
UIT EN TUIS: Nou nog seesiek, REGTIG!
WOORDE: Charmagne Grimbeek
Stywe Lyne was weereens uitgenooi om die Noordkus te besoek vir ‘n vrouediepseekompetisie, en ek is altyd gewillig om dié taak met oop hande aan te gryp. Al het ek dit menige kere gedoen, is dit nie te sê ek kry net seesand tussen my tone nie, dis regtig ‘harde’ werk! 😉
Al die pad vanaf Pretoria het ons weer soos ‘n vorige keer deur Eswatini gery, maklik deur die grenspos beweeg, met ongeveer ‘n uur en ‘n half op die pad tot by die ander grenspos uit, reguit na die Golela-afrit waar dit met die N2 kruis. Die pad is net soveel meer veiliger met min verkeer op ‘n breë, oop en skoon pad, en sou die owerhede jou daar aftrek, is hul vriendelik en begin praat deur eers hul naam te gee.

Skaars ingeklok by ons geborgde en gerieflike verblyf by Turtle Bay Lodge, kry ek ‘n besoek vanaf ‘n deelnemende span, Montego. Hulle het vir my en my man Jaco, wat alte graag saam met my ‘werk’, elkeen ‘n spoggerige Stywe Lyne baadjie gemaak wat ons asems weggeslaan het! Dit was koud en reënerig, en juis daarvoor het dit baie gehelp.






Dankie aan die span, Montego met WI Corporation as borg, wat klere, alles en nog wat maak!

Om die ervaring saam met die vroue te deel, vaar ek en Jaco apart saam op deelnemende bote waar spanlede hul vis soek. Dis moeilik om nie ‘n visstok te gryp en in te katrol nie, daarvoor hou ons maar die kamera vas en geniet die vis wat uitkom, en wanneer vis verloor word, voel ons die pyn saam met die ongelukkige hengelaars!


Jaco geniet dit op die boot Free Spirit, en so kon hy saam met hulle op ‘n skilpad afkom wat aan ‘n net verstrengel was. Alle aandag om vis te vang het net daar gestop, en ‘n plan is gemaak om die arme dier te red. Uiteindelik het die dier weer sy vryheid gekry en verder daarna kon swem, sekerlik doodhonger van wie weet hoe lank se verstrengel in die net!


Toevallig, of is dit nou maar vandag se tye dat daar soveel rommel is, het die boot waarop ek was, Stella, ‘n naaldvis gevang met ‘n koeldrank bottel se plastiekring net agter sy kop. Die ghielie het dit losgeknip en die vis kon gemaklik weer swem.




Daar is altyd ‘n eerste vir alles, my heel eerste trekker-rit! Eers was dit op die strand in reën met die boot agterna, en die volgende dag darem in heerlike sonskyn na ‘n dag op die see.

Baie walvisse het gespring, soms drie op ‘n slag bymekaar, die see was behoorlik lewendig. Wel, so lewendig dat ek my dag op die see gekry het van naar-word! Of dit nou die oostewind was wat gekom en gegaan het, of die diep gate waarin ons heeldag gevaar het, of dalk omdat ek vir die eerste keer tekkies op ‘n boot gedra het of dat ek nie geëet het nie, weet ek tot vandag toe nie hoekom ek so siek was nie. Nie eers my gunsteling lekkerny het gehelp nie.

Beslis ‘n eerste vir my … maar tot vandag toe waar ek in die binneland is, ondervind ek skielik weer daardie selfde naar gevoel. Iewers broei iets en maak my bekommerd, want om op ‘n boot te vaar moet my mos beskore wees.
*Lees Charmagne se verslag oor die kompetisie in hierdie uitgawe. … En stuur maar enige raad vir seesiek-naarheid. – Red)