VARSWATER: Nite Hawk-Avonture
Bepeinsings op 'n winter-oewer
WOORDE & FOTO’S: Jurie du Toit
Die paar oewerhengelaars wat mens op ‘n koue oggend in Julie by die dam ontmoet, het goeie redes om daar te wees. Al die redes kom neer op basies dieselfde – dis vir ‘uitkom’ of ‘wegkom’ … van iets! Het nog nooit iemand hoor sê: “Ek is hier net vir die vis” nie. Het my laat dink aan my eie redes om op ‘n koue wintersdag by die dam te wees …
Terwyl ek saam met my hengelmaat vir die dag, boogskietkampioen en boogjagter, en ook my neef, Benito van Leeuwen, sit en wag vir die son om sy warmte vir die nuwe dag te wys, sien ek klein wasemwolkies vanaf die swaar ryptapyt op die oewer opwarrel. Soos rook. Woorde uit ‘n Koos Kombuis-liriek eggo in my kop … “memories of gardens, memories of war …”
Ek is ook nie by die dam net vir die vis nie, maar met bevrore vingers brei ek die mieliebom en laai die hoeke. My stroppe met hoeke en aas lyk goed en die onderwater hinderlaag is gestel. Ek wag, en dink en onthou …
Ou mans het ‘n leeftyd se herinneringe. Maar net herinneringe. Die meeste mense in die uithoeke van hulle gedagtes is oorlede, maar die leë eensaamheid van hul lewens is voortdurend teenwoordig, ‘n dowwe pyn in die bors.
Morbiede gedagtes van verlies en spyt draai agter my oë en ek onthou my ma se sagte hande en gerusstellende stem, dat “alles gaan reg wees”. Die opkomende son maak die bevrore land stadig warm en op die oewer oorkant roep voëls na mekaar. Die damoppervlak lê seepglad en is verruklik mooi.
Laat die oggend gewaar ek die ruk-ruk van ‘n bytende vis op die poliesman. Die swaarmoedigheid van my morbiede gedagtes verdwyn in ‘n oomblik. Ek fokus, ek het die vis nodig! Die helderrooi poliesman lig stadig, en toe trek die lyn reguit en stroop van die katrol af teen ‘n verstommende spoed. Die sperrat van my outydse Nite Hawk-katrol skree en dis vis is aan!
Soms hou ek ‘n paar visse wat ek vang maar meerendeels gee ons die visse hul vryheid. In die winter is hulle lywe so koud om aan te raak dat die impuls om my hand weg te ruk oorweldigend is. Dié wat ek loslaat, dra ek met albei hande terug water toe. Soos lewende, silwerwit lyke glip hulle weg en verdwyn in die dieptes in.
Dan voel ek tevrede, ervaar vrede daarmee en voel herskep. Ek veronderstel dit is hoekom ons ‘ontspanningsvissers’ genoem word. Die dam en die visse is dokters. Ons gaan daarheen op soek na genesing en balans en soms net om dinge en mense te onthou wat ons eens liefgehad het. Ons onthou ook dat ons brose, sterflike wesens is wat soos bedelaars voor die Here en sy Skepping staan … en om te onthou dat ons uiteindelik geroep is om vissers van mense te wees. Ons misluk soms daarmee, maar dit is die mees lonende visvanguitstappie, ‘n geskenk, en ons is dankbaar vir die voorreg om deel te kan wees van ‘n hoër bewussyn. En diep binne-in weet ons – alles gaan reg wees!
The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!