WOORDE: Werner Lubbe | FOTO’S & VIDEO: Jessica de Villiers
Soos die winter op ons toesak en die dae korter word en die nagte kouer, begin die hengel verander, en is dit nodig om ‘n kopskuif te maak, ten einde aan te hou om vis in die net te sit. Saam met Ruan Erasmus het ek die vlak waters van Flamingo Bay, Vaaldam gaan aandurf om ‘n mooi videoprogram bymekaar te sit en vertel van ons sukses.
Dis op ‘n koel wintersoggend toe ons indraai by Flamingo Bay, net toe die son sy kop uitsteek. Die hek na die oord is op die pad van Deneysville af, net na die afdraai Oranjeville toe. https://maps.app.goo.gl/uiinWNu44EZ3YXbY8
Aan die begin van die hengelsessie maak ek ‘n paar gooie om die diepte te bepaal deur die tyd te meet hoe lank die gewiggie vat om die bodem te bereik. Hier kon ek slegs ongeveer 1,5 sekondes kry op 100m. Ons besef die water is baie vlak, en dit mag dalk ‘n gooidag word.
In die vlakker winterwaters, verkies ek ‘n fyner voer en sit dit weer deur ‘n fyn sif. Daar moet geen partikels in wees nie, en ‘n klein asie moet die grofste op die bodem wees.
Ruan begin sommer van die staanspoor af met ‘n dieper gooi en teiken daardie 120m-plus tipe waters.
Ek gebruik my feederstokke, maar plaas hulle op mikpenne en begin op 70 en 100m. Die gedagte is om die 70 meter veral redelik hard te hengel en baie akkuraat op ‘n kol te bly, en die 100m so effens langer te laat lê.
Ruan is besig om baie ernstig te gesels met die kamera oor die eerste vis wat hy aan het, toe ek hom verras hier van agter af en hy behoorlik sy woorde wegskrik – dis tog so lekker om ook ‘n bietjie pret te hê!
VIDEO
Binne 10 minute is die eerste vis aan, wat Ruan daar ver op 120m gaan haal het.
Dis ‘n klein graskarpie wat die enkel floatie opgetel het, maar die rekening is oop.
Die beginkombinasie is ‘n enkel Honey-floatie op die een hoek, dan ‘n Juana-floatie en ‘n degie, met Duiwelsdrek en Rooi GP op die bal.
Ruan se tweede gooi lewer ‘n mooi muddie op en ek reken dat as hulle daar binne wei, sal hulle nader ook wei. Muddies is nie bang om in 1-1,5m water te wei nie.
My eerste gooi op 100m lewer niks op in 15 min nie en ek gooi hom weer. Twee minute later is daar lewe en ‘n mooi muddie is aan.
Ek gebruik ‘n ligte skepnet met ‘n lang handvatsel, veral vir die kleiner karpe en muddies, dit maak alles net makliker en vinniger.
Op die dieper lyn hengel ek ‘n klein 5mm garlic pop-up van Fish Clinic , dit tel die hoek mooi op. Ek het later in die dag ‘n paar visse in die lyf gehaak met hierdie metode, wat my laat dink die hoeklyn van 10cm is dalk te lank, en moet ek ‘n 5-6cm ene oorweeg.
Die mini pop-up word op ‘n klein spike gesit, wat aan die hoek se steel gebind is met baie dun braid, om die beweging te gee. Dit is redelik hard en jy kan ‘n paar visse daarmee vang. Ek sit so 2-3 maaiers op die hoek self. Na elke vis hoef jy net hulle te vervang.
Ek sit eers die voer op die feeder, dan weer voer in die vorm, dan die asie op die voer.
Daarna druk ek die boonste laag voer vas, en die storie is gereed om te gooi, met die asie binne-in die bolletjie voer.
Met die method feeder val die bal elke keer met die voer na bo, en as die voer oopmaak, is die asie daar.
Die feit dat die hoek die muddie buite die mond haak, kan ‘n indikasie wees dat die hoeklyn effens te lank is.
