fbpx
[bsa_pro_ad_space id=2]
Bank AnglerFishing Tips

Watter Katrol Is Reg Vir My?

Die vastespoelkatrolle (koffiemeulkatrolle) word vervaardig met een van twee remstelsels, of ’n kombinasie of variasie daarvan. Die twee hoofgroepe is “Front Drag” en “Rear Drag”, waarna daar dan ook ’n “Rear Quick Fighting Drag” is en twee onderskeie “Bait Feeder” of “Baitrunner” sisteme. Dit is belangrik om al die verskille en aanwendings te verstaan voor jy ’n besluit maak watter katrol toepaslik is vir jou gebruik.

Die “Rear Drag” katrol

Die hele remstelsel is ontwerp om vanaf die as te opereer en die spoel word aan die as gekoppel met ’n dwarspen wat seker maak die spoel en as is ’n eenheid. Die remmeganisne is gesetel binne-in die katrol se romp en die verstelling is aan die agterkant by wyse van ’n maklik bereikbare knop wat slegs gedraai kan word om sodoende die spoel stywer of losser te laat roteer. Die stelsel is eenvoudig om te gebruik en selfs terwyl ’n vis gespeel word is dit baie maklik om die verstellings te doen. Omdat die oppervlakte beskikbaar vir wrywing redelik beperk is, kan hierdie remstelsels nie groot remsyfers lewer nie en is dus meer geskik vir algemene hengel. Een van die voordele is dat dit egter baie maklik is om ’n afknipspoel ontwerp hiermee te integreer, en is dit omtrent standaard. Hierdie tipe katrol is ook ideaal vir beginners en ook relatief goedkoop.

Die “Front & Rear Drag Baitrunner” katrol

Hierdie tipe katrol het ’n “front drag” remstelsel op die spoel wat ook dan dien as die “fighting drag” en al die voordele van die “front drag” sisteem het. Terselfdertyd is hy ook toegerus met ’n “rear drag” sisteem en word daar deur middel van ’n hefboom tussen die twee opsies geskakel. Die voordeel is dat die agterste rem, wat ook die statiese rem is, dan eenmaal gestel en so gelos kan word. Slegs die voorste rem moet dan gestel word vir gooi en vir veg van die vis.

Die  “Baitrunner” katrol

Hierdie katrol is enig in sy soort en albei die remstelsels is agter in die vorm van twee knoppe. Die een is ’n ring en die ander is ’n knop en daar word tussen die twee geskakel deur middel van ’n hefboom, wat outomaties terugskakel na die vegrem as die slinger gedraai word. Die voordeel van hierdie stelsel is dat die spoel baie maklik in ’n oogwink aan en af geknip kan word. Dit is egter ook so dat die gebruik van die twee remme, en veral omdat albei agter is, kan sorg vir ’n mate van verwarring. In die volgende uitgawe bespreek ons die gebruik van hierdie katrol en die geïntegreerde remstelsel breedvoerig.

Die “Rear Fighting Drag” katrol

In beginsel en werking is hierdie katrol maar presies dieselfde as bogenoemde, maar ten einde hierdie losdraai en vasdraai vinniger te doen, is daar ’n addisionele knop met ’n pen wat met slegs ’n halwe of kwart omwenteling die katrol van heeltemal vas tot heeltemal los kan verstel. Al die beginsels van die “rear drag” katrol geld hier ook. In al drie die eersgenoemde gevalle word die rem dan ten volle vasgedraai as daar gewerp word, en los gedraai as die stok neergesit word. Daar bestaan dan net een opsie vir beide die statiese en dinamiese (fighting drag) remme en moet ’n goue middeweg altyd gesoek word. As die rem te los is kan die aanslaanproses problematies word en die uiteinde is dan gewoonlik dat die rem te styf gestel is, en wanneer ’n groot vis begin hardloop moet daar inderhaas geskarrel word om dit los te kry, en soms is die vis in die proses daarmee heen.

Die “Front drag” katrol

Hierdie variant het slegs een opsie van verstelling en dit is voor aan die spoel. Die verstellingsmeganisme asook die remstelsel self, wat bestaan uit ’n hele stel wasters van verskillende diktes en materiale, is gesetel in die spoel self en tussen die spoel en die katrol. Vanweë die ontwerp (groter raakoppervlak), kan die rem van hierdie variant ’n groter weerstand bied en ook baie gladder wees. Wanneer baie groot vis en veral sportvis geteiken word, is die “front drag” katrol dus baie gewild.

Tags
Close