fbpx
Bank AnglerVenues

Span uit by Boesmanland Lapa

Hengel en reis met Frik van Zyl

Dis Oujaarsnaweek en die Super MacPac-span bevind hulle hierdie jaar nie in die Kaap nie maar wel by Boesmanland Lapa. Hierdie lieflike hengeloord is slegs 128 km (een-en-’n-half uur se ry met die N4 en daarna die R545) vanaf Pretoria tussen Ogies en Kriel in Mpumalanga geleë.

Die kerkie waar troues gehou kan word.

Net ’n paar honderd meter verder lê die bekende Rietspruit-hengeloord wat sekerlik aan baie lesers bekend is.

Swembad om af te koel in die warm somer dae.

Kan mens by Boesmanland Lapa hengel en watter spesies kan jy verwag? Met groot karpe, reuse babers en moggels asook mooi swartbaars is hierdie oord by uitstek geskik vir beide kant- en boothengelaars. Die rivier is lekker breed en word gou diep. Om alles te kroon was daar nie tydens ons besoek enige hiasinte of slyk nie en het ons ook geen lyn of stroppe as gevolg van vashaakplek verloor nie. Ongelukkig het ’n kouefront dié naweek oor die land getrek en het dit feitlik die hele naweek gereën. Ten spyte van skerp temperatuurskommelinge, wat veroorsaak het dat die vis nie aktief gewei het nie, het die Super MacPac weer sy staal gewys.

Van die akkommodasie wat verhuur word.

Naas die visse wat ons self gevang het, het sommige van ons bure ook met MacPac-produkte die een na die ander mooi vis aangetree. So tussen die reënbuie deur het ons ook video geskiet van ons splinternuwe ‘Super Link Mushroom’-stroppe wat jou in staat stel om maklik en vinnig groter of kleiner gewiggies te kan aansit afhangende van die spesifieke hengeltoestande, byvoorbeeld wind, obstruksies in die water of ’n modderbodem.

Lang oewer om genoeg hengelaars in te pas.

Maar watter belewenis was dit nie om dié naweek tyd saam met ons vriende, Donald en Wilma MacDonald, te spandeer en Oujaarsaand te kon weglê aan Donald se asemrowende hoenderpotjie nie! Toe dit die nag 12 uur slaan en die naweekbesoekers aan Boesmanland Lapa met vuurwerke losstrek, is 2019 op indrukwekkende wyse ingelui. Mag die positiewe energie en gees van vriendskap van dié aand regdeur die jaar met almal van julle bly!

Lekker breë area vir hengel.

By Boesmanland Lapa staan mens verstom oor die pragtige skoon oewer, lowergroen skadubome, gerieflike woonwa-staanplekke met kragpunte en skoon ablusiegeriewe. Daar is ook ’n mooi swembad, bekostigbare chalets vir diegene wat ’n bietjie meer gerief verkies, ’n restaurant wat heerlike kos teen uiters billike pryse bedien en deur die dag hout en ys verkoop, ’n saal waar funksies aangebied kan word, en ’n kroeg waar die besoeker bietjie voggies kan aanvul indien nodig (kyk gerus na die video op Boesmanland Lapa se Facebook).

Grootste moggels wat ek al ooit gesien het.

Op naweeksaande word daar musiek gemaak en kan besoekers wie se voete jeuk hulself op die dansbaan geniet, terwyl ander hul vernuf met veerpylties of snoeker kan inoefen. Indien jy egter verkies om liewer rustig te verkeer, te kyk hoe die maan oor die water opkom en ’n braaitjie langs die water uit te pak, kan jy jou kampplek verder af langs die oewer bespreek. En soek jy dalk ’n plek waar jy troue kan hou, bied Boesmanland Lapa ’n pragtige kapel met ’n lieflike uitsig oor die rivier en omringende groen heuwels.

Pragtige karpe wat die naweek uitgekom het.

Selfs babers laat nie op hul wag nie.

*Kontak Tel.082 2520526 (vanaf 10h00); epos-adres: boesmanlandmp@gmail.com

Mooi uitgemerkte hengel areas.
Tags
Close