TWEE PB SWARTBAARS EN OOK KURPERS UIT LOSKOPDAM

Ek, my pa, Deon en my 5-jarige seuntjie, Simeon was op 9 en 10 Januarie met ons boot na Loskopdam. Baie van ons familie het probeer dat ons hierdie trippie kanselleer, want die weervoorspelling het verskriklike reën gewys vir daai area oor hierdie tyd. Ons is so bly dat ons dit nie gedoen het nie, want wat oor hierdie twee dae by Loskopdam gebeur het was ’n absolute ‘once-in-a-lifetime’ ervaring gewees.

Donderdagoggend 9 Januarie het ons vroeg daar gearriveer, om 07:00 by die ontvangs ons papierwerk uitgesorteer en ons is direk van daar af na die lanseerblad. Met baie opgewondenheid het ons vinnig alles reggekry op die boot en ons kon ongeveer 07:45 op die water vaar in die rigting van die alombekende kabel. Dit was redelik bewolk, maar bedompig en die watertemperatuur was lou-warm.

Daar aangekom het ons verskriklik baie visaktiwiteit bo-op die water gesien en ons kon nie meer ons opgewondenheid binne hou nie. Ons het ankers afgegooi op so 4m diepte. My pa was vinnig uit die blokke en het sy stokke agter die boot uitgegooi, op soek na Loskopdam se mooi moddervis en karp. Ek het mooi babers sien draai om die boot en ek het soos oudergewoonte gou voor ek die ander stokke reg kry, ’n baberstok met rysmiere gegooi. Kort voor lank toe maak Simeon vas met die eerste vis en baber van ons trippie. Minwetend egter dat daar iets groter vir ons wag, wat ons op daai oomblik nie sou kon glo as jy vir ons moes vertel dis wat gaan gebeur nie.

Die hengel was maar stadig en my pa kon nie die moddervis en karp baasraak nie. Ons het net so elke nou en dan nog ’n snorbaard uitgetrek.

Simeon is aan met sy baber! Kyk net hoe lekker baklei die snorbaard.


Simeon het so teen 13:00 verveeld begin raak en vir my begin vra of ek by sy oupa kan hoor of ons nie ankers kan optrek en in die vlakker water kan gaan rondspeel met kunsaas nie. Ons het vir oupa oortuig en teen 13:30 het ons ankers afgegooi in ’n sloep met waterdiepte van 0.5 tot 1.5m. Ek het dadelik kurperaktiwiteit op die water gesien en ons het begin met dobbertjies en erdwurms, en toe was dit pandemonium. Van die eerste gooi af het ons die geliefde Loskop bloukurpers begin vang, almal tussen 500g tot so groot as 2kg.

Simeon van der Merwe met een van vele kurpers wat hy gevang het.
Skrywer Andrion van der Merwe met ‘n mooi diklip kurper.
Oupa en kleinseun met hul kurpers.

Dit was nie lank nie toe ek swartbaars begin opmerk wat tussen die kurpers rondswem. Simeon vang al van 3-jarige ouderdom af baars, en as hy kan kies dan is dit die soort hengel wat hy graag sal wil doen. Hy het so ‘n paar kurpers op dobber gevang en my toe gevra om sy baarsstokkie reg te kry.



Dit was nie eers 10 minute se speel in die vlak water nie, toe maak hy vas met ’n yslike swartbaars. Die vis het hom onverwags gevang en sy lyn gebreek. Ek het dit gou weer vir hom gebind en kort voor lank toe staan my seun met ongeveer ’n 3kg baars, sy PB! Ons het nie ‘n skaal gehad nie, so ons skat maar. Hy was so in sy noppies en mens kon nie die glimlag van sy gesig afvee nie. Ons het tot so 16:00 lekker rond gespeel met die kurpers en toe moes ons ongelukkig die baai verlaat om kamp op te gaan slaan by Loskopdam Forever Resort.

’n Mooi groot baars wat Simeon op die eerste dag gevang het.

Ons het daai aand om die kampvuur gesit en gesels en teruggedink oor wat die dag gebeur het. Ek het nog vir Simeon en my pa gesê ek wonder nou wat more se hengel beter sal kan maak as vandag s’n?  Simeon het gegrap en gesê om ’n groter swartbaars te vang!

Ons is die volgende oggend weer met eerste lig uit na dieselfde baai. Dit het nog stadiger begin as die eerste dag. Ek vermoed die vis het net gelê en wag vir die water om bietjie warmer te bak met die son. Teen 09:00 toe gebeur waaroor Simeon gegrap het en ons net oor kon droom. Hy vang sy groter swartbaars (nuwe PB!) van ongeveer 4kg, in ongeveer 0.5m water. Ek en oupa het toe daarna opgehou om te probeer swartbaars vang want ons kon eenvoudig hul net nie aan die lyn kry nie, en ons was in totale verwondering met wat ons seuntjie nou net reggekry het. Simeon het my gehelp dat ons hierdie wyfievis swartbaars weer mooi kon vrylaat en het onmiddellik daarna weer begin gooi. Hy het later daai dag bloukurpers begin vang op die swartbaars kunsaas en #1 Mepps spinners.

Die tweede dag vang Simeon weer ‘n PB monster-baars!
Pa Andrion hou Simeon se persoonlike beste grootbek-swartbaars van ongeveer 4kg vas.

Hierdie was ʼn onvergeetlike gebeurtenis en ervaring vir ons. Loskopdam het ons uit-en-uit bederf!



The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!

5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x