spogfoto.

Die laaste oggend het aangebreek en Alleman het besluit om sy lyne vir een laaste keer in te vat voor die groot pak begin. Dit was nie ‘n halfuur nie toe my eerste stok net een piep maak. Etlike oomblikke later het die lyn pap geword en ek het geweet die vis swem in kant toe. Ek het vasgemaak en is inderhaas die dam in om die vis te gaan land. Dit was weereens ‘n helse geveg gewees en met die wind saam was sake nie maklik nie. Na ‘n gespook van bykans 30 minute het my droom egter waar geword – ‘n mooi spieëlkarp en nogal ‘n vettie ook! Na die landing van die vis het ek oomblikke net gesit en staar na die juweel van ‘n vis wat voor my lê. Ek dink die hele dam het my blydskapskreet gehoor en geweet hier is iets spesiaal!

‘n Laaste waterfoto voordat ons die vettie veilig teruggelaat het in die water om rustig haar eiers te gaan lê.


Met my aankoms by die oewer is ek ingewag deur ‘n hele klomp nuuskierige hengelaars wat die vangs wou aanskou. My vorige persoonlike beste spieëlkarp van 12,50 kg het ek in 2018 by Harties aangekeer, en ek het sommer geweet dié een is baie groter. Ek kan met trots sê dié een het die Fox-skaal laat kreun op 15,350kg en Alleman se voorland was ‘n lekker stort met yskoue damwater! My buurman, wie se naam ek ongelukkig nie het nie, het gesorg vir die pragtige foto’s en het dit natuurlik ook baie geniet om my nat te gooi.

Ek het nog een vis daarna geland en dit was die einde van ‘n onvergeetlike naweek by Rietspruit Heron-oord op die Rietspruitdam-oewer. Riaan Alleman het gegaan van zero na hero in net ‘n paar dae.

Soos Riaan Alleman altyd sê: “Waar is dit lekker? Hier is dit lekker!



The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!

The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!

5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x