
UIT EN TUIS: Een laaste poging voor die jaar verby is …
WOORDE en FOTO’S: Charmagne Grimbeek
Op die laaste dag van die ou jaar besluit ons impulsief, dis nou ek en my man Jaco, met my dogter, Celine en haar man, William van Jaarsveldt, om nog een laaste hengeltog met ons bote op Roodekoppiesdam aan te pak – net vir oulaas, soos ons sê.
Dit was wel bedompig en die temperatuur steeds hoog, en die lug bedruk met voorspelde reën, maar met ‘n bewolkte lug het dit darem draaglik gevoel. Vanuit Roodekoppiesdam se lanseerblad het ons met groot hoop uitgevaar, op soek na die regte plek – daar waar borrels gesien word moet mos karp wei, en dié dam se karp is groot …



Die vis wou egter eenvoudig nie byt nie, al was hul aktief waar ons geanker het. Ure het verbygesleep, en donkerwolke het begin opsteek. Met reën nie te ver van ons nie, het ons besluit om terug te vaar na die oewer, maar nie sonder ‘n lyn in die water nie. Die dam het mos grootbekbaars ook!


Dit was amper sonder verwagting, maar asof die natuur ons wou beloon, het ons binne minute een, twee, drie, vier baarse gevang – wel aan die klein kant, maar tog elkeen mooier as die vorige een. Ons kon nie glo hoe vinnig ons dag omgeswaai het nie.




Soms is dit die klein impulsiewe besluite – soos om net een laaste poging te waag – wat onverwagse vreugde bring. Ons het daardie aand tuis met ‘n glimlag om die vuur gesit, dankbaar vir ‘n spesiale einde aan ‘n onvergeetlike dag en ook jaar!