UIT EN TUIS: SAFTAD – Soos ‘n kind buite ‘n speelgoedwinkel …
... dis hoe ek onlangs gevoel het tydens die jaarlikse SAFTAD-skou!
WOORDE: Charmagne Grimbeek FOTO’S: Lorna Botha
Die “South African Fishing Tackle Agents and Distributors” is ‘n handels-ekspo waar invoerders, vervaardigers en groothandelaars bymekaar kom om nuwe hengelprodukte te bemark aan hengelwinkel-eienaars, en so dan bestellings te plaas.
Hierdie jaar was ek soos die afgelope paar jare, weereens bevoorreg om saam met hoofredakteur Eugene C. Kruger, tussen die nuwe gerei te stap en met almal te gesels. Hy het vanaf die eerste ekspo tot nou, die negentiende een, bygewoon, en so ook is hy ‘n bekende in die hengelbedryf.
Daar was soos gewoonlik, weer ’n ongelooflike verskeidenheid nuwe hengeltoerusting te sien. Omdat ek binnekort Gordonsbaai gaan besoek met die doel om ‘n 80+kg tuna of drie te vang, was my oog ook gemik op die ‘swaarder’ gerei. Van dié visstokke het my asem weggeslaan! Dis veerlig, maar dan kan dit ‘n 50kg dooie gewig hanteer! Ook te sien, en te hanteer ook, was daar vastespoelkatrolle (koffiemeule) om dieselfde gewig vis te vang.
Vir die ligter tipe hengelgerei het ‘n baarsstok my aandag getrek, dit weeg dan skaars 80gram en word gereken as die ligste stok in sy klas in die wêreld! Sy prysklas kry so twee nulle by die gewig, maar tog gewild by die besoekers.
Net so was daar nuwe tipe dips en muti’s by varswaterhengel, ook iets waarna ek in die hengelwinkels later in die jaar op die uitkyk wees. Boem Vas se Ed Roos het hierdie jaar weereens met nuwe produkte vorendag gekom, alhoewel hy bekendheid verwerf het met sy soutwater produkte, het hy heelwat varswater produkte uitgestal.
Saam met derduisende hengelaars sien ek uit na wat binnekort in die hengelwinkels gaan verskyn; hou jou oog wawyd oop vir al die nuwe produkte in ‘n hengelwinkel naby jou!