
VAALDAM: Visstropery deel 1
Inleiding, Vaaldam en Omgewing , Waar en Wanneer
Die skokkende realiteit van visstropery met onwettige kiefnette in die Vaaldam. Omdat visstropers die nette swak anker, word die nette tydens sterk wind losgeruk wat dan in die dam ronddryf waar dit ’n vernietigende impak op visse het. In die voorgrond, regs, is ’n groot grootbek-geelvis, waarvan die res groot karpe is. Die vlak van verrotting dui aan dat hierdie net reeds langer as ’n maand in die dam rondgedryf het.
WOORDE: Dr. Leon Barkhuizen FOTO’S: Verskaf
Inleiding
Visstropery en die onwettige gebruik van kiefnette (ook bekend as stelnette), is nie uniek tot Suid-Afrika nie, maar kom wêreldwyd voor. Met die verswakkende ekonomiese toestande en hoë vlakke van werkloosheid, wend al hoe meer mense hul tot visvang as ’n bron van voedsel, of inkomste. By die meeste staatsdamme in die land, het die getal bestaansvissers (kleinskaal vissers) die afgelope jare skerp toegeneem. Rekreasie hengel bly egter die grootste sektor van binnelandse visserye wat miljoene rande direk en indirek tot die land se ekonomie bydrae en wat duisende werksgeleenthede skep en ondersteun.
Gedurende 2007 het navorsers aanbeveel dat Suid-Afrika ’n nasionale binnelandse varswatervis beleid benodig vir die bestuur, bewaring en gebruik van varswatervisse, met die fokus op rekreasie en kleinskaal visserye. Die proses om so ’n beleid op te stel, het in 2016 begin en gedurende Augustus 2021 was die “National Freshwater (Inland) Wild Capture Fisheries Policy” (NF(I)WCFF) deur die kabinet goedgekeur. Dit was gevolg deur die uitreiking van die “National Implementation Plan” vir die NF(I)WCFF. Daar lê egter nog ’n lang pad voor om die beleid en implementerings plan met spesifieke doelwitte in werking te stel. Een van die doelwitte is die hersiening van wetgewing van al nege provinsies in die land rakende die gebruik en bewaring van varswatervis. Totdat die proses afgehandel is, geld elke Provinsie se natuurbewarings ordonnansies, beleide en regulasies vir die bewaring en bestuur van varswatervis egter nog steeds.
Aangesien Suid-Afrika se landsgrense betreklik poreus is, is daar die afgelope jare ’n toename van onwettige immigrante vanaf verskeie Afrika lande wat na ’n beter heenkome in Suid-Afrika kom soek. Werkloos en sonder ’n inkomste, gebruik baie van die immigrante hul kennis en ondervinding van visvang in hul land van herkoms, om vis met metodes wat in Suid-Afrika onwettig is, te vang. Plaaslike persone word by die onwettige aksies betrek om te help om die vis na groter stede en dorpe te vervoer waar dit verkoop word, aangesien die immigrante nie oor eie vervoer beskik nie.
Geleë op die grense van drie provinsies, naamlik die Vrystaat, Gauteng en Mpumalanga, is die Vaaldam se visbevolking die afgelope jare ’n teiken van visstropers. Verskeie vis anti-stroop operasies is sedert 2012 hoofsaaklik in die Vrystaat gedeelte (Wilgerivier) van die dam gedoen, maar dit het slegs een of twee keer per jaar plaasgevind. Sedert 2020 het visstropery krisis vlakke bereik, dat dit genoodsaak het dat meer operasies gedoen moes word.
