fbpx
AdventureArgiewe | ArchiveBank AnglerVenues

VAALDAM: Fisherman’s Hangout

Kortwiek die klein knapies

Soos gepubliseer in Die Oewerhengelaar | Februarie uitgawe 148

Dis langnaweek en ons soek naarstigtelik na ‘n plek waar ons ‘n bietjie kan wegbreek.Dit moet ‘n plek wees waar ons kan ontsnap van die stadsgeraas, in veiligheid die natuur kan geniet, in ‘n gerieflike chalet kan tuisgaan, en van die stoep af met ‘n vroeë-oggend koffie of laat-middag drankie in die hand ons poliesmanne kan dophou. Meer nog – ons wil nie voortdurend vashaak en stroppe verloor nie… en daar moet natuurlik vis wees!

Is dit nie dalk té veel gevra nie? Met vakansieoorde wat gedurende skoolvakansies stampvol is en oewers wat óf onveilig geword het, óf toegegroei is deur hiasinte, óf vol slyk is, óf een na die ander strop breek, is die opsies beperk. Heel toevallig hoor ons van ‘n kansellasie by Fisherman’s Hangout naby Frankfort in die Vrystaat. Ons bepreek dadelik, want dis hier waar ons voorheen in gerief en veiligheid gehengel het, mooi karps, spieëlkarps, moddervis, geelvis en babers gevang het, en ek een oggend vroeg ‘n rekord graskarp van 7kg aangetree het.

Die oord bied ses luukse chalets wat elk ses mense slaap. Elke chalet beskik oor ‘n goed toegeruste kombuis, mooi badkamer, gerieflike sit-eetkamer met DSTV, ‘n stoep en ‘n braaiplek vanwaar jy die sonsondergang kan bewonder terwyl jy ‘n vleisie oor die kole braai.  Die terrein word mooi in stand gehou, en daar is ook ‘n swembad waarin jy kan afkoel. Die oewer is boonop pragtig skoon, selfs noudat die water heelwat opgestoot het. Daar is ook min vashaakplek, en ons weet die Vaaldam het mooi vis. Ons het dus alle rede gehad om na ‘n fustrasie-vrye naweek uit te sien.

Daar aangekom, hengel ons soos altyd met die Super MacPac en toets ook twee nuwe byvoegings tot ons reeks, ‘n botter-vanielje dip en ‘n geurige kerrie-dip wat ‘n treffer is saam met ons nuwe jumbo kerrie-floaties. Ons het ook jumbo-variasies van ons floaties saamgebring om uit te probeer. Gou kon ons nie voorbly met stroppe laai soos die visse elke kombinasie verslind het nie.  Ongelukkig was dit deurgaans klein vissies wat gebyt het. Dit het ons voor ‘n nuwe uitdaging te staan gebring: óf ons gebruik die geleentheid om tempo-hengeltegnieke te oefen deur soveel moontlik kleintjies te vang, óf ons beraam planne om die grotes tussen die kleintjies te gaan soek, óf ons gee op en gebruik die naweek bloot om te rus en saam met ons vriende, die Dorflings van Boksburg, te kuier.

Ons is egter nie mense wat opgee nie! Johan Dorfling het die eerste opsie gekies en sy tempo-hengeltegnieke so opgeskerp dat hy tops sou eindig indien dit ‘n kompetisie was. Die res van ons het opsie twee gekies en die een plan na die ander begin toepas om te sorg dat die klein karpies NIE byt nie. Ons het eerstens wegbeweeg van ons aas wat onmiddelik byte geproduseer het en veral soet dippies begin vermy. Maar die klein karpies kon selfs nie die dippies wat nie so lekker ruik nie weerstaan nie.

Johan behaal sy Pb met die mooi moddervis.

Vervolgens het ons groter ase begin gebruik en veral die nuwe jumbo floats in ons reeks begin inspan om groter vis te lok. Die gevolg was dat die klein vissies wel ietwat stadiger begin byt het, maar hulle het nie opgehou nie en die grotes was steeds nêrens in sig nie. Daar was egter een uitsondering, naamlik ‘n 15kg baber wat die aand om half-agt aan Frik se jumbo kerrie-float op ‘n klein hoekie gebyt het en vir groot aksie en opgewondenheid langs die oewer gesorg het.

‘n Ander tegniek wat ons probeer het namate ons elkeen ‘n redelike voerkol opgebou het, was om net oor die voerkol te probeer gooi om die groter visse wat vermoedelik op die rand van die voerkol rondgeswem het, te probeer teiken. Ook dit het nie die gewenste uitwerking gehad nie, en dit was steeds ons en die klein karnallies wat mekaar besig gehou het.

In desperaatheid bel ons toe een van die ‘groot manne’ om raad te vra. Nee, hoor ons, ons moes maar aanvaar dat ons nie dié naweek groot visse sou vang nie, omdat die kleintjies dié tyd van die jaar baie honger is, ywerig enige aas voor die grotes wegraap en dus noodwendig ons hengelervaring sou domineer.

Hoewel ons die meriete van hierdie teorie kon insien, was Frik vasberade om die klein vissies te uitoorlê.  Toe een van sy lyne, wat ‘n vriendelike buurhengelaar ongeveer 200 meter ver met ‘n aasbootjie ingeneem het, onverwags ‘n 4 kg vis oplewer, het hy besluit om sy ander strop met ‘n swaarder sinker en kleiner voerbal te laai. Hy het een klein knoffelfloatie op die hoekie gesit en die floatie in die voerbal gedruk om windweerstand te verminder en die nuuskierigheid van ‘n groter vis te prikkel. Die aas is toe afgerond met ‘n bietjie kerrie en botter-vanielje dip op die voerbal voordat hy dit met alle krag sowat 135 meter ver ingegooi het. Groot was die skok langs die oewer toe sy voerbal feitlik langs ander hengelaars se inroeimerker land, en nog groter die verbasing toe hy ongeveer ‘n uur later ‘n tweede pragtige 4 kg-karp land.

Uit hierdie ervaring het ons geleer dat dit ‘n mens loon om die regte houding in te neem wanneer jy voor ‘n uitdaging te staan kom; dat probleme daar is om opgelos te word solank jou planne net nie opraak nie; dat hengelaars se behoeftes verskil en dat daar altyd verskillende opsies is om uit te probeer; meer nog – dat ‘n mens wel die klein knapies kan kortwiek as jy slim te werk gaan.

Mag julle elke uitdaging hierdie jaar positief en kreatief aanpak en dit in ‘n leerervaring omskep wat sowel jul sport as jul lewens in die algemeen sal verryk. Lekker hengel!


Vangste by Fisherman’s Hangout: Karp, graskarp, modderbek en geelvis was oor ‘n naweek gevang.


  • Kontak Linda gerus by: 083 411 7529

Related Articles

Close