Vlieghengel is Opwindend – 5

Dit is vroeg in die oggend op ‘n warm lentedag; ek staan vasgenael in kniediep water met opgehoue asem en wag dat die baber nader kom. Van ver af het ek hom reeds gesien, met snorbaarde bo die watervlak kom hy soos ‘n slang met kronkelbewegings aangeswem! Ek sak af op een knie om minder sigbaar te wees en toe hy so tien treë van my af is, skiet ek die pouveervlieg uit. Die vlieg val voor hom en effens links, die volgende oomblik hap hy twee, drie keer na die vlieg. Sy kop is halfpad uit die water en ek hoor hoe klap sy kake.