In ’n reeks van twee artikels sal die skokkende realiteit en omvang van visstropery by die Vaaldam uitgelig word. Inligting sal verskaf word oor waar in die Vaaldam visstropery hoofsaaklik plaasvind en hoe die visstropers te werk gaan. Die rol van plaaslike inwoners, grondeienaars en hul werkers wat visstropers help, sal ook uitgelig word. Maar daar is hoop. Deur uitstekende werk van verskeie eenhede binne die Suid Afrikaanse Polisiediens in die Vrystaat, en veral die Oranjeville Polisiestasie en personeel, en die Groenskerpioene in die Vrystaat, is daar al vele welslae behaal. Die foto’s in hierdie inleidende en opvolg artikel gaan menige hengelaars ontstel, maar dit toon die realiteit van dit wat tydens vis anti-stroop operasies gevind word. In die opvolg artikel sal inligting verskaf word oor wat hengelaars, inwoners en grondeienaars rondom die Vaaldam kan en moet doen as gevalle van visstropery opgemerk word. Dit is egter belangrik dat die publiek nie reg in eie hande neem nie aangesien dit uiters gevaarlik kan wees.

’n Onwettige kiefnet vol dooie moggels en karpe.
Die Vaaldam en omgewing
In terme van oppervlak area, is die Vaaldam die tweede grootste dam in Suid Afrika, en die vierde grootste dam in terme van totale volume by vol kapasiteit. Die dam se eerste fase is gedurende 1938 voltooi, waarna die damwal gedurende die vroeë 1950s en in 1985 verhoog is wat die kapasiteit en oppervlak area aansienlik vergroot het. Die damwal wat 3,3 km lank is, is 63 m hoog. By vol kapasiteit, beslaan die dam ’n totale oppervlak van 320 km2 met ’n totaal volume van 2 609 miljoen m3 water. Die grootste gedeelte van die opvanggebied van amper 39 000 km2 is in die Vrystaat geleë. Buiten die Vaalrivier, word die dam deur die Wilgerivier, Kliprivier, Molspruit en Grootspruit asook verskeie ander strome gevoed. Om genoegsame water vir Gauteng te verseker, word water vanaf die Lesotho Hoogland Water Skema na die Asrivier en Liebenbergsvleirivier gestuur, waar laasgenoemde naby Frankfort by die Wilgerivier aansluit. Sterkfonteindam naby Harrismith in die Oos Vrystaat is ’n noodreserwe en sodra Vaaldam se vlak tot kritieke lae vlakke daal, word water vanuit die dam in die Nuwejaarspruit losgelaat wat later ook by die Wilgerivier aansluit.
By vol voorraad is die totale lengte van die damoewer meer as 800 km lank en is dit een van die langste damoewers in Suid Afrika. Grondgebruik aangrensend tot die dam wissel van luukse herehuise, lodges, gastehuise, vakansie oorde, vakansie woonstelle, seiljagklubs, hotelle, kleinhoewes, plase, en onderverdelings van plase en plotte waar “visserdorpies” tot stand gekom het. Vaal Marina, Oranjeville, Metsimaholo, Deneysville en Refengkgotso is die grootste dorpe aangrensend tot die dam.
Die Vaaldam is een van die gewildste hengeldamme in Suid-Afrika. Plaaslike klub, provinsiale, nasionale en internasionale hengeltoernooie vind gereeld hier plaas. Daar is meer as 40 erkende hengelareas rondom die dam geleë, met van die gewildstes Cilliers, Krugers, Biermans, Ardenza, Heartsease, Wilgedraai, Moolmans, Togo, Steyns en Moolmans, om maar net ’n paar te noem. Duisende rekreasie hengelaars, kleinskaal en bestaansvissers vang gereeld hier vis, met karp, skerptandbaber, graskarp, onderbekke en swartbaars die voorkeur hengel spesies.
Grondeienaars aangrensend tot die dam en hoe sommiges visstropery aanhelp.
Heelwat plase rondom die Vaaldam word nie permanent bewoon nie, met slegs een of twee werkers wat permanent daar bly. Gevalle is aangemeld waar dié werkers die visstropers toegangsfooie van tot R800,00 per dag vra om deur die plase na die dam te ry. Gevalle is ook aangemeld waar eienaars van luukse huise langs die dam buitelanders in diens neem wat die eiendomme moet oppas. Die buitelanders verdien nie veel nie, en wend hul dan tot visstropery om hul besig te hou en vir ’n ekstra inkomste. Dit moet duidelik gestel word dat hierdie gevalle nie algemeen voorkom nie, en dat die meeste grondeienaars, wetstoepassings instansies behulpsaam is. Wat kommerwekkend is, is waar visstropers soms toegang tot plase geweier word, die grondeienaars gedreig word dat hul plase afgebrand sal word. Gevalle is ook aangemeld waar persone deur visstropers met die dood gedreig is.
