
UIT & TUIS: Die pad deur Swaziland, ‘skuus, Eswatini.
Opvolg skrywe vanaf:
WOORDE & FOTO’S: Charmagne Grimbeek
Hoe gebeur dit dat ’n hengeluitstappie waarna so lank uitgesien word, so vinnig verby gaan? Maklik! Dit was opwindend en suksesvol, boonop het ek en my man, Jaco ’n nuwe pad vanaf Pretoria tot Jozinimeer getoets!
‘n Ruk gelede is daar op St Lucia se Facebookblad ’n navraag oor ’n beter pad vanaf Pretoria na St Lucia. Die pad tussen Piet Retief (Mkhondo) en Pongola is uiters gevaarlik met baie trokke, en boonop ’n slegte pad wat nie net slaggate het nie, maar ook diep duike wat ’n voertuig maklik buite beheer kan bring. ’n Inwoner van die area, Pongola en St Lucia, die bekende tiervisjagter, Philip van Wyk het heel ernstig ’n antwoord gegee wat my aandag getrek en behou het, naamlik: “Vat die pad deur Swaziland!” So gelees, so gedoen!
Ons paspoorte was eerste ingepak, so ook alle nodige dokumente vir die grenspos wanneer ons met die boot en Gys Pitzer Motors se Ford Ranger daardeur beweeg. Ons het vroegoggend vanaf Pretoria die N4 gevat, daarna Carolina, Amsterdam, toe Piet Retief. Vanaf Piet Retief is dit ’n stilpad wat na die Mahamba grenspos lei. Die grenspostye is 07:00 tot 22:00.




Ons is in Swaziland, ‘skuus, eSwatini!
Ons het vooraf op Google Maps gekyk hoe ons van Mahamba grenspos na Lavumisa grenspos moet ry, net vir ingeval daar ’n sein probleem mag wees. Daar is net een afdraai, verder is die pad reguit grenspos toe. Distansie vir die rit is 106 km, en neem ongeveer een-en-‘n-halfuur.
Voor ons die onbekende pad toe vat, besoek ons eers die publieke badkamers by die grenspos. Mens weet nooit of daar gou weer ’n geleentheid gaan wees nie. Ons merk ook dadelik op dat die brandstofpryse goedkoper is as in SA, so ook is daar tye wanneer die motorhawe oop is, 06:00 tot 22:00 …!
Die pad was absoluut ’n plesier om te ry – my organe het nie rondgeskud nie, en daar was ongelooflik min voertuie, wat nog te praat van trokke, en geen slaggate nie! Donkiekarre en mense wat geloop het was daar wel, maar minimaal. Die lande was groen en oop!


Die owerhede het ons met beide togte heen-en-weer gestop, maar die beamptes was heel vriendelik. Bestuurderslisensie word gevra, ons word dan gegroet op ons van soos hulle dit lees, en dan noem hulle, hul eie van sodat ons kan weet met wie ons praat. Die belangrike word ondersoek soos die lisensiedisket op die voorruit, hoeter wat kan blaas (!) en ligte wat werk. Dis dan veilig om weer te ry en hulle groet hoflik.




Die pad terug vanaf KZN na Mpumalanga deur Swaziland …
Ons het met dieselfde pad terug Pretoria toe gery. Sal ons die pad weer vat? Natuurlik! Die distansie was ongeveer 20 kilometer langer. Ons sien uit na die volgende hengelekskursie by Jozinimeer!









[…] Die pad vanaf Pretoria, deur Swaziland na Sodwana Hengelklub. […]