Roodeplaat se treine saam met Barend Breedt

Ons het verlede maand by Roodeplaatdam saam met Barend Breedt die dam se “treine” geteiken, en het ook ‘n paar nuwe produkte probeer.

WOORDE Werner Lubbe FOTO’S: Jessica en Jonathan de Villiers

Roodeplaatdam net buite Pretoria het mooi groot karpe, en baie vis. Ons het al ‘n hele paar versoeke gekry om die dam te teiken en lesers en kykers te wys hoe om die plek te hengel. Ons het egter ‘n hele paar verrassings gekry…


Barend Breedt en Pieter Bouwer met een van die mooiste karpe van die dag – een met so ‘n trotse houding.

Dié dam in die Pienaarsrivier is geleë net buite Pretoria tussen die Moloto- en Kameelfonteinpaaie en word ook deur die Hartbees- en Edendalspruite gevoed. Ongelukkig word die dam die afgelope paar jaar met infeksies hiasinte geteister. Verskeie van die oorde om die dam het al maatreëls getref en kabels gespan om die hiasinte uit te hou, maar van tyd tot tyd waai die wind steeds die plante die wêreld vol en kan ‘n hele sloep skielik onhengelbaar word. 

Ons het ook nie regtig die dam geken nie, dus het ons eers met ‘n boot op die dam gaan rondry om geskikte plekke te identifiseer. Ons het die vorige dag die dieper water van Sable Hills se kant af gefynkam, maar op die sonar was daar min vis te sien. Tot en met die inloop van die Edendalspruit by Cast & Catch se kant ingevaar tot waar dit met ‘n kabel afgesper is. Ons het egter daar teen die kabel baie vis gekry in ongeveer 4 – 6 meter water. Hier het Barend so drie emmertjies van die Monster Carp-pellets bo-oor die kabel gestrooi om die groter karp deur die nag in te trek.



ONS DAG

Die volgende oggend trek ons in by ‘n stukkie privaatgrond aan die Sable Hills-kant wat nie eintlik vir die publiek oop is nie – ons is baie dankbaar teenoor Pieter Bouwer van Gys Pitzer Motors vir die voorreg. Dit is egter reg oorkant Cast & Catch wat ‘n publieke oord is, en daar is die water heel toeganklik.

Die plekkie waar ons hengel is maar knap, en net twee staanders met stokke pas daar in. Pieter en Barend kry die eer en ek vat die plekkie onder die boom op die klipkoppie. Met ons aankoms daar sak daar ‘n lekker bui reën uit en ons moet ‘n ruk in die kar sit. Toe die reën so effens bedaar spring ons uit en slaan op en kry alles gereed.




Barend gee vir ons elkeen ‘n klein hamper en ons spring weg met ywer. Die vorige aand op die For Anglers Live-program was ons natuurlik baie slim en het sommer so ‘n amptelike kompetisie uitgeroep; eintlik twee – een vir die grootste vis en een vir die meeste vis. Geen spesie of grootte word gespesifiseer nie, so daar is baie planne.

Barend begin dadelik met die een stok sommer hier vlak op 30 meter, en die ander een effens verder. Pieter haak in op 40 meter (‘n besluit wat hy later sou berou) en hengel altwee stokke daar. Ek is op die uitdagende stukkie oewer en klouter soos ‘n wafferse bobbejaan daar oor die klippe. Ek besluit om net duskant die kabel te hengel, daar waar ons die vorige middag gevoer het. Om dit effektief te doen moes ek ‘n sinker ‘n paar keer gooi totdat die haak op presies die regte plek gedoen is. Ek het later die lyn mooi gemerk met ‘n swart permanente merker, ten einde die lyn te kan uithaak sodat die stok nie ook (soos Pieter s’n heel later) in die water beland nie. 




Barend spring sommer dadelik weg binne die eerste 10 minute met ‘n jong karpie of twee. Ek land so anderhalf kilo vis, en vat dadelik die grootte voortou. Barend bly die klein karpies vang, sommer so twee-twee. Ek land nog ‘n mooi karp van seker so twee-en-‘n-half en loop mooi voor met grootte. Barend maak ‘n paar planne en gooi ook een stok net duskant die kabel. Hy vang ‘n pragtige spieëlkarp van 4,2kg en loop nou voor in albei afdelings.

Hierdie werk nie vir my nie en ek besluit om sommer so van die klipkoppie af met die hand ‘n paar balle te gooi, en later daar die jong vis te teiken. Ek staan nog daar voor en kyk of daar al op daardie kol lewe is, toe my poliesman met ‘n spoed verby my kom. ‘n Pragtige volskubkarp van bykans 5 kg word geland en ek is nou mooi voor op grootte. 

Die volgende drie ure wat volg was seersekerlik die mees frustrerende stukkie hengel nog ooit. Die groot vis beweeg in op die kol wat ek nou al mooi aan die gang gehengel het deur so elke 20 minute ‘n lekker groot sagte bal Legacy Series Feed Plus gegooi het. Hierin het ek ook ‘n blikkie KOO-mieliepitte gemeng, juis om die groter vis in te trek. Uit ‘n totaal van nege lope, waarvan ‘n paar visse meer as ‘n 100 meter lyn stroop, kon ek nie een land nie. Klaarblyklik is daar voor my in die water ‘n hele hoop klippe met ‘n klompie boompies op. Ek kon voel hoe skuur die lyn tussen die klippe en bome deur, en net as ek dink ek het hom gewen, duik hy weer af en soek ‘n nuwe haakplek. Ek het selfs die lyn vervang met 14-pond, maar kon hulle steeds nie uitkry nie.



Intussen vang Barend ‘n karp van 5,7kg en loop nou voor in albei kompetisies. Pieter kry ook twee mooi lope, maar vanweë die feit dat hy ingehaak hengel, duik hy elke keer agterna en verloor amper sy stok – nodeloos om te noem is albei visse weg met die hoeklyne. Ek weet dat as ek een van die kompetisies wil wen, moet ek dalk die kort lyn teiken en ‘n klomp jong vis vang, maar die adrenalien om een van daardie treine uit te haal noop my om aan te hou probeer. Nog ‘n storm steek op en ons reën lekker nat. Toe die son sy kop neerlê is daar steeds nie een van die treine op die kant nie – klink vir my na ‘n verskoning om weer terug te gaan!


Barend voer Monster Carp-pellets van die boot af, bo-oor die kabel.

The latest print edition of The Bank Angler is now available in retail and selected angling stores!



5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x