Waar en wanneer vind visstropery in die Vaaldam plaas?
Gedurende die somermaande, veral Desember en Januarie, wanneer daar baie meer aktiwiteite in en om die Vaaldam plaasvind met duisende vakansiegangers, watersport entoesiaste en hengelaars, is daar ’n redelike afname in visstropery gevalle. Gedurende hierdie tye is daar honderde vaartuie, en “oë” op die dam. In die kouer winter maande, wanneer watersport en hengel aktiwiteite afneem, is daar ’n redelike toename.
Visstropery en die stel van onwettige nette, vind hoofsaaklik in areas van die dam plaas waar daar geen permanente inwoners op plase bly nie. Daar word selde onwettige kiefnette aangetref in areas waar vakansie oorde, permanente bewoonde plase, dorpe en “visserdorpies”, voorkom. Die areas wat die meeste deur visstropers in die Vrystaat gedeelte van die dam geteiken word, is die Peninsula, Moerdersdeel, die baaie in die omgewing van Cilliers en Kees van der Walt hengelareas, die baaie wat vorm waar die Kliprivier in die Vaaldam invloei naby die Inloop hengelareas, in die Kliprivier self, in die omgewing van Leeuplaas hengelarea, veral aan die Mpumalanga kant van die dam, in die omgewing van Oosthuizens hengelarea waar kilometers lange kiefnette oor die breedte van die dam gespan word.
Een van die grootste probleem areas is langs die gronde van die Universiteit van Johannesburg langs die R549 waar reeds duisende meters onwettige kiefnette en verskeie roeibote verwyder is, en waar visstropers in die leë en ongebruikte vakansie huise visse slag en droog. Die bolope van die Vaaldam by Villiers is nog ’n groot knelpunt waar visstropers nette regoor die breedte van die rivier span wat ’n ondeurdringbare hindernis vir vis wat stroomop of stroomaf beweeg, vorm.
Hoe gaan visstropers te werk?
Ongeveer 95% van die onwettige kiefnette wat tydens vis anti-stroop operasies verwyder word, is die goedkoop Chinese-vervaardige plastiek monofilament nette wat van baie dun plastiek gare gemaak word. Die maasgrootte van die nette wissel van 50 tot 180 mm, hoewel nette met ’n 110 mm maasgrootte hoofsaaklik gevind word. Die maasgrootte van kiefnette word bepaal, deur die twee punte van die diamant vormige opening styf te trek en die afstand tussen die twee knope te meet. Hoe groter die maasgrootte, hoe groter en swaarder is die visse wat gevang word. Dit is dan ook die nette met die baie groot maasgroottes wat hoofsaaklik karp en grootbek-geelvisse vang.

Gedurende Augustus 2023 is ongeveer ’n kilometer se onwettige kiefnette met honderde dooie en verrotte visse op die oewer naby Kees van Walt hengelarea gevind. Die stropers het oornag die nette gestel, maar is vroeg die volgende oggend deur die grondeienaar gesteur. Die stropers het weggehardloop en die nette met vis net so gelos.

Om te verhoed dat stropers die nette weer gebruik, en omdat al die visse reeds erg verrot en uitgedroog was, word alles verbrand.
Volgens inligting is daar ’n vrou van Mosambiek wat die nette in die Vaaldam area verkoop, hoewel sommige visstropers nette by Chinese handelaars in Gauteng koop. Om die nette te laat dryf, word klein blokkies wit polistireen aan die bolyn, wat goedkoop baaltou is, vasgemaak. Vorige jare was enige soort en grootte plastiekbottels as dobbers gebruik. Aangesien dit maklik raakgesien word, word dit nie meer gebruik nie hoewel die punte van die nette soms nog met bottels gemerk word. Plastieksakkies gevul met sand word as gewigte aan die onderste baaltou vasgemaak om die net oop te trek sodat dit soos ’n gordyn in die water hang. Twee-liter koeldrankbottels gevul met sand of bakstene en klippe word as ankers gebruik. Soms word een punt van die net aan ’n klip of takke op die oewer vasgemaak. Omdat daar sedert April 2022 meer vis anti-stroop operasies plaasgevind het waartydens kilometers se nette verwyder was, het stropers begin om die nette onder die wateroppervlak “weg te steek” deur die gebruik van slegs enkele dobbers wat onder die oppervlak dryf.