Maaiers is baie effektief veral vir moddervis, en kan dood of lewendig gebruik word. Wanneer lewendige maaiers gebruik word, is dit egter noodsaaklik dat ‘n geventileerde bakkie gebruik word, sodat hulle vars en belug kan bly.
Die sagte feederstok is nie net baie akkuraat nie, maar help ook om die vis baie sagter te speel en kan ‘n kleiner hoekgrootte met vertroue gebruik word.
Muddies kom gewoonlik baie maklik in tot hier vlak voor jou en vlieg dan vinnig om. Maak seker dat jou rem los is, of die katrol gestel is om agteruit te kan draai. Met die stok in die regterhand, is dit ook maklik om die bail arm maklik te reguleer sodat dit op die binnekant van jou vingers val en nie op die agterkant nie.
Met slegs ‘n paar maaiers op die hoek, word die moddervis meeste van die tyd netjies binne-in die mond gevang.
Onder in die feeder gebruik ek ‘n effense growwer voer, sodat daar so klein bietjie meer growwigheid agterbly.
Op die bokant van die feeder gebruik ek ‘n baie fyn voer wat vinnig blus. As die vogtigheid presies reg is, dan kan die vorm baie hard gedruk word en die bal blus steeds baie vinnig. Binne slegs ‘n minuut of twee, lê die asie mooi pragtig in die middel van ‘n klein hopie voer.
Maaiers en graskarpe loop ook ‘n baie maklike pad saam, hulle eet maaiers baie maklik en selfs die ou grotes is baie lief daarvoor. Hier het een van die jongeres die asie opgetel.
Alhoewel dit winter is, kom daar dikwels ‘n paar mooi babers uit, en dis altyd die moeite werd om hulle te teiken. Ruan gebruik twee groot hoeke waarvan die onderste een weliswaar op ‘n haar gebind is onder die hoek wat die werk moet doen. Die doel van die tweede hoek is hoofsaaklik om die aas te dra.
Die aas het skaars geval en die poliesman is net opgesit, toe begin hy bons. Maar hy loop nie soos ‘n groot baber nie en Ruan reken dis dalk ‘n jong baber wat die aas opgetel het. Nietemin slaan hy vas en tot sy verbasing is daar ‘n moddervis aan die hoek. Dis wel in die lyf gehaak, maar hy merk op dat vis bly maar ‘n nuuskierige ding. Daardie een het nou kom kyk wat hier gebeur het en is in die proses in die lyf gevang.
Op ‘n stadium raak dit so besig dat Ruan moet kom help en hy tel die ander stok op. Die katrol op die linkerhand voel vir hom vreemd en ek lag lekker. Lees ook gerus die artikel rondom dominante hand hengel hier: https://foranglers.co.za/casting-and-reeling-left-or-right-what-is-your-view/
Winterhengel op sigself is ‘n uitdagende besigheid, en as jy die voermengsel nie reg het nie, kan jy ‘n bloutjie loop. Ruan verduidelik hier hoekom hy die Super Cast X-treme Super Fine gebruik. Met minder growwe partikels bly jou asie die grootste op die bodem, en tel die vis eerder jou aas op as om dikgevreet te raak van die voer. Die Super Fine hou die geur daar, en hou die vis se belangstelling, maar daar is nie veel om te eet nie.
Ten einde groter vis in die net te kry, het altwee van ons probeer om alternatiewe planne te maak. Ek gebruik ‘n groter wurm met die lyn op saam met die maaiers om sodoende ‘n groter aasprofiel aan te bied.
Alhoewel dit ‘n paar karpies gebring het, was hulle maar nie veel groter nie.
Ruan gebruik ‘n gumtree-pit om die groter vis te teiken. Hy haak dit op die hoek en sny dan die onderste puntjie oop.
Daarna druk hy dit terug in die bol, en noem dit ‘haasoortjies’. Hy doen dit aan die bokant, sodat die asies nie so maklik onder die bol beland nie.
Hierdie metode het beter gewerk, en Ruan het wel ‘n paar mooier karpe daarmee aangekeer – bygesê hier by die 145m afstand. Ons sluit die dag af met ‘n mooi sak vis.
The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!