
SPESIE KARPHENGEL: Familie-hengeluitstappie, Kwaggashoek
Einde laasjaar het ek besluit om weer na een van my gunsteling damme toe te gaan, naamlik Kwaggashoek.
Dit was veronderstel om die keer net ek en my vrou, Karien te wees wat die naweek lekker sou saam hengel, maar my nefie, Eddie Schilbach was so ‘n paar dae af en het groot asseblief gevra of hy kon saamkom. Dit sou nie ‘n probleem wees nie aangesien ons die enigste mense op die dam sou wees. Dit was ook ideaal, want nou kon ek meer lyne uitsit op plekke waar ek nie gewoonlik sou kon hengel nie. Dit het my toegang gegee tot die twee inlope van die dam en dan natuurlik, die hoofdeel van die dam waar die damwal op die verste punt sit. My neef het nog nooit karp gehengel nie en ek was seker dat ek hom op ten minste een mooi karp kon sit vir die naweek.