STRANDHENGEL-AVONTUUR: Boggomsbaai se Bronshaai-geveg!
WOORDE: Henrico Meyer FOTO’S: Schalk Burger
Ek het besluit om by Boggomsbaai ’n lyntjie nat te maak en toe ek daar aankom gesien die toestande is perfek vir haaihengel. Die water was tussen 18 en 20 grade. Ek het besluit om met ’n geelstertkop vir ’n skeertandhaai te gooi.
Kort na lank was ek vas maar verseker nie met ’n skeertandhaai nie! Ten spyte van die hoë gehalte visstok, lyn en katrol wat ons vandag kan kry, en met alle mag het ek die haai probeer stop, maar ek kon net nie. Die haai het net aanhou lyn vat. Dit was ook nie my enigste probleem nie want ek was stoksiel alleen.
Gelukkig sien ek ’n man, Schalk Burger, regs van my en vra hom om hulp. Kort voor lank het die haai na regs beweeg, en dan weer na links. Dit het drie keer gespring en ons het gesien dis ’n reuse bronshaai. Ek het net daar besef hierdie is ’n droomvis en dit moet net uitkom!
Met ’n gesukkel na nog hulp deur middel van selfoonoproepe en boodskappe, het die geveg vanaf 13:24 geloop en net aangehou. Ek het my energie probeer spaar om reg te wees vir die lang geveg. Die lyn was 65-pond DNA met 50-pond DNA braid onder en ’n Penn Slammer DX 8500 katrol op ‘n Hearty Rise Sakana 7-9oz visstok. Die voorslag was ses meter 180-pond DNA, met Trident 210-staal en vas aan ‘n 11/0 Trident Kong sirkelhoek. Ek was gemaklik met my hengelgerei, alles moes net saamspeel, soos byvoorbeeld dat die lyn se knoop moes hou, en dat die hoek reggehaak was.
Na ’n ruk is die lyn tot op die katrol se spoel gestroop en moes ek met alle mag vashou om die vis te stop. Eers so drie-uur later, om 16:33, het ek vir die eerste keer my Topshot-knoop gesien wat 275m uit is. Ek het net daar bly geraak en geweet dinge lyk beter. Die volgende oomblik sien ek twee seevoëls nader kom en begin my stok op en af beweeg vir vibrasie sodat hulle dit kon sien, maar net soos dit moet wees, vlieg die een in my lyn vas! Met die besef dat my lyn toe beskadig is, kon ek nie aanhou hard trek soos voorheen nie.
Gelukkig sien ek die vis is op pad na my toe. Toe die reuse haai naby die strand kom, draai dit net daar om en swem soos ’n stoomtrein weg wat geen mens gestop kon kry nie. Net voor ek weer die spoel kon sien het ek ’n tweede keer gewen. Die haai was weer op pad terug strand toe. Dis net daar waar ek vir Schalk weer om hulp vra. Terwyl ek bo op die duin staan met die visstok, kon hy die stert onder by die water gryp sodra dit naby genoeg is, maar toe die haai nader kom vat dit weer lyn en swem net dieper die see in.
Ek het weer na Schalk geroep en gesê die strand is te vlak, beweeg na links. Ons het met daardie vis ongeveer 1 tot 1.5km links geloop en toe ’n diep gat gesien. Ek kon die haai in daardie gat in trek en vir ’n derde keer was dit so te sê amper terug op die strand. Schalk het probeer inswem om die stert beet te kry, maar die stroom was net te sterk, so vir die vierde keer vat die haai weer lyn terug diepsee toe! Ek het besef hierdie is nie ’n doodgewone bronshaai nie. Met my selfoon wat op daardie stadium skaars 5% vol was, het ek begin wonder of ek ooit ’n foto sou kon neem wanneer dit geland word …
Ek het die haai weer lyn gegee en die volgende oomblik toe vlieg ’n tweede voël in my lyn vas! Die haai het toe links oor die sandbank beweeg en toe weet ek ons is besig om te wen. Vir die hoeveelste keer vra ek vir Schalk om hulp, nou of nooit, en ek trek en voel die water bring die groot haai in. Toe ek weer kyk het Schalk die haai aan die stert – wat ’n groot geveg!
Ek jaag van die duin af na die pragtige groot bronshaai. Toe ek die haai sien besef ek dit is ’n besonderse vangs wat ek as hengelaar kon beleef en staar net na die vis – hoe pragtig en bevoorreg is ons! Kort na lank sien ek die haai is op die sand, en die tyd 19:29 – ’n volle ses ure later!
My foon wys 2% en ons neem vinnig ’n paar foto’s, maar toe ons ’n video wou skiet slaan my foon dood. Schalk was darem tevrede met hoe die foto’s lyk. Sy foon was toe ook amper pap en lê in elke geval meer as ’n kilo terug op die strand. Ons het die haai gemeet en toe gesien hoe dit sterk weg swem.
Wat ’n voorreg om ’n les hieruit te leer as hengelaar, om te smeek na hulp, vertroue in jou hengelgerei en geduld! Schalk, baie dankie, sonder jou sou ek dit nie kon maak nie, en ek kon sien jy was net so opgewonde soos ek.
Die haai het 245.8 Pcl gemeet wat ’n gewig van 213kg verteenwoordig.
Die geveg het ses ure geneem, en om die groot vis daarna te sien na sy vryheid swem was die beste gevoel wat geen mens kan beskryf nie!
Tot ’n volgende keer.
The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!