Black Friday Sale

Save on For Anglers Digital Angling Network Annual membership for the first year.

Don't Miss Out

UIT EN TUIS: 15 karp en ’n makriel, met ’n buiteboordmotor sonder olie!

Lesse geleer …

  • Gaan jou bootmotor weer ’n keer na, veral laatmiddag voor ’n hengelkompetisie!

Van die nege ure kon ons net vier daarvan hengel waar die vis heeltyd aan die byt was. Die ander vyf ure was om voorsiening te maak om veilig terug op die oord te wees.

’n Navraag oor ’n buiteboordmotor jare gelede, bly tot vandag toe nog in Jaco se gedagtes:

“Spuit hy water?” vra Jaco die tegnikus.

“Ja” is die antwoord.

“Rook hy?” vra Jaco.

“Ja” is weer die antwoord.  

“Ry hom!” is die advies.

Wel, dié keer het dit nie genoeg gerook nie …


Vir ’n hele paar jaar net sodra die lente in sy volle glorie is, vind die Karp Bonanza by Loskopdam plaas. Vir my en my gesin is dit ’n ander lekkerte van samesyn op die gesogte Forever Resort-oord.

As sosiale hengelaars neem ons graag deel aan dié kompetisie, om ook soos al die ander hoopvolles te probeer om die grootste of meeste karp te vang, en so het ons jaarliks deel geword van die talle bote wat voor daglig die dam in te vaar, en met eerste lig saam met die massa weg te trek na verskillende plekke op die dam.

Die kompetisie werk so: een dag word uitgesonder om te oefen, dis waar jy gaan kyk waar die vis draai om sodoende die volgende dag so vinnig as moontlik reguit soontoe te vaar.

Maande se beplanning en baie geselsies onder mekaar verder, bereik ons die oord sommer ’n dag vroeër, gereed, reg om of die grootste of die meeste karp te vang, of miskien die Spangeesbeker te wen, of dan ten minste net ’n ‘Lucky Draw’.

William en Celine van Jaarsveldt op hul boot Plankie.
Jaco en Charmagne Grimbeek op hul boot, Stywe Lyne Tight Lines.


My dogter, Celine van Jaarsveldt en haar man William, aka Plankie, het hierdie jaar hul eie boot aangeskaf, twee weke voor die groot dag. Dit gee ons die geleentheid om elkeen op sy eie boot vis te vang, waar die hoeveelheid vis gedeel word deur die aantal hengelaars op die boot. Die meeste vis vanaf ’n boot bring R5000 in jou sak, ons is dus kompeterend teenoor mekaar, natuurlik in ’n vriendelike opsig, ons bly en braai saam, hoe dan anders.

Na ’n paar ritte op die dam het ons presies geweet wat die planne is, sommige planne het verander, en Saterdagoggend vaar ons in ons eie rigtings in. Plankie vaar nie te ver van die oord af nie, en ons vat die pad reguit kabel toe, ongeveer 14km verder.

Nou dis waar Jaco se finale beplanning uitmekaar val. Ongeveer 700 meter voor die plek waar ons vir die dag sou anker gebeur dit: met die gejaag na ons uitgesoekte plek sluit die 115 Mercury summier net af! Na vele mislukte probeerslae om dit weer aan die gang te kry moes die sleepmotor sy werk doen, en dit teen ’n wind wat waai! So met ‘n veel stadiger spoed arriveer ons by ‘ons plek’ heelwat later as wat ons graag daar wou wees.

Nietemin word die ankers uitgesit, lyne is in die water en toe eers kon Jaco die oorsaak van die fout soek, en tot sy skok sien hy dat daar nie ’n druppel olie in die motor is nie! Maar …, dis dan onlangs vol gemaak?

Loskopdam naby die kabel, die plek wat ons vooraf uitgekies het om te hengel vir die kompetisiedag.

Die vis het egter nie op hul laat wag nie en het vinnig aas gevat, en so deur die visse wat hounet toe gaan, nuwe aas op stroppe laai, en warm sjokolade drink vir ’n bietjie liggaamshitte, kon ons by hooforganiseerder Kobus Hermitage reël dat olie by die boot afgelaai word. Ongelukkig egter sonder die herstel daarvan, want die motor is toe reeds beskadig met al die probeerslae om dit aan die gang te kry sonder die wete van geen olie.

Jaco Grimbeek se karp net nadat dit gevang is het 4,1kg geweeg.
Nog ‘n redelike mooi karp vir Loskopdam, Charmagne Grimbeek het dit met ‘n ‘Garlic floatie’ gevang.


Met selfoonsein wat kom en gaan, kon ons darem opvang wat daar by Plankie gebeur, en daar by Celine en William was daar blykbaar vis maar die slegte nuus was dat hulle ook met enjin probleme sukkel!

William van Jaarsveldt met sy eerste karpvangs vanaf sy boot Plankie.

Ons vang vis van sewe- tot 11-uur, en besluit toe om ankers op te trek om die bootrit terug Forever Resort toe aan te pak. Eers vier ure later bereik ons die oord; ons het eers met die sleepmotor teen ’n spoed van een- tot drie kilometer per uur, met die wind van voor, te vaar, en daarna het die boot, Visgat se span van twee, Heinie en Japie, ons terug oord toe gesleep.

Die boot, Visgat se span van twee, Heinie en Japie, het ons terug oord toe gesleep.

Ons was gelukkig vroeg genoeg vir die inweeg van ons 15 visse. Ongelukkig het hulle op die boot se warm dek so uitgedroog dat hul heelwat gewig verloor het. Jaco se swaarste karp het die oggend 4,1kg geweeg, maar na vier ure op die boot het die vis soveel vog verloor dat dit net 3,312kg by die skaal geweeg het, wat hom in die sewende plek gelos het.

Jaco verower sewende plek. Forever Resort Badplaas sien ons binnekort.

Verslae sit ons op ’n bankie by die inweeg en doen nabetragting oor die agt ure op die water … hoekom het ons nie die grootste karpe in die boot se ‘hatch’ gesit met water daarin nie? Ons eetlus was die hele dag weg, dalk moes ons eet sodat die verstand kon werk? 

Verslae sit ons op ’n bankie by die inweeg en doen nabetragting oor die agt ure op die water.

Wel, wonderwerke gebeur oral, maak nie saak waarmee ons besig is nie: die hengelaars wat vir ons die 2-stroke olie gebring het, het op die dag  so 17 km gevaar sonder dat hulle geweet het waar hulle vir die dag sou anker. Hulle het toe net duskant ons die dag deurgebring – en hulle het ‘n karp van 4,426 kg ingeweeg om met die eerste prys van R60 000 weg te stap!

Die span wat vir ons die olie gebring het, het toe duskant ons geanker en met die wenprys van R60 000 weggestap.

Die eersteplek wenners vir die Karp Bonanza 2024, verdien hul prys met lof, as jou hand oop is om ander te help, word jy dubbel en dwars vergoed! As Christene, bring alles ons terug na die volgende vers in die Bybel:  “Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas.” -Spreuke 19:21.



The latest digital edition of THE BANK ANGLER / DIE OEWERHENGELAAR is now available!

5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x