SPESIEKARPHENGELHOEKIE: Die KD – STROP
WOORDE: Gilbert Foxcroft FOTO’S: Verskaf
Ek het oor soveel jare wat ek op die spoor van groot, spesie-grootte karp is, wonderlike resultate met hierdie strop behaal. Hoewel ek graag as die ontwerper van hierdie strop sou bekend staan, moet ek dié eer eerstens gee aan ‘n karphengelaar van Sussex in Engeland, ene Kenny Dorsett wat dit die eerste keer gebind het, en daarna ook die hengelaars van Korda wat dit gereeld gebruik. Dit is regtig maklik om te bind, is super doeltreffend en is tot vandag een van my top twee gunsteling stroppe van alle tye.
My liefdesverhaal met die KD-strop het vroeg in 2010 begin terwyl ons vir daardie jaar se Wêreldkarphengelkampioenskappe in Engeland geoefen het. Ons het destyds Hartbeespoortdam gehengel en die karpe het net geen lus vir ons ase gehad nie. Ek het toe die KD-strop uitgehaal en het ‘n paar piesang- en suikermielie-pop-ups in my gereitassie gehad. Die resultate daarna was ongelooflik, want ek het nie minder nie as 17 karpe in net ses ure gevang, en elke hoekset was volmaak.
‘n Paar weke later het ek en mede Proteaspanlid Loutjie Louwies weer verkies om die KD-strop te hengel en 27 lopies later het ons nie minder nie as 27 visse op die oewer gehad. Ons was dus gerat vir Engeland waar ons daarin kon slaag om die F.I.P.S.ed Wêreldkampioenskappe by Linear Fisheries te wen. Ek en Loutjie het daarin geslaag om ons sone net 30 minute van die einde af met die KD-strop te wen!
WAT BENODIG WORD
- ACE MCS # 6 hoeke
- 15-pond bedekte braidlyn
- 0.4g knyploodjies
- 14 – 16 mm opwip boilie (pop-up)
HOU OM DIE KD-STROP TE BIND
Stroop 13 cm van die gewenste lengte van Camfusion Braid af en bind ‘n lus aan die einde van die gestroopte gedeelte. Ek verkies om ‘n dubbele oorhandknoop vas te bind sodat die aas deur die effens groter knoop vasgehou kan word. Voeg dan die pop-up, boilie stop en knyploodjie ongeveer 2mm van die aas af.
Steek die bedekte gedeelte van die braid deur die oog van die hoek totdat die pop-up net aan die draai van die hoek raak.
Begin om jou normale knooplose-knoop te bind, maar lig die aas op na drie draaie van die braid om die hoek en hou aan om nog drie tot vier draaie onder die haar te draai voordat jy die knoop vastrek.
Ek verseël gewoonlik die knoop met ‘n bietjie helder naelvernis vir ‘n netjiese afwerking. My voorkeurlengte vir die KD-strop is ongeveer 18 cm van die oog van die hoek af.
The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!