Plastieksakkies gevul met grond word as gewigte aan die onderlyn van die nette geheg, wat die net ooptrek sodat dit soos ’n “gordyn” in die water hang.

Honderde meters se onwettige kiefnette wat uit die bolope van die Vaaldam by Villiers verwyder is.
Lamlendige en stokou roeibote, seilplanke en kano’s word gebruik om die nette te span. Die nette word soms parallel met die oewer gestel, of dit word reguit in die dam ingeroei. Sedert 2022 is al op meer as 40 roeibote en kano’s beslag gelê. As gevolg van die swak toestand van die vaartuie en omdat stropers nie lewensreddingsbaadjies dra nie, het menige al verdrink.
Kiefnette word in die aande, as dit sterk skemer is, gespan en word die volgende oggend vanaf 04:00 nagegaan of uitgehaal sodat niemand die aksies kan sien nie. Die visse word in groot sakke gepak, of op gehuurde bakkies gelaai waarna dit in Gauteng teen ongeveer R30 per kilogram verkoop word. Ondervragings van die stropers het onthul dat die meeste van hulle die vis aan Chinese in Gauteng verkoop.
In die Vaalrivier by Villiers waar kiefnette oor die breedte van die rivier gespan word, gebruik visstropers ’n katrol sisteem om nette heen en weer oor die rivier te trek. Die katrolle, met ’n ysterdropper of stuk hout in die as gedeelte, word aan die Mpumalanga kant van die rivier geplaas. Baaltou word daarom gedraai en die nette word dan heen en weer deur die rivier getrek om gestel te word, en om vis uit te haal sonder dat ’n boot benodig word.
In Deel 2 van die artikel wat in die volgende uitgawe sal verskyn, sal die vis anti-stroop operasies wat sedert 2023 op ’n gereelde basis plaasvind, bespreek word. Die impak van die gebruik van die onwettige kiefnette en visstropery op die Vaaldam se visbevolking sal uitgelig word en voorlopige resultate van ’n navorsingsprojek wat in 2023 geloods is, sal bespreek word.
Die vraag wat verseker op elke hengelaar se lippe is, is tot watter mate visstropery en die onwettige gebruik van kiefnette hengelaktiwiteite beïnvloed. Deel 2 van die artikel sal afgesluit word met inligting wat die publiek, binne die raamwerk van bestaande wetgewing, mag en kan doen in gevalle waar onwettige kiefnette in die Vaaldam gevind word of indien visstropers teëgekom word.

’n Bron van groot kommer is die hoeveelheid skaars en bedreigde grootbek-geelvisse wat reeds dood is, wat gereeld in die nette gevind word. Hierdie spesie is op die “Threatened or Protected Species (TOPS) List” as ’n beskermde spesie gelys, en die vang, in besit hê en doodmaak van die spesie is verbode.
*Dr. Barkhuizen is ’n navorsings genoot aan die Departement Dierkunde en Entomologie, Universiteit van die Vrystaat.
[…] In Deel 1 (vorige uitgawe – Red) is gefokus op waar en wanneer visstropery plaasvind en hoe die stropers te werk gaan, In Deel 2 word die verskillende operasies wat deur wetstoepassings instansies gedoen is, bespreek, terwyl voorlopige resultate van ‘n navorsings projek oor die impak van visstropery op die visbevolking en veral die bedreigde grootbek-geelvis, uitgelig word. Die reeks word afgesluit met inligting oor wat die publiek, binne die raamwerk van huidige wetgewing, kan en mag doen sou stropers en onwettige nette in spesifiek die Vaaldam teëgekom word. […]