Wolfi steel harte, en ruik vis!

ANIMALS IN WAR – LEST WE FORGET

WOORDE & FOTO’S: Lorna Botha

‘n Storie van bewusmaking en inspirasie

Wolfi sit heel gerieflik, knus en veilig ingeharnas in sy eie, pasgemaakte sitplek. Met sy veiligheidsbrille op is hy gereed en gewillig om die lang pad aan te durf – saam met sy eienaar, veteraansoldaat Roché Vermaak – om hulle storie met almal op hul reis te deel.

Tydens die onlangse Ramcat-hengeldag vir gestremdes wat by Irene Country Lodge in Centurion plaasgevind het, het Wolfi, die veterane-bystandhond soos ‘n wafferse BBP agterop Roché se motorfiets daar aangekom en almal daar teenwoordig laat ‘oee’ en ‘aah’. Die kinders was onmiddellik verlief, alhoewel aanvanklik ook bietjie versigtig vir die pragtige dier, tot hulle agtergekom het hy is maar net ‘n groot hond met ‘n sagte hartjie. Vir die meeste van die hengelaars egter, is Wolfi ‘n ou bekende.

Lees die volledige Ramcat-hengeldag se berig hier: https://foranglers.co.za/ramcat-hengeldag-vir-gestremdes/

As dit ruik soos vis …
Wolfi het al die aandag van die kinders, en grootmense terdeë geniet!


Die 13-maande-oue Wolfi is tans die ‘Ambassadeur vir alle diere gedood in oorlog’. Hy is ‘n Duitse-herdershond en is soos Roché se ander honde ten volle opgelei in aanvalswerk, spoorsny, ensomeer. Soos ander veterane-bystandhonde verteenwoordig Wolfi alle diere wat tydens oorlogvoering dood is. As ‘n veterane-bystandhond (veteran’s assistance dog) help hy Roché en ander veterane soos hy, om elke dag te cope. Wolfi is soos sy voorgangers betrokke by buurtwag- en opvolgaksies en is ‘n uiters intelligente hond wat alreeds baie in sy jong lewe vermag het.

Roché was deel van die magte wat gedurende die Bosoorlog van 1966-1989 geveg het. Hy het waargeneem dat die perde en honde wat dood is gedurende dié tydperk nie erkenning ontvang het nie. Hy self het in 1994 uit die SAPS K9-eenheid uitgetree.

In 2016 het hy met K9 Wilkia begin om gedenkdienste by te woon en seker te maak dat mense nie dié edele dieresoldate vergeet nie. Hulle is juis nou besig met ‘n gedenkmuur by die Voortrekker Monument om te verseker dat die dieresoldate se geskiedenis bewaar word. Die inwyding van die gedenkmuur vind plaas op 30 Maart 2025, op die herdenking van die datum waarop die eerste hond en hanteerder in 1972 in die Caprivi gesneuwel het.



Wolfi reis oral saam met Roché. Hulle deurkruis die land om die boodskap van die vergete ‘soldate’ uit te dra. Wolfi besoek ook veterane wat eensaam en siek is. Hy is altyd ‘n groot hoogtepunt vir die mense wat soms heeltemal vergete is. Wat ‘n besonderse storie. Mag Wolfi en Roché nog baie veilige kilometers reis en nóg meer harte aanraak en inspireer.

Vir meer inligting oor die veterane-bystandhonde of om betrokke te raak by die gedenkmuurprojek kontak gerus vir Roché Vermaak op 082 899 9286, of stuur ‘n epos aan rochever@gmail.com.

Wolfi se pasgemaakte sitplek- en harnasstelsel.
Reg vir die lang pad!


The latest digital edition of STYWE LYNE/TIGHT LINES is now available!

5 1 vote
Article Rating
Subscribe
Notify of
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments
Back to top button
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x